Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
God waak en ons is nie alleen
Elmarie Dercksen

Die afgelope paar weke was ek met verlof. En soos dit maar is, bring doelbewuste ontspanning ’n bepaalde perspektief: in hierdie geval ’n reis nie net na die droë Noord-Kaap nie, maar ook na binne. ’n Mens moet ’n paar antwoorde vind waarvoor daar nie weer tyd sal wees nie. Hoekom raak ek moeg en gespanne? Kan ek dit beter hanteer? Waar vind ek my vrede? Wat is vir my belangrik?

Skaars terug by die huis, hou ons Pinkster, met die tema ’n herontdek-king van die mistiese spiritualiteit, ’n ou-ou Christelike tradisie. Ons waar-deer weer dat dit goed is om soms nie te weet nie, dat Jesus ook soms vaag en misterieus was, dalk juis om Sy volge-linge weg te hou van valse sekerhede wat veroordeling en geweld veroorsaak.

Ons aanvaar weer dat ons strewe nie een na perfeksie (of geld of sukses of aansien) behoort te wees nie, maar eer-der een na eenheid met God. Ons be-dink weer die wete dat gebed nie net ’n wenslysie is wat ek na ’n Kersvader-god vat nie, maar ’n inoefening van dit wat reeds is: wie God is, wie ek is.

Die hele week is – op ’n ander manier – ook ’n reis na binne.

Die hele week is – op ’n ander manier – ook ’n reis na binne.

Daarom lees ek ná afloop van die Heilige Gees-fees die Pelgrimsliedere, Psalms 120 tot 134. Die wandelliedere, deur eeue oorgedra deur diegene wat opgaan na Jerusalem vir die voorge-skrewe feeste. Ek haak vas by nommer 127 (die eerste van ’n tweeling, saam met 128). Die openingsverse is diep mooi, soos net ’n lied kan wees:

“As die Here die huis nie bou nie,

Swoeg dié wat daaraan bou, tever-geefs.

As die Here die stad nie beskerm nie,

Waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

Tevergeefs dat julle vroeg opstaan

En laat gaan slaap

Om met moeite ’n bestaan te maak.

Vir dié wat Hy liefhet,

Gee die Here dit in hulle slaap.”

’n Lekker vakansielied, die ideale oorkussing vir ledigheid! Tog dink ek nie dit was die skrywer(s) se bedoeling nie; hulle weet bou en waak is in die menslike aard. Dis goed dat ons dit doen. Dis goed dat ons konstruktief besig is, welvaart skep, ’n nalatenskap verseker. Dis goed dat ons gesinne versorg en veilig is, dis goed dat ons die beste vir ons land wil hê, dis goed dat ons jaloers waak teen korrupsie en magsmisbruike.

Maar wanneer ons begin dink ons is alleen daarmee besig, is ons arrogant.

Wanneer ons dink dat God slaap, of geen invloed het nie, word ons klein godjies in hierdie wêreld. En die las daarvan is vir ons te veel: Dit steel ons vrede, maak ons gespanne en trek ons prioriteite skeef.

Ek lees in Business Week ’n artikel oor werkolisme, waarin ’n sober ver-slaafde sy persoonlike ervaring beskryf. Hy vertel dat dit gevoel het of hy met ’n naelstring aan sy rekenaar vas is, selfs in die verkeer of by die huis; hoe hy beleef het dat hy eintlik dag en nag moet werk, anders gaan sy wêreld in-eenstort.

En dan probeer ek vashou aan die pelgrimservaring van die afgelope paar weke: die wete dat wéés genoeg is, dat ek nie altyd hoef te presteer nie; die wonder van leef in die oomblik, ter wille van sonsondergange saam met my mense; die soete slaap van ’n moeë wandelaar.

Miskien is dit ’n goeie metafoor om te gebruik teen die middel-van-die-jaar-haastigheid wat ons spoedig gaan tref: die pelgrimstog. Ons is immers almal op pad na ’n heilige bestemming. Kom ons help mekaar, oud of jonk, ryk of arm. Kom ons pak weinig in, sodat ons nie swaar hoef te dra nie. Kom ons ontdek die avontuur van lewe in oorvloed.

God is ook aan die bou, en aan die waak.

Ons is nie alleen nie.

Meer oor:  Elmarie Dercksen  |  Sielsgoed  |  Sielsreis  |  Binnereis  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.