Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie en slegte nuus oor rugby in lewe hierna

Ek en my ou maters lees die afgelope week van die jarige oom wat daar in Skotland so op sy 95ste verjaardag sy ou tokse aangetrek en weer rugby gespeel het.

Nou ja, die meeste ooms wat so ’n mooi ge­seënde ouderdom bereik, se hooftydverdrywe is om daar by die kieriekasteel net asem te haal en oë te knip, maar nee, die hupse oom Easton Roy moes eenvoudig net weer op die veld kom om dalk vir oulaas te score.

Blouwillem

Oom Johnny sê hy wonder of matrone of van die tannies die oom darem vooraf met ’n bietjie Diephiet of Wintergreen bygekom het.

’n Mens raak seker maar stadig warm op daardie ouderdom . . . en dit nogal in Skotland.

Dik Daan sê dit laat hom dink aan die oom wat ook so gek oor rugby was en toe ’n waarsêer gaan sien het om te hoor of daar in ’n wêreld hierna rugby gespeel word of nie.

Die antie met haar kopdoekie en baie oorringe kyk in die kristalbal, wats aap of SMS haar kontakte in die ander wêreld en verklaar plegtig dat daar wel rugby gespeel word.

“Dis die goeie nuus,” sê sy.

“Die slegte nuus is dat jy in môremiddag se span is vir die halfeind teen oom Niek se manne.

“Maar gelukkig vir jou is jy darem net op die bank sodat jy eers van die vlugflouheid kan herstel.”

Nee kyk, as daar nou ’n gevaarlike ding is, is dit om weer die tokse aan te trek as jou tyd lankal verby is.

In die 70’s was daar hier in Pretoria so ’n wilde oumanliga waar ons mekaar Dinsdagaande daar langs die dieretuin by die ou Oostelikes kis toe en hospitaal toe geduik en gefoeter het.

Eintlik was dit maar net ’n rookskerm vir werkende ouens om onder die dekmantel van ’n “kantoorwedstryd” in die middel van die week ook te kon kuier.

Dis nou as jy nie by die ou Verwoerd-hospitaal by ongevalle vir gips gewag het nie.

As jy wil, vra ’n bietjie die skroef in my linkerenkel oor daai aand toe ons teen die brandweer gespeel het met drie brandweerwaens wat sirenes ooptrek elke keer as hul manne net lyk na punte.

Maar nog gevaarliker as daai soort wedstryde is skoolwedstryde.

Nie skooloutjies teen mekaar nie. Nee, van daai simpel, lewensgevaarlike sirkusse met die pa’s teen die onderwysers.

Dis in daai desperate poging om op 40 plus (ja, nie 95 nie!) jou seun, sy gr. 4-juffroutjie en jou eie skeptiese vroutjie te beïndruk dat jy jou beste skool-sidestep ten toon wil stel, voel jy begin struikel (omdat jy op daai ouderdom vinniger as jyself is), dan versnel om onderdeur jouself te hardloop en jou hamstring terstond aan flarde skeur.

En mammie (met ’n grinnik wat als sê) moet huis toe bestuur en dan chip seun boonop in met: “En dit nogal met ’n oop doellyn, Pa! Jis, Pa, my juffrou het baie gelag!”

Meer oor:  Blouwillem  |  Skotland  |  Rubriek  |  Rugbyspeler  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.