Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n niemand gaan weer my blý buit nie
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Sommige mense kom tot hul reg in groepe, maar ander van ons vlug na die verste hoeke om die spulle van doer gade te slaan.

Die laaste keer dat ek met oorgawe self ’n groep gestig het, was die Buiterbende in st. 4 nadat ek heeltemal te veel van Gerrie Radloff se gelyknamige Ou Kaapse verhale gelees het. Ons het, helaas, nooit iets gebuit nie en die bende het ’n stille dood gesterf.

Sedert ’n week gelede is ek egter vrywillig deel van #ImStaying, met nagenoeg 595 000 Facebook-lede (gister) en staan ek verstom oor die oorweldigende positiewe benadering van dié “bende”. Ure lank het ek die verskeidenheid van verhale gelees wat mense landwyd met die groep deel; meermale kon ek net instemmend knik en dink, sowaar, van dié stories kan die beste skrywer wragtig nie uitdink nie – die lewe is inderdaad vreemder as fiksie.

Die grootste besef, waarna ook talle kere verwys word in mense se boodskappe, is dat die politici in die algemeen vervlaks lank daarin geslaag het om onmin en verdeling te saai onder Suid-Afrikaners wat in die algemeen geensins hatig op mekaar is nie.

Ja, ek hét daardie gawe fuzzy gevoel van vrede en welbehae en ek is van plan om dit te koester.

Ja, ek hét daardie gawe fuzzy gevoel van vrede en welbehae en ek is van plan om dit te koester. Maar ek voel ook hoe gloeiende kole op my hoof gestapel word: Wat het ek self nou al ooit gedoen om die lewe vir ’n mede-landgenoot makliker te maak? En wat gaan ek in die toekoms doen?

My eerste baba-tree is om te fokus om te glimlag: in die motor en supermarkgange. Vir iemand met ’n frons soos ’n erosie-donga wat ’n mens nogal permanent bemoerd laat lyk, is dit ’n uitdaging. Wat my laat wonder waar die frons se oorsprong ieder geval vandaan kom . . .

Nou probeer ek oogkontak maak met mense in die verbygaan pleks van op my voete of doer in die blou lug te loop kyk. Ek knoop selfs geselsies aan en het in een week reeds drie gesprekke gehad met #ImStaying-vreemdelinge. Klink dalk simpel, maar vir iemand wat nie van nature ’n Sannie Sonskyn is nie, gee ek maar vir myself ’n regmerkie.

Opgewonde vertel ek my hartsmens van die bly-fenomeen. Hy neem kennis, maar is glad nie so meegevoer nie. Terwyl ek nog loop en bedink aan ’n bekeerstrategie ry ek saam met hom uit plaas toe: Dit is besproeiingsdag en daar moet ’n oog gehou word, want as die een of ander pyp of sproeipunt nie lek nie, is dit verstop.

Op en af ry en stap ons deur die avokadoboorde toe dit my tref: Dié boer het nie #ImStaying nodig nie, hy leef dit. Want om in dié grondgryp-era ’n boerdery van letterlik die eerste sooi op die been te bring, is seker dié duidelikste en luidste manier om te verklaar hier word gebly in hierdie chaotiese, droewe, kleurvolle, hoopvolle land. Boere ís so.

Dankie, #ImStaying, vir die besef dat g’n niemand weer my blý gaan buit nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.