Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ginsburg-dood verlies vir vroue
Prof. Amanda Gouws

Ruth Bader Ginsburg, ’n regter van die Amerikaanse appèlhof en een van die grootste regsgeleerdes van ons tyd, is Vrydag dood.

Lesers wat On the Basis of Sex, die onlangse prent oor haar loopbaan, gesien het, sal weet hoe gedug sy was. Sy was slegs die tweede vrou op dié regbank, en die eerste Joodse vrou.

Oudpres. Bill Clinton het haar in 1993 benoem as een van nege regters van die land se hoogste hof, ’n proses wat diep polities is omdat dié regters lewenslank aangestel word en bepaal in watter rigting uitsprake gaan – meer liberaal of meer konserwatief.

Ginsburg het in haar loopbaan menige uitspraak gelewer wat die gelykheid van vroue bevorder. Dat geslagsgelykheid deur die howe gedryf word, maak sin as ons kyk hoe die politieke proses steeds vroue in Amerika faal.

Dit is ’n land wat dit nog nie kon regkry om die Equal Rights Amendment (ERA) – ’n voorgestelde wysiging aan die Amerikaanse grondwet wat almal, ongeag geslag, gelykstel voor die reg – te aanvaar nie. Dit nadat die ERA reeds in 1923 voorgestel is.

Om ’n grondwetlike wysiging deur te voer, moet dit deur twee derdes van die kongres en die senaat, en driekwart van die 50 deelstate goedgekeur word.

Ginsburg het in haar loopbaan menige uitspraak gelewer wat die gelykheid van vroue bevorder.

Die ERA bestaan uit een sin: “Equality of rights under the law shall not be denied or abridged by the United States or any State on account of sex.”

Dít beteken daar nie op grond van geslag gediskrimineer mag word nie, iets wat in die Suid-Afrikaanse Handves van Regte en ons Grondwet vervat is.

In 1971 het die ERA steun van twee derdes van die kongres en in 1972 van die senaat gekry, maar steun van net 30 deelstate, wat nie genoeg was nie.

Dit was in ’n tyd toe oudpres. Richard Nixon gesê het dat hy geen vrou in enige werk wil sien nie en dat hy dankbaar is daar is geen vroue in die kabinet nie. (As jy meer van hierdie geskiedenis wil weet, kyk gerus na die tele-visiereeks Mrs. America wat volgende week op DStv begin.)

Spanning is reeds besig om op te bou oor die benoeming van Ginsburg se plaasvervanger.

As Trump dit regkry om wel die konserwatiewe Amy Coney Barrett te laat verkies, kan sy vir die volgende 40 jaar op die bank wees aangesien sy nog net 48 jaar oud is.

Nadat regter Antonin Scalia nege maande voor die 2016-verkiesing dood is, wou senator Mitch McConnell, die Republikeinse leier van die senaat, oudpres. Barack Obama destyds nie toelaat om ’n nuwe regter te benoem nie. Hy wou toesien dat die nuwe president die benoeming doen.

Dit is nou 45 dae voor die volgende verkiesing, en dieselfde McConnell het belowe om alles in sy vermoë te doen om pres. Donald Trump die geleentheid te gee om die benoeming voor die verkiesing te doen.

Ons kan seker wees dat dit iemand sal wees wat nie die ERA voorstaan nie en teen aborsie gekant sal wees.

As Trump dit regkry om wel die konserwatiewe Amy Coney Barrett te laat verkies, kan sy vir die volgende 40 jaar op die bank wees aangesien sy nog net 48 jaar oud is.

Ginsburg het die mag van die reg baie goed verstaan. Sy het verstaan dat hoe dit aangewend word, dikwels die ervaring van vroue ontken of verminder. Een van haar eerste hofuitsprake was om te wys dat diskriminasie teen vroue hulle uitsluit van die “gelyke beskerming van die reg” waarvoor die grondwet voorsiening maak.

Dié uitspraak het uit eie ervaring gekom omdat sy soveel diskriminasie in haar eie loopbaan ervaar het.

Mans het geredeneer vroue moet wel beskerm word omdat hulle broos is, waarteen sy geredeneer het dat die voetstuk waarop vroue geplaas word vir hul eie beskerming eintlik ’n hok is wat hulle gevange hou.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Ruth Bader Ginsburg  |  Vroueregte  |  Regter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.