Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n sikspens meer vir toring op Redelinghuys
Johan van Wyk

Waarvoor moet kindertjies uitkyk om ’n sakgeldjie te maak wanneer hulle Redelinghuys, nou sonder ’n kerktoring, in hul pa’s se bakkies en karre nader?

’n Kerktoring is mos die eerste sigbaar wanneer jy ’n dorp nader. Op pad van die Kaap af deur die Ceres-Karoo Calvinia toe moes ons daarvoor uitkyk. By Blinkvlei sou my pa sê: “Die een wat die kerktoring eerste sien, kry ’n sikspens!”

Toe lekkergoed duurder word, het hy het dit na ’n sjieling en later na ’n halfkroon opgeskuif.

Omdat my suster ouer en langer was, het ek ’n effense agterstand gehad, maar dit te bowe gekom deur oor die voorste sitbank se leuning te klouter en tussen my pa en ma te sit. Jy kon, want die ou karre het ’n aanmekaar sitbank gehad, nie twee afsonderlike sitplekke nie.

Dit het my kanse om die NG Moederkerk se rysige toring eerste te sien aansienlik verbeter.

Skuif na jou ma se kant toe dat die gear lever jou nie ’n blou kol op jou boud slaan nie.

My pa sou egter waarsku: “Maar sit stil, sodat jy nie die gear lever per ongeluk uit top stamp nie.”

In die 1940’s het Fords en Mercury’s – my pa was sy lewe lank ’n geswore Fordman – se ratkierie nie meer op die vloer gesit nie, maar langs die stuurkolom. Vir drie verstellings: “low, second en top”.

Jy het weggetrek in low, die laagste rat, oorgesit na second en dan na top, die derde rat, oftewel die pad-gear. Van die duurder Amerikaanse karre soos die Chrysler het later ’n overdrive gehad, ’n vierde rat, oftewel, die gear vir die vinnige pad.

So by so dat Krisjan Blok gespog het hy ry Bokveldsberg, die Van Rhynspas, so vinnig uit in sy Oldsmobile Rocket 88 in overdrive dat die telefoonpale langs die pad soos ’n kam se tande staan. So, het hy met sy oop hand se vier vingers gewys.

Ek dink hy het gelieg.

Tussen my pa en ma op die uitkyk vir die kerktoring sou my pa nietemin maan: “Skuif na jou ma se kant toe dat die gear lever jou nie ’n blou kol op jou boud slaan nie.” As die stofpad baie sinkplaat was, het die gear-lever op en af gewip. Die Chev-karre s’n nie so erg nie. Die ergste was egter dié van oom Dowe Koos Vlok se Dodge Fargo-bakkie.

Tussen hom en my pa in die Fargo op pad Downes toe om ’n trop skaap op die trein te help laai, het oom Dowe Koos vermanend gesê: “Jong, ek dink jy moet op jou pa se skoot sit voor die gear lever jou raakslaat!”

Hy het ’n verslete ou kakiejas aangehad waarvan die kraag hoog opgeslaan was. Dit was Juliemaand en sonder ’n verwarmer bitterlik koud in die Fargo. Buite was die “wysie op die ooswind se maat”, soos in Eugène Marais se gedig Winternag, “treurig soos die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat”.

Voel dit ook so rondom die swart verbrande kerkmurasie op Redelinghuys? Die geskiedkundige NG kerk Redelinghuys in die Bergrivier-munisipaliteit in die Wes-Kaap het verlede week afgebrand. Dit was verlede jaar 100 jaar oud. Die kerk se hoeksteen is op 5 Oktober 1918 gelê en die kerk is op 24 September 1927 ingewy.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Redelinghuys  |  Herinneringe  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.