Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gideon du Plessis: Werk is nie ’n plek nie

Die Covid-19-pandemie het denke oor die werkplek gemoderniseer. Die gedagte dat “werk” iets is wat jy doen, eerder as ’n plek waarheen jy gaan, is die grootste kopskuif wat posvat.

In sy boek Maverick beskryf Ricardo Semler ’n werkplek waarmee hy in 1993 sy tyd ver vooruit was. Nou, midde-in die Covid-19-pandemie en die Vierde Nywerheidsrevolusie, verstaan ons daardie werkplek.

Semler, ’n Brasiliaanse sakeman, het ’n klein familie-vervaardigingsonderneming, Semco, in een van Brasilië se grootste konglomerate omskep danksy ’n onortodokse benadering.

Semco het werknemers aangemoedig om waar moontlik van die huis af te werk; het volwaardige fleksietyd sonder enige voorgeskrewe werktye ingestel tot só ’n mate dat selfs produksiespanne hul werksure kon bepaal; jaarlikse verlof van 30 dae was verpligtend om produktiwiteit te verhoog; en fabriekswerkers kon gewysigde produksieteikens instel om hul inkomste te verhoog.

As teenwig vir al dié vryhede is ’n benadering van zero verdraagsaamheid jeens oneerlikheid gevolg en salarisse het tussen 75% en 125% van ’n basiese salaris gewissel, afhangend van hoe winsgewend die maatskappy was.

Hoewel die praktyk om van die huis af te werk om gesondheidsredes ingestel is, sal hierdie raakpunt met Semco se benadering by talle werkplekke deel word van die nuwe normaal ná Covid-19, ook omdat ons die era van die virtuele werkplek en Generasie Z as werknemers betree.

Om van die huis af te werk, gaan deel van die nuwe normaal wees.

Prominente selfoon- en pensioenfondsmaatskappye asook banke het reeds aangedui dat hul verkoopprestasie en kliëntetevredenheid toegeneem het danksy werknemers wat van die huis af werk. Hoewel uitbranding ’n risiko is, was die betrokke werknemers moontlik gemotiveerd om harder te werk om tuiswerk te regverdig, en moontlik ook danksy minder werkplekverwante steurnisse en die feit dat reistyd in werktyd omskep kon word.

So het plaaslike maatskappye soos Capitec en Vodacom reeds hul werknemers meegedeel dat ’n buigsame werkomgewing deel van hul toekomsbeplanning is.

Tuiswerk hou egter verdere voor- en nadele in.

Misbruik van die vryheid om van die huis af te werk, verswakking van werkplekdinamika en spansamehorigheid, en konflik oor werknemers wat van die buigsaamheid kan gebruik maak teenoor diegene wat nie kan nie, is algemene bekommernisse.

Wat misbruik betref, sou die meeste werkplekke ná vier maande van inperking al geleer het hoe om werknemers se uitsette te meet en om personeelbeleide by tuiswerk aan te pas.

Tweedens kan gereelde aanlyn en verpligte fisieke kontaksessies verseker dat kollegas met mekaar in voeling bly.

Derdens: die spanning tussen werkplekgesetelde werknemers en dié wat tuiswerk kan benut, kan ondervang word deur Semler se praktyke wat produksiewerkers bevoordeel.

Verhoogde tuiswerk bring ’n verdere vermenging van ekonomiese voor- en nadele wat ongelukkig wel werkverliese stroomaf kan verhoog. Werkplekke wat voor die grendeltyd kantoorruimte-uitdagings ondervind het, het moontlik ’n oplossing gevind deur werknemers van die huis af te laat werk en slegs “roterende lessenaars” vir kantoorpersoneel te gebruik. Dit het egter ’n negatiewe impak op die kommersiële eiendomsmark.

Terselfdertyd sal reisuitgawes vir vergaderings begin afneem omdat dit nou virtueel gehou word. So word die lugvaart- en gasvryheidsbedryf negatief geraak. Dan kan die afname in pendel tussen huis en werk ook ’n afname in die vraag na motorhersteldienste beteken.

Om van die huis af te werk, gaan deel van die nuwe normaal wees. Die werkgewer van keuse gaan dié een wees wat dit aangryp. Heelwat werknemers behoort bereid te wees om vergoeding in te boet in ruil vir ’n geleentheid om reis-stres te ver-minder en werk-lewe-balans te verhoog, terwyl werkgewers by verhoogde produktiwiteit en ’n gelukkiger arbeidsmag kan baat vind.

* Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

.

Meer oor:  Gideon Du Plessis  |  Maverick  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.