Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gewone mense moet veg vir geregtigheid

Ter herdenking van Vrouemaand is in Augustus verskeie gesprekke en debatte oor temas soos gendergeregtigheid en geweld teen vroue gevoer.

Verlede Vrydag het prof. Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in maatskaplike geregtigheid in die fakulteit regte aan die Universiteit Stellenbosch, ’n internasionale konferensie oor gendergeregtigheid gelei.

Hier is talle punte oor geregtigheid gemaak: Ons moet uitdruklik oor geregtigheid praat en die agterdog teen die begrip in sommige kringe bestry. Ons moet geregtigheid nie in teenstelling plaas met billikheid, insluiting en veral versoening nie.

Om geregtigheid te bevorder moet ons nie net die visie van ’n regverdige samelewing beklemtoon nie; ons moet veral ook fokus op die gestaltes van onreg. Ons moet nie net die ideaal lewend hou van wat reg is nie, maar ook wat verkeerd is, ontmasker.

Dit laat ’n mens dink aan Malcolm & Martin & America: A Dream or a Night­mare deur die Amerikaanse teoloog James H. Cone oor die benaderings van Martin Luther King Jr. en Malcolm X. Visie en kritiek is onlosmaaklik verbind aan mekaar, maar King het meer gefokus op die visie van ’n regverdige samelewing, en X meer op die onreg en die verraad teen daardie visie.

Suid-Afrikaners deel die visie van die Grondwet. Ons mees basiese waarde is menswaardigheid en die waardigheid van plant en planeet, dier en natuur. Menswaardigheid kry gestalte in die heling van wonde, geregtigheid, vryheid en gelykheid.

Die visie en droom daarvan moet lewend gehou word, maar die nagmerrie van verraad teen hierdie visie moet in groter mate ontmasker, gekritiseer en beveg word.

Die visie en droom daarvan moet lewend gehou word, maar die nagmerrie van verraad teen hierdie visie moet in groter mate ontmasker, gekritiseer en beveg word. Geregtigheid is nie ’n kategorie wat verdelend wil werk nie, maar wat deernisvol en helend is.

Die spesifiekheid en konkreetheid van geregtigheid is ook beklemtoon. Daar is verwys na Karl Marx se siening dat hoe vroue behandel word die barometer is vir die vlakke van geregtigheid in ’n samelewing.

Die feministiese denker Iris Marion Young se identifisering van vyf gestaltes van onreg en onderdrukking is ook in herinnering geroep. In haar boek Justice and the Politics of Difference bespreek Young uitbuiting, uitskuiwing, geweld, ontmagtiging en oorheersing. Hierdie kategorieë help ons om gender-onreg en ander vorme van ongeregtigheid in ons samelewings aan die kaak te stel en te benoem.

Die konferensie het ook gefokus op korrupsie as vorm en voeder van onreg, en ’n appèl is gemaak vir etiese leierskap en burgerskap. Menseregte is nie genoeg nie, ons het ook regte mense nodig. Nie perfekte mense nie, maar gewone mense wat die moed het om verantwoordelikheid te neem vir geregtigheid.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Geregtigheid  |  Geweld Teen Vroue  |  Vroueregte  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.