Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n spieël gaan vir ANC werk nie

Met Ramaforie wat nes Rassieforie kwyn, is dit nie ’n voldonge feit dat die ANC in 2019 vorige ver-kiesings se meer as 60% van die stemtal gaan haal nie. Nie weens afrokkeling deur die opposisie nie, maar weens sy eie Trojaanse perde.

Gerugte van die stigting van ’n African Transformation Party (ATP) deur Zuma-rebelle voor die verkiesing van 2019 weens uitkalwery van hul magsbasis, bevestig die moederparty se faksiestryd.

Gert Coetzee

By die ANC se raadplegings vandees­week oor sy verkiesingsmanifes vir 2019 in Centurion het Jacob Zuma, korrupsie-aangeklaagde, netjies ingestap toe pres. Cyril Ramaphosa se toespraak einde se kant toe staan. Zuma het nie op hom laat wag nie en ook aan die groepsessies deelgeneem.

Die aanvaarding van die ANC se Vry-heidsmanifes 63 jaar gelede op 26 Junie 1955 is ook herdenk as deel van die poging om vergane glorie te herwin.

Van kiesers kan nie verwag word om vir die ANC te stem net omdat hy die bevrydingsparty was nie, het Ramaphosa gesê.

Einste. Die regeringsgesinde Afro Voice (vroeër The New Age) sê in ’n redakteursbrief (26.6): “Die ANC staan by ’n groot kruispad en is ’n skadu van die beweging wat die vryheidstryd gelei en die Vryheidsmanifes aan die nasie gegee het.”

Die hoftwiste, soos nou weer in die Vrystaat, oor wie eintlik die ANC se provinsiale leiers is, wys onmin is skering en inslag in partygeledere.

In die middel is Ramaphosa wat soos ’n berede ruiter twee wilde perde met een voet op elk se rug moet ry. Terwyl elk halsstarrig ’n eie koers inslaan.

Van hom lei dit ook tot populistiese dubbelspraak, afhangende van die gehoor, soos hy na alkante toe probeer sus. Hy moet die ANC én die regering herrig. En bourgeoisie en proletariaat paai. Die moeilikste balanseertoere is met grondhervorming en die voorgestel-de Nasionale Gesondheidsversekering.

Terwyl meestal konsensus bestaan dat grondbesit uitgebrei en alle Suid-Afrika-ners beter gesondheidsorg moet kry, gaan die ANC se grandiose voornemens hiervoor mank aan detail, presisie en maatreëls vir skadebeheer.

Dis mooitjies dat die ANC vra vir ’n spieël van buite om homself te betrag.

Was Abraham Lincoln, VSA-president, se spook maar op die manifeskonferensie vaardig. “Jy kan nie die armes help deur die rykes te verwoes nie. Jy kan nie die swakkes versterk deur die sterkes te verswak nie. Jy kan nie welvaart aanstig deur spaarsamigheid te ontmoedig nie,” het ou Abe geglo. Wie ore het . . .

Ook moet Cyril die gesplete ANC probeer herenig. En na buite voorgee dat alles klopdisselboom met die party is.

Goed en wel dat hy nie die roede spaar nie. Of is dit net lippetaal?

Op die onlangse bekendstelling van die Kgalema Motlanthe-stigting het Rama-phosa dit onomwonde gestel dat die Motlanthe-inisiatief sy seën dra én dat hy glo dat die ANC-regering in talle opsigte gefaal het. Op die beraadslaging oor die party se verkiesingsmanifes het die ANC-leier wéér op indringende kritiek oor die party aangedring.

Nóg ’n aanduiding van die poging om objektief oor die stand van die ANC te oordeel was die akademici, ontleders en aktiviste wat naas nasionale en provin-siale leiers en regeringslui onder die meer as 600 teenwoordiges op die mani-feskonferensie was. Die genooides is gevra om “van buite” ’n oordeel oor die ANC te vel. Dit moet die party help om ’n aanduiding te kry oor ’n visie wat die beste vir die land oor vyf jaar sal wees.

Dis mooitjies dat die ANC vra vir ’n spieël van buite om homself te betrag.

Soms is ’n spieël onnodig om jou eie agterent te sien. Waaragtig gaan g’n spieël werk vir ’n party wat in sy manifesgesprekke die veroordeelde bedrieër Tony (Wa-Benzi) Yengeni as voorsitter van die werkgroep oor misdaad en korrupsie het nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Anc  |  Rubriek  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.