Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie einde is om Aussies se dag te bederf

Nee, kyk mense, nou is daai Proteas van ons witwarm en op vorm!

Kan iemand dalk net asseblief vir my sê wanneer die Wêreldbeker-kriekettoernooi begin? Wáááát, eers in 2023? Kannie wees nie, hulle het dan gesê dis vanjaar!

Blouwillem
Blouwillem

Ag, oukei, ek’s maar net ’n bietjie moedswillig, maar darem bly dat ons die Aussies se dag so lekker kon bederf.

Ja wat, al lek ons nog wonde, is ’n goeie einde nooit te versmaai nie.

My kortbroek-dominee preek juis laasweek oor goeie en slegte eindes. Jy kyk maande lank Game of Thrones en dan eindig hy so uiters vrot.

Maar aan die einde staan “To be continued”, en jy skep nuwe moed. Soos dominee so mooi verduidelik, soms dink jy jou trein het sy bestemming bereik of selfs ontspoor, maar jy klim dalk net oor op ’n trein met ’n beter bestemming.

Pleks ek luister na die res van die preek, sit ek toe en dink aan dáái aand in Sunnyside, doer in 1977. ’n Aand met ’n slegte en toe ’n goeie einde (of amper ’n goeie einde).

Ons tweetjies bly daai jare in ’n klein woonstelletjie daar in Gezina en naweke moet jy eenvoudig daar uit. Dis Vrydagaand en ons gaan fliek in Sunnypark met die briljante idee (van my natuurlik) om ná die tyd ’n lekker dik T-been en groot uieringe by Billy’s Baked Potato te gaan eet.

Die sappige, romantiese fliekie wat vroutjielief vir ons uitgesoek het, loop mooi en living hap­pily ever after is amper daar en dan kan ek daardie 600 g bees wat Billy’s op ’n special het, gaan takel.

Soms dink jy jou trein het ontspoor, maar jy klim dalk net oor op ’n trein met ’n beter bestemming.

Maar o wee, toe nie! Die fliek het ’n patetiese, hartseer einde en langs my is dit net sagte snikkies en trane, my sakdoek sopnat. Buite gekom is Liefie te ontsteld om te eet en die T-been word ’n veraf, onvervulde droom. Nou moet jy vinnig dink, Blou, sê ek vir myself daar in Esselenstraat. En toe dink ek vinnig.

“Dis vir my vreemd dat die fliek so heeltemal anders as die boek eindig,” sê ek op die ingewing van die oomblik.

“Is daar ’n boek ook?” vra sy tussen die traantjies deur.

“Ja, ek het hom verlede jaar al by ou Tienie geleen,” lieg ek flink, “maar kom ek gaan vertel jou die einde by Billy’s”.

Op pad na die eetplek dink ek franties die perfekte, kreatiewe einde uit en droog my Pop se traantjies net daar op en is haar eetlus sommer terug. Lekker, man, lekker!

Maar daai Sondagoggend in die kerk begin ek wonder of ek nie moet bieg nie, want netnou vertel sy vir vriendinne van die boek en dan is daar nie so ’n boek nie, en toe ons die aand die bedliggies afskakel, sê ek: “Skattebol, daar’s iets wat ek jou moet vertel.”

Slegte einde, manne, sleg!

Maar dis nou 42 jaar later en sy is nog lief vir my.

Goeie einde!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.