
Bun Booyens
Netwerk24
Toneel een. ’n Rioolpyp by my huis raak verstop. Ek bel ’n sanitasie-franchise. Die kontakpersoon is hulpvaardig, selfs vrolik, en sê die span sal oormôre teen elfuur daar wees. Ek vra vir ’n volgnommer. “Nee wat, dis glad nie nodig nie,” sê sy.
Twee dae later is daar teen elfuur nog geen aksie nie. Twaalfuur . . . niks. Ek bel.
“Die manne sukkel ’n bietjie met selfoonontvangs daarso,” sê die operateur. “Die werk by ’n ander huis in die area vat langer as wat hulle gedog het, maar no problem, hulle sal sommer nou-nou daar wees.”
Eenuur. Twee-uur. Die kwik in my moermetertjie begin styg. Ek het ’n klomp ander dinge om te doen, maar kan nie waag om my huis te verlaat nie, want dan daag “die manne” dalk voor dooiemansdeur op. Ek weet nie waar hulle is nie en hulle bel my nie. Ek’s gesnoeker.
Skuins voor drie-uur daag die tweemanspan uiteindelik op en sorteer die verstopte rioolpyp heel flink uit.
“Werk jul selfone nou weer?” vra ek. Hulle frons. Daar was geen probleem daarmee nie. “Het julle nou net by ’n ander plek hier gewerk?” Nee, hulle het pas van die hoofkantoor op ’n buurdorp deurgery hierheen, 50 km ver. “Was my afspraak op jul lys?” Nee, netnou was die eerste keer dat hulle van my pyp in kennis gestel is.
Die moltreine loop nie. Zeke moet nou uit Bellville help.
Toneel twee. ’n Vriend, kom ons noem hom Zeke, vertel: Sy skoonsuster en skoonma is in die buitewyke van Parys, Frankryk. Hulle moet vinnig by die lughawe aan die ander kant van die stad kom vir hul vlug Suid-Afrika toe, maar daar is ’n vervoerstaking. Die moltreine loop nie. Zeke moet nou uit Bellville help.
Hy bespreek ’n rit via Uber. Die drywer antwoord met ’n boodskap in Frans. Zeke, wat nie Frans verstaan nie, stuur dit vir sy skoonsuster: Die huurmotor is op pad na die optelpunt, die twee van hulle moet aan die oorkant van die pad wag, dan sal alles gladder verloop.
’n Paar minute later sien Zeke op sy selfoon se padkaart hoe die huurmotor vertrek, aanvanklik rukkerig in die verkeer en dan al vinniger op die snelweg. Hy volg hulle tot waar hulle by die lughawe stilhou, betyds vir hul vlug.
Toneel drie. Ek bestel ’n pizza aanlyn met ’n kliek op ’n spyskaart. Op my selfoon sien ek waar die afleweraar trek. Daar tel hy nou die bestelling op; oor 10 minute sal hy hier wees; nou is hy by die verkeerslig straataf en ek kan hom buite inwag.
Als is klaar betaal, daar is geen gevroetel met kleingeld nie, en ek kan hom ná die tyd ’n fooitjie via die app gee.
Nou, vir daardie dreinmense wil ek net sê: Wanneer jul maatskappy stadig begin sterf, moenié sê dit is omdat die ekonomie traag is en Cyril nie wil ingryp nie.
Dis omdat goeie diens in die nuwe ekonomie veel meer vereis as ’n opgeruimde telefoonoperateur wat sê: “No problem, die manne is op pad en sal nou-nou daar wees.”