Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gister se dinge dra jou ook deur vandag
Prof. Hennie van Coller

Vergaarders raak moeilik ontslae van dinge. Maar selfs dié wat hulle daarop beroem dat hulle wegwerpers is se kaste bevat dikwels klere wat nooit meer gedra word nie óf waarvan die fleur af is.

Om op verskille tussen die manlike en vroulike geslag te wys, is deesdae doodsake. ’n Kollega by ’n Oos-Kaapse universiteit het opgehou om “roll call” te hou. Dit neem doodgewoon te lank, omdat hy – as hoflike mens – studente nie op voorname wil aanspreek nie en “meneer” of “mejuffrou” nie meer deug nie. Daar is soveel variante van gender-aanduidings dat hy gewoon boedel oorgegee het.

Vrouens dra selde klere wat oor die muur is; veel eerder bewaar hulle ou trou-, aand- of dooprokke in kaste vol motbolle.

As oortuigde politiek-inkorrekte/-nie-korrekte/-aanstootlike vertrou ek op jare se waarneming van die geslagte: Mans en vrouens verskil. Empiriese waarneming sal volstaan. Van voorkoms, optrede, voorkeure en gedrag.

Vrouens dra selde klere wat oor die muur is; veel eerder bewaar hulle ou trou-, aand- of dooprokke in kaste vol motbolle. Soms ’n tennisrokkie of mini uit vergange se dae. Meestal sal hulle, selfs ná ses maande van Tim Noakes of Atkinson se diëte, nooit meer daarin pas nie. Die versko-ning is dat (klein-) kinders dit nog sou kon gebruik en dat dit omskep kan word in dooprokke, kinder-klere of lappieskom-berse.

Mans bewaar ook klere – soos jeans wat dalk eendag weer gaan pas – of klokbroeke (“bell bottoms”) en “pin throughs” vir wanneer dit weer hoogmode gaan raak. Meestal drá hulle egter hul ou klere. Tot irritasie van hul vrouens wat dikwels dreig om daarvan ontslae te raak en dit dikwels ook inderdaad doen. Dit ontketen dan ’n oorlog wat die bombardement in die Somme na kinderspeletjies laat lyk.

Dit was geen maklike taak om oer-Afrikaners te oortuig om iets te koop van “dié kommunistiese universiteit” nie.

In my kas het ek ’n verslete Wits-trui wat ek nog gedra het toe ons Afrikaanse Klub by Wits joolblaaie gaan verkwansel het in Rustenburg. Dit was geen maklike taak om oer-Afrikaners te oortuig om iets te koop van “dié kommunistiese universiteit” nie. Maar ’n paar lang biere en skaaptjoppies op ’n vuurtjie in die kloof het die dag omskep tot onvergeetlik.

Voorwerpe (of klere) van toeka is dikwels nostalgies van aard, tasbare herinnering aan die “goeie, ou tyd” – blinkgevryf, gladgeslyp en verwring deur die verbygaan van jare. Selde behou ’n mens dit wat jou voortdurend herinner aan trauma en pyn uit die verlede.

Maar ou klere of skoene pas ook gemaklik en knus, koesterend soos ou vriende om jou. My vleisbraaibaadjie is al meermale gelap en gestik, maar verskaf aan my ’n warmte wat vertroud én gerusstellend is.

Ek het Elsa Joubert se Spertyd plek-plek met ontsetting gelees: ’n onthutsende en ontstellende verslag van die afdraand van die dag. Maar tog ook illustrasie dat die verlede, weliswaar vol versuime en skuld, jou ook dra deur die hede. Dat niemand dit kan uitwis nie, omdat dit in jou kop bestaan.

En waaraan ou klere ons ook herinner.

Meer oor:  Hennie Van Coller
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.