Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n hoera’s dat bom ontlont is

Dit verg nie veel insig om in te sien dat die DA ’n onverkwik­like tyd beleef met die Patricia de Lille-sage nie.

Johann Maarman

Sondag het dié riskante ekspedisie hopelik ten einde geloop toe De Lille en die DA ’n ooreenkoms aangegaan het dat sy einde Oktober afstand sal doen van haar pos as Kaapstadse burgemeester. Die DA se aanbod was dat hulle alle interne tugstappe teen haar staak.

Enige party, enige beweging, enige mens, moet soms die hand in eie boesem steek en maar erken as daar melaatsheid aan kleef, soos dat daar verbrou is in die De Lille-sage.

Die DA, tans die grootste opposisieparty in Suid-Afrika, het soos ’n afkop hoender rondgehardloop en met allerhande foefies probeer om De Lille as ’n magsdronk leier te skilder wat haar nie wil onderwerp aan partydissipline nie.

Aan die teenkant was daar die kritiek dat die DA hom gedra het soos ’n ou wit party en dat ’n kartel van oud-Progge maar die toutjies trek en Mmusi Maimane ’n blote handperd is.

Die persepsie wat ook na buite geskep is – bepaald onder swart en bruin kiesers – is dat die DA ’n heksejag teen De Lille gevoer het.

Dis dié kiesers, die ruggraat van die DA se steun, wat die party nou blameer vir die De Lille-spektakel.

Dié DA-kiesers is lankal nie meer bloot “gaste” van die DA nie en behoort nie as sodanig behandel te word nie. Of hulle reg is of nie: hulle voel daagliks diskriminasie in trurat aan hul eie lyf.

Hulle voel dit oor taal, skole en selfs wanneer hul kinders gaan werk soek.

Die DA sal nietemin moet besef dat ’n politieke party sterf as hy nie daarin slaag om ’n duidelike toekomspad vir sy ondersteuners aan te dui nie. Buitendien disintegreer ’n politieke party lank en pynlik as hy sy tradisionele ondersteuners nie daarvan kan oortuig dat hy hul belange beskerm nie. Vra maar vir die ou NP hoe vinnig ’n party sy eie gat kan grawe. Maar dit terloops.

Die grootste partye ter wêreld maak foute en verloor verkiesings en ondersteuners. Dan doen hulle grondige bestekopnames en veg voort.

Dis ook nie in die DA se belang dat hy steeds probeer voorgee dat hy as wenner uit die stryd getree het nie. Op die agtergrond hoor jy die gejuig dat die DA nou eintlik sy sin gekry het deur De Lille uit te skouer, maar teen watter prys? Daarom is dit lofwaardig dat Maimane gister prontuit erken het die DA het foute gemaak en mea culpa.

Dit was ’n duur ekspedisie vir die DA en dit kan hom by die stembus kos. ’n Politieke party se groei is afhanklik van hoe hy met sy oorwinnings én sy nederlae omgaan. Die grootste partye ter wêreld maak foute en verloor verkiesings en ondersteuners. Dan doen hulle grondige bestekopnames en veg voort.

Laat ons dus die sak behoorlik uitskud noudat die DA besig is om huis skoon te maak. Die DA het met die De Lille-sage administratiewe en tegnokratiese flaters begaan. Die DA, wat hoog opgee oor die regstaat, is deur De Lille bloedneus in die hof gegee. Is dit nie tyd dat daardie tegnokrate in die DA voor stok gekry word nie, of is hulle deel van die onaantasbare kliek?

Selfs in die DA het ’n mens ook die indruk gekry dat swart en bruin leiers ’n nougesette nakoming van DA politieke korrektheid gevolg het – ’n skroomvalligheid tot selfs die punt toe van onderdanige knievallery.

Die beeld wat die DA na buite geskep het, is min of meer dieselfde as die ANC s’n, en dis om afvallige stemme so lank moontlik te smoor. Jy kan die DA aanspreek soos ’n dogtertjie liefies vir haar pa sê sy gulp is oop, maar moet tog nie verder as dit gaan nie of jy is “buite orde”.

Anders as die DA-knievallers sê ek nie hoera vir die ontlonting van die De Lille-bom nie. Dis hoogstens net ’n piep werd.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.