Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ghoema-stryd gaan nie oor Afrikaans nie
Ivor Price

In my komvandaanplek het die meeste mense nog nooit van die Ghoemas gehoor nie. Hulle onthou dit straks wel as ’n trom wat uit ’n wynvat gemaak is, maar ken dit beslis nie as die prestigerykste toekenning vir Afrikaanse musiek nie.

Toe die bom dus verlede week bars oor die sogenaamde verbied van ’n musiekvideo waarin Steve Hofmeyr verskyn, was baie van hulle effens verward. Vir die meeste van ons was ghoema­musiek maar nog altyd ’n mengelmoes van die Kaapse Klopse, die samba en Afro-Kubaanse klanke.

Die slawe van Java, ’n Indonesiese eiland, het volgens oorlewering die vate gemaak. Hulle was goeie houtwerkers en oor die jare heen het musikante van die Kaap die musiekstyl lewend gehou. As jy fyn luister, kan jy nog die ghoema hoor slaan in die manier waarop veral Kapenaars hul stories vertel. Jy kan ook die weerkaatsing van die ghoema sien in die vonkel van hul oë – ten spyte van die see en die lot wat hulle hier na die suidpunt van Afrika geslinger het.

Dit is dus nogal ironies dat ’n groep Afrikaanse sangers ’n prysuitdelingsgeleentheid sou boikot wat genoem is na ’n musiekinstrument wat deur die slawe in die vroeë Kaapse geskiedenis ontwikkel is.

Toevallig dink ek ook dit is taamlik swak smaak van MultiChoice om enkele dae voor die Ghoemas ’n benoeming te onttrek. Dit plaas die integriteit van die kompetisie onnodig onder verdenking en knou ’n handelsnaam soos kykNET, wat elke dag berge versit om Afrikaanse gemeenskappe nader aan mekaar te bring. Die musiekvideo het ook nie vreeslike emosie in my ontlok nie.

Hulle maak hulle eenvoudig moeg deur die mooiste taal by identiteitspolitiek te betrek.

Waar ek wel met van die kunstenaars verskil, is dat hulle die onttrekking van “Die land” se musiekvideo as ’n aanslag op Afrikaans bestempel. Hulle maak hulle eenvoudig moeg deur die mooiste taal by identiteitspolitiek te betrek. Die taal is moontlik aan universiteite onder beleg, maar soos die joernalis Ilza Roggeband op Facebook opmerk, gedy dit beslis in die media en kunste.

Daar is vier TV-kanale wat eksklusief in Afrikaans uitsaai. Jy kan enige naweek in jou motor klim en iewers op ’n Afrikaanse fees(ie) in ’n dorp van jou gunstelinge op ’n verhoog beleef. Die topses-tydskrifte in die land is in Afrikaans en daar word meer boeke in Afrikaans uitgegee as in enige ander taal. Ons gee ook om elke hoek en draai toekennings vir werk wat in Afrikaans geskep word. Daar is juis nou ’n nuwe kompetisie op pad ná die Ghoema-drama – nes ons kerke ook maar doen wanneer hulle afstig.

Hofmeyr, ’n selferkende “trotse volksnasionalis”, kan dus onmoontlik reg wees wanneer hy verklaar dat daar net een agenda is – “om Afrikaans van die bodem te vee”. Nee, ou Steve, dié stryd gaan nie oor die taal nie en dis jammer dat soveel sangers hulle nou by jou politiekery skaar. Dié stryd gaan eerder oor ’n lat wat jy vir jouself gepluk het.

Meer oor:  Ivor Price  |  Ghoemas  |  Ghoema  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.