Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geweld is wyer as die individu

Ons het dit alles al vantevore gesien. Die woede, die voorblaaie, die briewe, die optogte en die beloftes. En dan verdwyn alles weer ná ’n paar weke.

Onthou Anene Booysen van Bredasdorp (2013), Reeva Steenkamp (2013) en nou Karabo Mokoena. Die aktivisme en voorblaaie oor geweld teen vroue word aangevuur deur die grusaamheid van die voorval.

Anene het ’n groepverkragting en verminking van haar liggaam oorleef, en is later dood. Mokoena is doodgemaak en toe verbrand. Hoe grusamer, hoe beter vir nuus.

Ek was die kommissaris vir die Kommissie vir Geslagsgelykheid wat die Anene Booysen-saak moes ondersoek. Ek het die gedenkdiens bygewoon waar politieke partye dit in ’n sirkus verander het en mekaar blameer het oor wapengeweld, ongeag die feit dat Booysen nie geskiet is nie.

Ek het die borgverhoor bygewoon, waar Lulu Xingwana, die destydse minister van vroue, kinders en gestremdes, op die trap voor die hof met haar vuis in die lig gestaan en skreeu het dat alle verkragters in die tronk moet verrot. Pres. Jacob Zuma het ’n Nasionale Raad vir Geslagsgeweld aangekondig, maar Xingwana kon dit nie aan die gang kry nie.

Die Booysen-geval is oorskadu deur die Reeva Steenkamp-moord en die ANC-vroueliga het dit goed gevind om die Booysen-saak te versaak vir die meer sensasionele geval van Steenkamp – weer eens met die strydkreet van “Oscar moet in die tronk verrot”.

Hierdie keer het ons ook ’n sosialemedia-veldtog, #MenAreTrash. Dit het begin as ’n manier vir vroue om hul stories van geweld te vertel. Dit is nodig dat ons die stories hoor. Maar is dit nodig om alle mans te stigmatiseer en potensiële bondgenote te vervreem?

Nie alle mans slaan en/of verkrag vroue nie, en dit is juis dié wat dit nie doen nie wat hulself moet uitspreek teen ander mans wat dit wel doen.

Ons moet egter oplet na die diskoers wat ons rondom geweld gebruik. Die afgelope naweek het ek die woord “scourge” (plaag) van geweld ten minste vyf keer raak gelees.

Om iets as ’n plaag te beskryf beteken dat iets gebeur sonder dat ons weet hoekom dit gebeur. Soos in die tien plae van die Bybel weet ons nie hoekom dit gebeur of wie verantwoordelik is nie. Miskien word ons gestraf.

Stereotipes rondom vroue se seksualiteit dra by tot ’n kultuur wat seksuele geweld regverdig.

Kyk maar hoe die familielede van die driejarige verkragte en vermoorde Courtney Pieters sê “die Here het kom haal wat syne is”. Hierdie soort narratief maak oortreders onsigbaar.

Die probleem is dat ons as ’n samelewing die oplossing soek in groter polisiëring, en straf en die uitlewering van oortreders aan die regstelsel.

Dit individualiseer die probleem en kyk verby die redes hoekom mans so gewelddadig optree. Dit is ’n sosiale probleem wat op ’n kollektiewe vlak aandag moet kry. ’n Deel van die probleem is die dubbele standaarde wat rondom seksuele gedrag vir mans en vroue geld. Dit is aanvaarbaar dat mans kan rondslaap, maar as vroue belang stel in seks word hulle “slette” genoem.

Dit is die stadige uitkalwing (of wat Rob Nixon “slow violence” noem) van morele kodes rondom seksuele gedrag. Stereotipes rondom vroue se seksualiteit dra by tot ’n kultuur wat seksuele geweld regverdig. So het daar die afgelope week ’n “sletlys” van hoërskoolmeisies die ronde in Stellenbosch gedoen. Dit is op sosiale media deur seuns gestuur. Die reputasieskade vir hierdie meisies is onmeetbaar en dit plaas al die verantwoordelikheid vir “die regte” seksuele gedrag op die skouers van jong vroue.

Wat gaan ons doen aan die gedrag van hierdie seuns?

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Rubrieke  |  Geweld  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.