Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goed en bloed, van ’n naald tot 'n koevoet
Prof. Gerhard van Huyssteen

Sondagmiddae, ná kookkos en ’n middagslapie, gaan hang ek en my twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, in die netjiesste stadspark in Pretoria uit.

Dis hul tyd om vrylik met die ander hondekinders – van alle groottes, mate en herkomste – te rinkink; dis mý tyd om die Saterdag-Beeld en Sondag-Rapport te lees.

Onder die hondeouers is daar ook tot ’n mate ’n ryke verskeidenheid. Verlede jaar se wenner van die Varsgebekkompetisie, André Oberholzer, dwaal daar rond met sy twee schnauzers. Johrné van Huyssteen, sy pragtige vrou, hul groot Deense hond en vrolike ghantangbrak (van vergesogte oorsprong) verskaf vermaak.

Vra die Duitse herdershond se ma, Natie Rossouw Kruger, twee vasvravrae: “(1) Waar kom die Engelse uitdrukking the whole nine yards vandaan?”, en: “(2) Wat is die Afrikaanse ekwivalent daarvan?”

Volgens die HAT is ’n katot óf ’n blikhouer waarin kos gekook word óf ’n soort hoedjie. Dalk eet jy die hele katot kaboemielies op, maar dit lyk my ongesond en onwaarskynlik.

Vraag een blyk sonder antwoord te wees. Die Amerikaanse fraseoloog Fred R. ­Shapiro bestempel dié vraag as “the most prominent etymological riddle of our time”, terwyl die New York Times-rubrikant William Safire al met Larry King daaroor gepraat het en nege rubrieke daaroor geskryf het. Niemand weet nie.

Vraag twee is interessanter. Facebook-vriende laat waai met ’n paar vertalings:

  • Die hele boksendais: Dié uitdrukking kom uit die Engelse “box and dice” – ’n australisme wat so goed as onbekend in Engeland en die VSA is. Die “box and dice” verwys na die houertjie en dobbelstene waarmee straatspeletjies dikwels gespeel word.

Jy het niks anders nodig as jou “box and dice” nie, die hele boksendais (of boksemdais).

  • Die hele kaboedel (of keboedel of keboel of kaboel): Oënskynlik lyk dié ook op die Engelse caboodle, maar in wese het dit Nederlandse wortels. Reeds in Middelnederlands kry ons bodel, wat later boedel (“roerende goed”) geword het. Op sy beurt is boedel die oorsprong van allerlei woorde, soos warboel, janboel en beesteboel. Verder terug hou dit verband met die Protogermaanse *b’nd’n- wat gebou beteken het en wat ons vandag nog in die Engels abode sien.
  • Die hele katot (of ketoet of toet of toetie): ’n Klomp mense ken die uitdrukking, maar die woordeboeke swyg. Volgens die HAT is ’n katot óf ’n silindervormige blikhouer waarin water of kos oor ’n oop vuur gekook word óf ’n soort hoedjie. Dalk eet jy die hele katot kaboemielies op, maar dit lyk my ongesond en onwaarskynlik. Tot my verrassing dui die WAT aan dat katot (of ketot) ook as byvoeglike naamwoord gebruik kan word: “ ’n Vrou wat deftig aangetrek is, is ketot of aan haar lyf gevat.”

Volgens die WAT is dit moontlik ’n vervorming van die agternaam van ’n ene ­Catoggio, ’n gesiene Italiaanse edelman wie se enigste dogter met ’n nooi De Villiers in die 19de eeu hier aan die Kaap kom staan trou het. Maar dié gesiene Paarlse familie verboers toe rap-rap en word (spottenderwys?) die Kators-De Villiers’s. Ook hier lyk dus ’n doodloopstraat te wees.

  • Met huitjie en muitjie: Ewemin weet ons waar hierdie uitdrukking vandaan kom. Die waarskynlikste verklaring is dat dit te doen had met twee ou maataanduidings: hoed en mud (soos in ’n mudsak). Met huitjie en muitjie beteken: “Dis alles, in alle mate.”

Nes al die vrolike honde en hul ouers in die park.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.