Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geweld maak ons skole siek

Hoe meer geweld kinders op skoolterreine sien, hoe meer raak hulle daaraan gewoond. Maar ons moet daarteen waak om nie afgestomp te raak nie, skryf Louise Karsten.

Louise Karsten

Twee leerlinge is onlangs binne ’n tydperk van 36 uur in Mosselbaai vermoor.

Michaela Booysen (17) het saam met haar kêrel na haar huis in Asla Park gestap toe drie gewapende mans in hul rigting aangekom het. Die paartjie het geskrik en weggehardloop, maar die drie het Michaela ingehardloop en haar van agter met ’n piksteel oor die kop geslaan.

Haar kêrel was nie gewapen nie en het aangehou hardloop. Hy wou dit eers nie sê nie, want hy het skaam gevoel. Maar wie sou nie ook weggehardloop het nie?

Die drie aanvallers het oor Michaela gehurk en geld en ’n bankkaart uit haar broeksak gevat. Daarna het hulle die swart Nike-tekkies van haar voete afgehaal en gevlug.

Toe die ambulans opdaag, was sy dood.

Enkele ure later het die 17-jarige Khuselo Ndanda in pouse op die skoolterrein van die Hillcrest Sekondêre Skool gestaan. Dit was ’n gewone dag en leerlinge was besig om hul toebroodjies te eet en met mekaar te gesels.

Drie medeleerlinge het op Khuselo afgestorm en hom sonder waarskuwing ten aanskoue van die ander kinders verskeie keer met messe in die bolyf gesteek.

Hy is ernstig gewond, maar het na die kantoor gestrompel. Kort daarna het hy in ’n hospitaal in Mosselbaai gesterf.

Verlede week het hoofregter Mogoeng Mogoeng in ’n toespraak op die NG Kerk se Algemene Sinode in Benoni gevra waar die kerk van God is in hierdie land?

“Daar is genoeg bewyse dat Suid-Afrika siek is. Ons land is siek, ons vee is siek en ons grond is siek."

Ons skole is ook siek.

Ons kinders sukkel met verslawing. Hulle is verslaaf aan selfone en tablette, hulle raak nie net verslaaf aan drank en pornografie nie, maar ook aan geweld.

Nie een van die kinders wat die aanval op Khuselo gesien het, wou hul name bekend maak nie. Hulle was bang om met die nuusmedia te praat. Hulle leef in vrees, sê hulle, want daar is bendes in Mosselbaai en al is die polisie versigtig om te bevestig dat dit wel bendeverwante aanvalle is, wéét ons dit is.

Ons moenie afgestomp raak nie. Ons moet aanhou veg vir wat reg is. Ons moet ons kinders leer dat ons mekaar moet liefhê soos ons onsself liefhet.

’n Kind het vertel dat bykans die hele omgewing waarin hulle woon in bendegebiede opgedeel is. En of jy nou wil lid wees van ’n bende of nie, as jy in sekere gebiede woon ís jy lid.

Ons kinders sien geweld op die skoolterrein en hoe meer hulle dit sien, hoe meer raak hulle gewoond daaraan.

Geweld by skole raak álle skole. Daar is ook die vorm van emosionele geweld wanneer kinders mekaar op sosiale media en op die skoolterrein boelie. Is dit nie net ook 'n kwessie van tyd voordat bendeverwante geweld na ál ons land se skole oorspoel nie?

Onlangs het die polisie leerlinge se skooltasse in ’n hoërskool in Mosselbaai deursoek. Die wapens wat gevind is, is in ’n ry geplaas: pangas, messe, skêre en skroewedraaiers.

Hoekom gaan ons land se kinders met wapens skool toe?

“Ons is moeg om by die skool te wees en bang te voel.”

“Ons moet versigtig wees wat ons doen en sê, want anders loop ons deur.”

“Ons is moeg vir geweld.”

Dít was van die kommentaar van leerlinge met wie ek ná die aanval op Khuselo gesels het. Khuselo se oom het aan my gesê dat ons te hard gewerk het om Suid-Afrika te bring tot waar ons vandag is.

Hy koester geen wrok nie, sê hy. Maar ons moet nie ophou veg teen dít wat verkeerd is nie.

Hy is reg.

Ons moenie afgestomp raak nie. Ons moet aanhou veg vir wat reg is. Ons moet ons kinders leer dat ons mekaar moet liefhê soos ons onsself liefhet.

Maar wat gebeur as jy jouself nie liefhet nie?

* Karsten is ’n skrywer en joernalis wat saam met haar twee dogters in die Tuinroete-gebied bly. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Louise Karsten  |  Mogoeng Mogoeng  |  Mosselbaai  |  Skole  |  Geweld  |  Boelies  |  Bendegeweld  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.