Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Glimlag tog net - selfs al is dit agter 'n masker

Natuurlik moet ons steeds Covid-19 bestuur, maar kan ons nie net begin glimlag nie? vra Rhynie Greeff.

Almal dra ’n masker. En soos dié man van Kathlehong wys, kan dit uit bykans uit enige materiaal bestaan. Foto: AP

Nou die dag staan ek negende in ’n ry gemaskerde mense buite my bank.

Ek voel soos Billy the Twit by ’n roofkonvensie saam met Jesse James, Butch Cassidy, die Sundance Kid en ander bendelede.

Dertig minute later arriveer ek, twee-meter-skuifel op ’n slag, by die bank se voordeur vir rituele korona-alkohol op my palms. Vandaar reis ek sit-sit op stoele na die toonbank.

Later by my motor besef ek dit het ’n volle uur geduur om my nuwe bankkaart af te haal. Almal in die tou was wel geduldig en verantwoordelik, maar sosiale distansiëring draai ons ekonomie soos ’n verroeste windpomp tot stilstand. Toe tref dit my ook dat ek geen glimlag kon sien by een van my gemaskerde bankinvalsbende nie.

Mense glimlag moeilik in hierdie swaarmoedige skrikkeljaar met sy 29 dae in Februarie, 49 dae in Maart, 59 dae in Mei en 600 dae in Junie.

Baie werkers sal heropgelei moet word vir ’n nuwe aanlyn ekonomie, maar miskien sal ons maskermassas ook heropgelei moet word om weer met ’n lied in die hart te glimlag.

’n Mens moet nie met siekte spot nie, maar gedeelde lag gee ons krag in teenspoed en verenig ons om die toekoms aan te pak.

Ek is sommer lus en skryf ’n musiekblyspel genaamd Covita met ’n trefferlied “Don’t Cry for me Quarantina”.

Is dit pandemies ’n skaterflater om so ’n virusgrap te versprei? Wat van ’n selfdistansiëringsgrap soos my nuwe selfoontoepassing, iSoleer, vir studie onder Covid-19? Is dit waar dat 90% van restaurantsjefs dink Covid19-grappe is in swak smaak?

’n Mens moet nie met siekte spot nie, maar gedeelde lag gee ons krag in teenspoed en verenig ons om die toekoms aan te pak. Humor, al is dit ’n proes met ’n hoes, help ons miskien veral by bevelsraadinstruksies.

Ek sien hilariteitsakademici voer aan dat primate aanvanklik hul tande ontbloot het as afskrikmiddel en dit toe aangepas het as ’n vriendelike erkenning van vrees en onderdanigheid.

Ons tande sê dikwels: “Hei, ek aanvaar jou hoër status. Ek glimlag. Wees rustig met my asseblief.”

Werk vir ons Groot Sheriff

Bheki Cele, minister van polisie, spreek polisiebeamptes in Kaapstad toe aan die begin van die staat van inperking. Hy meen die verkoop van alkohol dra by tot misdaad. Foto: Argief

Dis maar moeilik om te glimlag in die aangesig van sekere egoïstiese bevelsraadbrommers van stratosferiese status.

Pres. Cyril Ramaphosa is anders. Ek dink hy probeer sy bes. Oukei, hy word vergelyk met ’n woordeskatlose en numeries uitgedaagde voorganger. Ongelukkig is Ramaphosa, soos wat Bill Clinton eens gesê het, tans in die posisie van ’n begraafplaaseienaar: Hy het baie mense onder hom maar niemand luister nie.

Tussen die dowes is daar ministers van styfstaar en maskermompels, ’n minister van samewerkende gaan-rook-skelm-agter-die fietsloods, ’n minister van sosiale kamoefleerkaskenades en ’n minister van luister-of-ek-looi-jou.

Dit laat my dink aan Richard Daley, die eertydse burgemeester van Chicago, wat in 1968 gesê het: “The policeman isn’t there to create disorder; the policeman is there to preserve disorder.”

Ek merk op sekere onvriendelikes in ons bevelsraad is nogal vies vir al die ongenooide openbare kritiek. Dis baie in ooreenstemming met Daley se ander beroemde uitspraak: “They have vilified me, they have crucified me; yes, they have even criticized me.”

’n Bende het verlede week in ’n sober en goedbeplande middernagtelike roof familievriende van ons aangerand. My vriend is nog in die hospitaal met ’n gekraakte skedel. Seker maar die drankdemoon se skuld.

Met ’n meesterlike vermenging van orde en wanorde het ons bevelsraad van 27 Maart vanjaar die pandemie vir ons in ’n taktlose en twaklose pandemonium omskep waarin ons lank met flouwater en wynlose wingerdgriep moes sukkel.

Gelukkig is ons nou op vlak 3. Dankie aan meer rasionele bevelsraadslede. Dankie, minister Nathi. Ek kan nou weer gholfballe in die ruigtes gaan verloor.

Vlak 3 is wel minder pandemonies maar nou effens drankdemonies. Ons Groot Sheriff kla dat vryer alkohol sedert 1 Junie die rede is vir toenemende misdaad.

Ek stem saam daar is weer dronkbestuurprobleme maar, en miskien fouteer ek, het daar nie so agt miljoen werkers skielik op 1 Junie mobiel geword nie?

Is daar ’n geringe statistiese moontlikheid dat meer mobiele mense miskien meer droogmaak? Is misdaad onder miljoene mobiele mense statisties een honderd persent toeskryfbaar aan alkohol?

Is daar enige buitekans van meer skelmstreke nadat die bevelsraad duisende gevangenes van die virus gered het met tronkvrylating? Doen alle politici hul somme soos Zuma?

’n Bende het verlede week in ’n sober en goedbeplande middernagtelike roof familievriende van ons aangerand. My vriend is nog in die hospitaal met ’n gekraakte skedel. Seker maar die drankdemoon se skuld.

Agbare Sheriff, ondersoek asseblief onmiddellik hoeveel statistiese alkohol in die kele gekom het van al die skelms wat voor 1 Junie onder die volle alkoholverbod in die inperking 1 577 skole beroof, gevandaliseer of verbrand het.

Nkomekstopsuipery had dalk tog ’n punt beet

Ons staan deesdae almal oral in lang rye geduldig en wag met ons maskers op ons gesigte.Foto: Reuters

Politiek en statistiek is immers woorde wat rym. Dis soos Charles D.B. King wat die Liberiese presidentsverkiesing in 1927 ver gewen het met 243 000 stemme teen sy teenstander se 9 000 stemme.

King se meerderheid was nogal besonder indrukwekkend want daar was net 15 000 geregistreerde kiesers in die land. Hy het met ’n gesonde meerderheid van 1 680 persent gewen.

Dis nou maar politiek. Soos oud Amerikaanse visepresident en planeetredder Al Gore gesê het: “A Zebra does not change its spots.”

Is ek in die kol as ek sê ons nors Covid-19-bevelsraad soek onderdanigheid?

Pres. Cyril Ramaphosa agter ’n masker.Foto: AP

Dit laat my dink aan ’n ontmoeting tussen die eertydse Britse parlementariër Neil Marten en Lord Hailsham, die Lord Chancellor (oftewel Grootkanselier van die Britse hoërhuis). Neil Marten het mense van sy kiesafdeling op ’n toer van die parlement in Westminster vergesel. In die gange doem Lord Hailsham voor hulle op. Die imposante Lord herken sy vriend en roep toe met uitgestrekte arms sy naam uit: “Neil!”.

Net daar val Marten se hele geselskap soos blits neer op hulle knieë voor Lord Hailsham.

Politieke bevele om op te staan kan egter net soveel probleme veroorsaak.

Ongelukkig het dit regtig lelik geraak daarbuite met die bevelsraad se standpunt oor haarkappers en naelspesialiste.

Joe Biden, Donald Trump se teenstander in vanjaar se Amerikaanse presidensiële verkiesing, het in 2008 na senator Chuck Graham van Missouri beduie en gebulder: “Stand up, Chuck, let ‘em see ya.’’

Die enigste probleem was dat Chuck Graham, sedert die ouderdom van 16, in ’n rolstoel is. Ja, ek weet daar is perke aan hierdie soort grappe maar, nege maande voor die Biden-glips, was hierdie rolstoelgekluisterde senator se bestuurslisensie opgeskort weens dronkbestuur.

Miskien het tannie Nkomekstopsuipery en die Groot Sheriff tóg ’n punt hier.

’n Mooi wêreld

Rhynie Greeff

Ek soek nie moeilikheid nie. Ek soek maar net ’n mooi wêreld. Ongelukkig het dit regtig lelik geraak daarbuite met die bevelsraad se standpunt oor haarkappers en naelspesialiste.

In hierdie hofsaakweek wil ek nie hare kloof nie, maar hoekom sou die bevelsraad ’n tandarts toelaat om in ’n haarkapper se spoegmond te vroetel maar nie ’n haarkapper om ’n tandarts se spoeglose hare te hark nie?

Ek soek weer gelukkige gesigte en nie wêreldwye kuddes met kajuitkoors nie. Weg met suurknolle wat nie werk of studeer nie, hul hokkies uitvlug en die strate bestorm vir baklei en raas, ja soms met reg en soms nie. Weg met irrasionele politici wat dink respek is nie iets wat verdien word nie maar afgedwing kan word. Welkom meer rasionele politici.

Natuurlik moet ons steeds Covid-19 bestuur, maar kan ons nie begin glimlag nie? Ek dink aan Charles Chaplin se liedjie Smile: “Light up your face with gladness. Hide every trace of sadness.”

Ek het al voorheen geskryf dat ek in my jeug hierdie graffitiwysheid raakgeloop het: “Sometimes the moon howls and the wolves are still.”

Die maan het nou genoeg gehuil.

Dis tyd dat die maan glimlag, selfs agter ’n masker.

* Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.