Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goedguns-gees van Merriespruit is te dun gesaai

Vandag 19 jaar gelede het die wêreld toegekyk hoe Al-Kaïda-ekstremiste teen Amerikaanse toringgeboue vasvlieg en duisende se verminking en dood meebring.

Terwyl hardlopende mense in rook en stof versmoor en desperate vasgevangenes uit hoë vensters spring, het ek gedink dis hoe die oordeelsdag gaan lyk.

Tussenjare het die lewe voortgegaan, maar daardie berekende daad van waansin het ’n brandmerk van wantroue op die mensdom afgeëts. Soos dit in my kop aangeteken staan, het sekerheidsmaatreëls van daardie dag af ’n nuwe dimensie aangeneem.

Amper twee dekades later kom die koronavirus en niemand vertrou enige asemhalende wese wat binne raakafstand kom nie. Tog glo ek die ingebore drang van spontane vertroue en uitreiking in krisistye is iets wat nooit sal vergaan nie. Juis hierdie week kyk ek ’n program oor die gebeure op die aand van 22 Februarie 1994 in Merriespruit, ’n myngemeenskap in Virginia.

Daar is ’n siekte in die derms van Suid-Afrika wat so gevorderd is dat ek nie weet hoe dit ooit kan genees nie.

Hoewel dit lank voor 11 September 2001 en die koronavirus was, het die mense van Merriespruit en die omgewing nie gehuiwer om tot mekaar se redding te kom nie.

Net toe die inwoners van Merriespruit gereedmaak om te gaan slaap, breek die slikdam se wal ná swaar reën en die dorp word deur modderbranders oorstroom – stinkende mynmodder wat die vel brand en jou insuig soos dryfsand. ’n Donderende geweld wat die krag afsny en huise met een swiep wegvee.

Nou, 26 jaar later, vertel mense wat deel was van die “Nag van die modder”, soos dit destyds in Huisgenoot genoem is, van die kameraderie wat op daardie donker nag in Merriespruit geheers het. En dat die gees van onselfsugtigheid en goedguns vandag steeds deel van die hartklop van Merriespruit is.

Wanneer ek van sulke tragedies hoor, raak ek opnuut briesend oor die korrupsie wat met die koronavirusplaag saamloop. Watse soort mense, verál leiersfigure, bedink slinkse planne om te skep uit ander se ellende? Steel kospakkies wat geskenk is vir medemense wat in haglike omstan-dighede bewe van honger? Dis nie of dit weelde-kos was nie. Mieliemeel, wortels, soppoeier, boeliebief . . .

Dis ’n sonde, ’n klaaglike skande, ’n menseregtevergryp. Nou hoor ons g’n woord daarvan nie. Dalk is my ore verstop, maar ek hoor van niemand wat vervolg en gestraf is nie. Oral word kommissies van ondersoek aangestel, maar alles loop op niks uit. Daar is ’n siekte in die derms van Suid-Afrika wat so gevorderd is dat ek nie weet hoe dit ooit kan genees nie. Ons land is aan die doodbloei van dermperforasie.

Die goedgunsgees van Merriespruit is dun gesaai. Al wat ons daagliks sien, is die esprit de corps tussen kaders wat kyk hoe hulle mekaar van die tronk kan red.

Dis weersinwekkend.

  • Op Sondag 13 September om 20:30 is daar op Via ’n heruitsending van Nag van die modder.
Meer oor:  9/11  |  Tragedie  |  Rampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.