Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geweld teen vroue: Woorde wat hard slaan

Wanneer joernaliste oor seksuele geweld en misdaad teen vroue en kinders berig, word dit gewoonlik met groot ontsag tydens die redigeringproses hanteer.

Dit is ’n fyn balanseertoertjie; ons wil lesers ingelig hou oor die wreedheid van die misdade, maar tegelyk die waardigheid van die slagoffer beskerm.

Carla Lewis

Ons loop katvoet vir woorde soos “penis” en “vagina” en is vaag oor wat presies met “verkrag” bedoel word.

Selfs al is ek ’n vrou, trek ek ook ’n objektiewe harnas aan wanneer ek as inhoudsredakteur moet sif deur morge kopie oor vroue en kinders wat verkrag, verwurg en vermoor is. Sodra jy met die slagoffers begin identifiseer, is dit ’n eenrigtingstraat na magtelose woede.

Die objektiewe harnas kry egter so ’n bietjie van ’n duik wanneer die forensiese patoloë begin getuig. Dít is wanneer die grusaamheid van die dade – wat ons met obskure eufemismes in die berigte probeer versag – ontbloot word.

Dan besef jy die omvang van die kinderverkragter Nicholas Ninow se bose dade. Of die verskriklike angs wat iemand soos Hannah Cornelius gevoel het toe die intiemste deel van haar lyf aangeval is – dit was tasbaar.

Verkrag. Een woord, volgestop met angs, verskrikking, doodse vrees, verlore onskuld, verlore vertroue. Wanneer ’n nadoodse ondersoek gedoen word waar verkragting vermoed word, kyk die ondersoekers vir stukkies vel onder haar naels, moontlike stukkies DNS van die monster teen wie sy vergeefs klouend tot die dood toe baklei het.

Die ongemaklikheid van daardie woorde moet hulle ry, soos ’n skerp klippie in ’n stapskoen.

Haar vagina – daardie intieme, gewyde liggaamsdeel wat vroue na die hoogste pieke van plesier kan neem en oor die vermoë beskik om nuwe lewe skenk – is nou ’n misdaadtoneel. Die literatuur oor hoe om ’n forensiese ondersoek ná ’n verkragtig te doen is saaklik dog grafies, luidens ’n artikel oor sulke ondersoeke by ’n hospitaal se ongevalle-eenheid in The Obstetrician & Gynaecologist.

“Vryf ’n depper oor en rondom die vulva. Plaas ’n spekulum in die vagina. As anale penetrasie vermoed word, vryf ’n depper op en rondom die anus.”

Anus, vagina, vulva, depper . . . dis woorde wat jy nie in jou koerant wil lees nie; woorde wat ons ongemaklik maak. Maar dit lê vlak in ons bewussyn – veral by vroue en ouers. Ons vrees dit gaan eendag ons realiteit word wanneer daar oor ons of ons dogters se vaginas en vulva’s in ’n koue hofsaal getuig word. Daardie woorde loop hand aan hand met die vrese wat diep in ons psiges gekerf is; dis ’n oer-angs wat vroue na hul dogters en kleindogters oordra. Ek weet wanneer ’n ma van Ninow se gru-dade lees, haar eie kindjie se perfekte, onskuldige lyfie voor haar oë flits en ’n klou van koue gruwel-angs om haar hart klem.

Politici, regters en wetstoepassers moet kriewelrig aan al die ongemaklike woorde dink, en dan aan ma’s en hul dogters, wanneer wette oor seksuele geweld gemaak word.

Ek wil hê die prosedures van ’n nadoodse verkragtingsondersoek moet vlak by die leiers van politieke partye lê wie se ondersteuners dreig om vrouejoernaliste te verkrag.

Die ongemaklikheid van daardie woorde moet hulle ry, soos ’n skerp klippie in ’n stapskoen.

  • Lewis is ’n senior joernalis van Beeld.
Meer oor:  Joernaliste  |  Kinders  |  Vroue  |  Geweld  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.