Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie én slegte nuus oor NVG
Gert Coetzee

Regter Raymond Zondo het Woensdag die staatskapingskommissie se korona-stilte verbreek.

Hiernaas is dit verblydend ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) haal die nuus. Oor kanse wat na sy kant toe kom en oor versterkings.

Twee jaar ná pres. Cyril Ramaphosa se beloofde ommeswaai van die NVG is dit van dwingende belang dat dié grondwetlike vaandeldraer met die vervolging van sleutelfigure in die onverkwiklike staatskapingsage begin.

Wat nog te sê van beslissende seges in die stryd teen korrupsie beklink.

Twee gulde geleenthede vir die NVG het hulle onlangs kom aanbied.

Eerstens laat die openbare beskermer se Vrystaatse asbesdak-verslag min twyfel Ace Magashule, wat nou die septer in die ANC se Luthuli-huis swaai, was as premier minstens op die hoogte van die soveelste bedrieglike kontrak van sy provinsiale regering.

Dit skep hoop dinge gebeur stadig maar seker. Al is dit nie vinnig genoeg nie vir Suid-Afrikaners wat tereg ongeduldig is dat staatskapers boet.

Tweedens het die NVG ’n strafsaak “op ’n skinkbord ontvang” van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) toe die hof Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), ingevolge die Maatskappywet tot misdadige direkteur verklaar het. In haar uitspraak het regter Ronel Tolmay juis opdrag gegee alle inligting oor die hofsaak moet aan die NVG gegee word.

Dinsdag is berig oor die welkome aanstellings van twee nasionale NVG-adjunkdirekteurs (advv. Ouma Rasethaba en Rodney de Kock) en ’n direkteur vir strategiese sake (adv. Mthunzi Mhaga) in die kantoor van adv. Shamila Batohi, NVG-hoof.

Ramaphosa het gesê sy aanstellings, in oorleg met Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, en Batohi, is noodsaaklik vir die NVG se funksionering. En die reaksie was positief, veral vanweë hul ervaring.

Dit skep hoop dinge gebeur stadig maar seker. Al is dit nie vinnig genoeg nie vir Suid-Afrikaners wat tereg ongeduldig is dat staatskapers boet.

Immers is dit al meer as ’n jaar sedert die aanstelling van adv. Hermione Cronje as hoof van die NVG se nuwe ondersoekdirektoraat wat veral hoëprofielkorrupsiesake sal pak. Ewe lank gelede het Pieter-Louis Myburgh se Gangster State oor die ontrafeling van die einste Magashule “se web van (staats-) kaping” veral in die Vrystaat verskyn waarvoor hy onlangs weer bekroon is. Magashule se dreigement van dagvaarding was ’n hol geluid.

Ook Myburgh het in ’n onderhoud in Volksblad kommer oor probleme in die NVG en trae ommekeer uitgespreek.

Tydens staatskaping se opsetlike ondermyning van die NVG is kundiges uitgewerk. “Vrot appels” wat weens politieke motiewe en gehegtheid aan die “ou orde” ondersoeke kelder, het oorgebly, het hy gesê.

Hopelik help die nuwe aanstellings om die NVG se stadige skip te swaai.

En onlangs het Batohi LP’s verseker “baie gebeur ten opsigte van korrupsiesake én betrokke individue”.

Die slegte nuus is die stelsel vir vervolging is nie ontwerp om hoëprofielkorrupsiesake doeltreffend én vinnig af te handel nie. In die Vrystaat se Estina-suiwelbedrogskema het tegniese onbeholpenheid vervolging verongeluk.

Die NVG se strategiese planne vir die volgende vyf jaar sluit in om die stelsel doeltreffend te kry, beloof Batohi.

En die NVG het nou by monde van sy Vrystaatse en Noord-Kaapse woordvoerder beloof aanklagte teen die Estina-bedrieërs gaan heringestel word.

Intussen dien die “werklose” Myeni, wat die SAL amper eiehandig gekelder het, steeds as adjunkvoorsitter van Mangaung se Centlec-direksie, waar sy R274 000 per jaar verdien.

Vyf jaar vir die regruk van die NVG gaan te lank wees.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Nvg  |  Goeie Nuus  |  Staatskaping  |  Koronavirus  |  Slegte Nuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.