Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n niemand se rolmodel nie
Suid-Afrikaners kan gerus oor die algemeen ook ’n bietjie minder wroeg, sê Piet Matipa.Foto: Felix Dlangamandla

Piet Matipa skuif half ongemaklik rond op die bank in die pizzarestaurant waar hy onder ’n plakkaat van oudpres. Nelson Mandela sit.

“Dis akward,” sê hy ná ’n slukkie rosé uit die glas voor hom op die tafel. “Dis báie akward.”

Hy is nie gewoond daaraan om aan die verkeerde kant van die kamera en bandopnemer te wees nie, verduidelik dié voormalige misdaadverslaggewer en deesdae gewilde en soms omstrede rubriekskrywer.

“Dit voel eerder of ék ’n notaboek in die hand moet hê. Ek voel nog soos ’n joernalis,” sê Matipa.

Hy haal kort-kort sy groot bril, ’n Dolce & Gabbana-sonbrilraam waarin sy voorskriflense ingepas is, af. Dit is nie omdat hy senuagtig is nie, die bril se lense wasem net toe in die warm restaurant.

Hy pik-pik af en toe aan sy Porky the Pig-pizza en dit is duidelik bestem om ’n woefkardoes te word.

Matipa, wat sowat drie jaar gelede een van die draaiboekskrywers van die gewilde sepie 7de Laan geword het, sal maar aan dié ongewone aandag gewoond moet raak.

Sy eerste boek, Dwarsklap: Skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika, is pas deur Penguin Random House uitgegee en die kanse is goed dat hy nou nuwe aanhangers gaan kry wat meer van hom wil weet.

Die gewraakte wit yskas

Sy mees omstrede rubriek was sekerlik die een oor sy weersin in wit yskaste. “Ek haat wittes,” was die eerste sin van dié rubriek.

Toe ontplof mense. “Dit was die eerste rubriek waaroor almal hul s**t verloor het, heeltemal verloor het. ’n Vrou het gesê my ma moes my doodgelê het toe ek ’n baba was.

“Iemand anders het gesê hy gaan my doodmaak. Op Google was daar ’n suggestion dat Piet Matipa wit mense haat. Die mense was kwaad, maar hulle het geen rede gehad om kwaad te wees nie.

Mense raak te opgewerk oor alles. Ons moet net f***** chill. Chill, chill, chill . .

“Hulle het ook gesê daar is verskuilde boodskappe in die rubriek. Dit is baie snaaks, want dit is só vinnig geskryf dat daar nie nog tyd was om propaganda of kodes vir plase wat gesteel gaan word in te werk nie. Dit het letterlik net oor ’n yskas gegaan.”

Hy het nog nooit ’n wit yskas gehad nie, sê Matipa.

“Ek het ’n rooie. Ek het niks wits in my huis nie. Ek is nie lelik nie, maar wit is ’n outydse kleur. Daar was baie wit goeters in die ou dae. Ek het wel ’n wit dishwasher gehad, maar ek het dit nie meer nie.”

Kleur het onlangs weer ter sprake gekom toe Matipa geskryf het oor die gebruik van die k-woord. Weer was van sy lesers kwaad vir hom.

“Ek wil niemand white guilt nie. Dit was introspeksie. Ek wou nie vir mense preek en sê: ‘Verander julle’ nie. Ek gee nie om oor rassiste nie. Dis nie my ding nie, ek meng my net nie daarmee nie.”

Geen rolmodel

Te oordeel aan die drama rakende sy rubrieke, klink dit of Matipa se lewe opwindend is. Merkwaardig selfs, sal sommige sê.

“Piet Matipa is jonk, swart, gay en Afrikaans,” adverteer sy uitgewer hom in ’n persverklaring.

Dis nie al nie. Hy het in ’n weeshuis grootgeword, daar Afrikaans geleer en danksy beurse van Media24 en die ATKV aan die Puk studeer waarna hy vir hom ’n skryfloopbaan uitgebeitel het.

Baie mense sal tot die gevolgtrekking kom dat Matipa eintlik ’n rolmodel kan wees vir kinders wat in moeilike omstandighede grootword.

“Néé,” protesteer hy. “Ek wil nie ’n rolmodel vir enigiemand wees nie. Ek móénie ’n rolmodel vir enigiemand wees nie. Ek het ’n stoute seun geword hoe ouer ek geraak het,” skerts die 28-jarige Matipa.

“Tien jaar terug het ek myself die Here se witbroodjie in ’n onderhoud genoem. Nou noem ek myself die Here se stoute seun.”

Hoekom?

“Ek hou van die verkeerde dinge: vloek, seks, drank . . . Ek dink nie ek moet alles sê nie,” sê hy laggend.

Tussendeur al die lag, waarvan daar baie is wanneer jy met Matipa gesels, probeer hy jou oortuig sy lewe is bra onmerkwaardig.

“Daai storie oor die weeshuis is teen dié tyd al so boring, want dis al soveel keer vertel. Dit was lekker, ek het ’n baie lekker tyd daar gehad. Daar was hier en daar drama, maar ek is nie ge-scar of iets nie. Ek het dit net geniet.”

Sy drie jaar as misdaadverslaggewer by Beeld, susterskoerant van Die Burger in Johannesburg, was nie altyd so prettig soos sy skool- en universiteitsdae nie.

“Jy kan eintlik sê ek was ’n misdaadjoernalis in aanhalings, want ek was nie ’n baie goeie misdaadjoernalis nie. Laat ons nou maar eerlik wees.”

Hy kon nie opgewonde raak oor misdaadstories nie.

“Dit was nie lekker om die heeltyd moord en dood te sien nie,” sê Matipa, skielik ernstiger.

“Ek was vir lank paranoid. Eers toe ek vir 7de Laan begin skryf het, was ek nie meer so paranoid nie.

“Jy word die heeltyd gekonfronteer met die slegte kant van die lewe. Plaasmoorde, ongelukke waarin hele gesinne uitgewis is, moord, moord, mense se huise wat afgebrand is . . . Smart. Jy het die heeltyd net met smart te doen gehad.”

Hy gaan maar net aan

En die draaiboekskrywery? “Ek kan wyn koop aan die einde van die maand, want hulle betaal my,” sê hy met ’n glimlag.

“Dit is interessant, ja. Ons het ’n ruk gelede die tonele gehad waar ’n vliegtuig geval het. Dit was Survivor-tipe episodes. Dit was interessant om te skryf, maar die res van die tyd is dit maar die gewone sepiegoed.”

Hy glo die joernalistiek verg meer kreatiwiteit as draaiboekskrywery.

“Met draaiboeke kom alles uit jou kop uit. Jy word beïnvloed deur wat jy kyk en deur ander sepies. In die joernalistiek werk jy met mense, jy werk met feite, jy werk met die werklikheid.”

Matipa sê hy sal graag eendag draaiboeke vir ernstige en komiese reekse eerder as sepies wil skryf. Intussen is hy heel tevrede met sy lewe.

“Ek het nie ’n baie interessante lewe nie. Ek kan nie eens iets interessants van myself vertel nie. Ek gaan werk toe, ek gaan terug huis toe en ek drink oor die naweke, dis al wat ek doen. Ek gaan maar net aan.

“Vanaand moet ek teruggaan, my storielyn uitwerk en skryf en môreoggend gaan ek werk toe en hierdie naweek gaan ek baie drink.”

Hy is darem nie ’n alkoholis nie, skerm hy skertsend. Hy is wel bang vir hysers. Nou die dag het hy dit vir die eerste keer in sewe jaar in een gewaag. Hy kook ook glad nie en het onlangs vir die eerste keer in sy lewe kruideniersware gekoop.

Waaroor hy wel gaande is, is selfies.

“Ek dink almal moet selfies neem. Dit is die enigste foto’s van jouself waaroor jy beheer het. Jy lyk altyd beter op selfies as op ander foto’s.”

En o ja, sy gunstelingkleur is geel. Sy “karretjie” is geel en ook die omslag van sy boek. Sien, sê hy, sy lewe ís vervelig.

Maar die skryf van die boek was darem seker opwindend?

“Kyk, ek kan net sê ek is bly daai ding is klaar geskryf, dis uit my lewe uit. Ek bedoel dit nie lelik nie, maar dit was ’n gewroeg en ’n gesukkel. Die hele skryfproses is so. Ek wroeg en sukkel gewoonlik ook as ek ’n rubriek moet skryf.”

Hy moes die boekskrywery by al sy ander werk inpas en het dikwels saans hard gewerk.

“Ek het party aande selfs 7 000 woorde geskryf, wat nogal moeilik is omdat ek met net een vinger tik! My arm was naderhand seer van al die geskrywery.”

Hy het koffie gedrink om wakker te bly. “Ek het wyn probeer, maar dit werk nie. As ek wyn drink, wil ek net dans – in my onderbroek.”

’n Skisofreniese boek

Matipa praat in sy boek oor baie dinge: misdaad, die liefde, Afrikaans, taxibestuurders, rugbyondersteuners.

“Dis eintlik ’n skisofreniese boek. Ek spring van een ding na die ander. Ek is nie baie blatant oor dinge nie.

“Ek het nie eintlik vreeslike issues nie. Ek wil mense net ’n ander perspektief gee. Al issue wat ek eintlik het, is die onverdraagsaamheid in die gaygemeenskap. Maar dit is nie iets waaroor ek elke aand wroeg nie. Dis eintlik ’n chill boek.”

Dit sal goed wees as Suid-Afrikaners ook oor die algemeen ’n bietjie minder wroeg, meen Matipa. Daar is wel probleme in die land, maar ons moet net aangaan en hoop vir die beste, sê hy.

Dit is wat hy doen.

“Die Sondag voor payday,” vertel hy byvoorbeeld, “het ek in my bed rosé gedrink. Dit was die laaste rosé van die maand. Dit was so nice. Ek was so happy. Ek weet nie eens hoekom nie.

“Mense raak te opgewerk oor alles. Ons moet net f***** chill. Chill, chill, chill . . .

Van der Westhuizen is ’n artikelskryweer by Netwerk24.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Skrywer  |  Sepie  |  7De Laan  |  Rubriekskrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.