Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
G’n waarborg van Biden se sukses nie

Twee groepe is nie beïndruk met die kabinet wat die aangewese Amerikaanse president, Joe Biden, vandeesweek bekend gemaak het nie.

Die kabinet bestaan naamlik uit mense wat stewig in die sentrum van die Amerikaanse politieke spektrum staan – almal gematig. Soos Biden self en sy aangewese visepresident, Kamala Harris, trouens ook.

Die twee groepe is die linkse en regse ekstremiste.

Die Demokratiese Party se militante linkervleuel, mense wat hulself dikwels “demokratiese sosialiste” noem, gaan daarvan uit dat Biden se oorwinning in die verkiesing aan húl hulp te danke is. Dat hulle gevolglik beloon moet word in die vorm van belangrike regeringsposte en ’n swenk na links op die terrein van beleid.

Hulle het dit nie gekry nie.

Terselfdertyd is die regtervleuel van die Republikeinse Party ewe verbitterd.

Dis mense wat trouens saam met pres. Donald Trump vashou aan die leuen dat Trump eintlik in ’n “aardverskuiwing” gewen het, en dat die verkiesingsuitslag ’n massiewe Demokratiese bedrogspul is.

Trump het tientalle hofsake begin om die uitslae omver te werp, maar die regters het hom elke keer ’n gevoelige bloedneus gegee. Dat sy regspanne gelei word deur Rudy Giuliani, ’n man wat die indruk wek dat hy dalk in ’n gestig tuishoort, het nie gehelp nie.

Biden het vandeesweek ook belangrike aanduidings van sy buitelandse beleid gegee.

Daar moet nie outomaties aangeneem word dat Biden ’n groot sukses gaan wees nie.

Sy aangewese minister van buitelandse sake is Anthony Blinken, wat onder oudpres. Barack Obama onderminister in dié portefeulje was en heelwat ervaring op dié terrein het. Blinken is ’n oortuigde multilateralis, iemand wat glo in internasionale samewerking, pleks van die stoomroller waarmee Trump oor die wêreld heen (met inbegrip van sy bondgenote) geloop het.

Tweedens het Biden in ’n toespraak verklaar dat Amerika “terug” is. Waarmee hy bedoel het dat Trump se rampspoedige houding van Amerika eerste en na die hel met die res vervang sal word met Amerika sáám met die res.

Wat nie beteken dat Biden die houding van sy Demokratiese voorganger, Obama, onveranderd sal kan voortsit nie.

In die afgelope vier jaar het die wêreld immers behoorlik verander. Die belangrikste verandering is dat China in die grootste bedreiging vir wêreldvrede ontpop het. Obama het China al stewig aangepak, maar Biden sal sy spiere nog meer moet bult – en terselfdertyd lig loop om te voorkom dat die mededinging onbedoeld op ’n verwoestende oorlog uitloop.

Waar Biden ’n behoorlike verskil kan maak, is dat die bande met Europa en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) weer verstewig word, pleks van die brute wyse waarop Trump alle vriende gereeld met oorgawe beledig het.

Daar moet nie outomaties aangeneem word dat Biden ’n groot sukses gaan wees nie. Die Pruisiese generaal Helmuth von Moltke het destyds al gesê geen krygsplan oorleef eerste kontak met die vyand nie.

  • Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Joe Biden  |  Wêreldburger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.