Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie nuus skuil in BBP-syfers
Roelof Botha

Die omvang van die skade wat Covid-19 verlede jaar die ekonomie berokken het, was toe nie so erg soos algemeen verwag is nie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die land se BBP teen heersende pryse (voordat die invloed van inflasie in ag geneem word) in 2020 net minder as R5 000 miljard beloop – slegs 2% laer as die syfer vir 2019. Ongelukkig beteken inflasie dat dié groeikoers afwaarts aangepas moet word, wat volgens SSA op ’n negatiewe groeikoers van -7% te staan kom – nogal vreemd teen die agtergrond van die laagste inflasiekoers in etlike jare. Verbruikersprysinflasie het verlede jaar slegs 3,3% beloop.

Nadere ondersoek laat ook vrae ontstaan oor die metode waarvolgens die mynbousektor se toegevoegde waarde (die bydrae tot die BBP) bereken word. Volgens die amptelike syfers het die mynwese se produksie in 2020 sowat R373 miljard beloop, byna 1% minder as in 2019.

In skerp teenstelling daarmee was die waarde van Suid-Afrika se verkope van minerale verlede jaar meer as R600 miljard, 10% meer as in 2019 en ’n nuwe algehele rekordhoogtepunt.

Mense het meer aan kos, kommunikasie en onderwys bestee.

Wanneer die samestelling van die BBP van die vraagkant beskou word, is dit duidelik dat die staat van inperking weens die pandemie ’n hoë tol op uitgawes aan drank, uiteet, vervoer en ontspanning geëis het. Mense het wel meer aan kos, kommunikasie en onderwys bestee. Eersgenoemde groep behoort vanjaar mooi te herstel en stewige groeikoerse te behaal, veral weens die laer basis wat in 2020 ontstaan het.

Nuwe vaste investering is ook deur die onsekerheid oor die duur van die pandemie geknou, maar behoort vanjaar goed te herstel, veral weens die verlaging van 30% in die koste van kapitaal (soos gemeet aan die prima oortrekkingskoers).

Investering in nuwe produksievermoë staan in die nasionale rekeninge as “kapitaalvorming” bekend en sluit veranderinge aan voorraadvlakke in. ’n Toename in voorraad verhoog die waarde van dié vorming en andersom.

Die pandemie het die ergste daling in die geskiedenis vir die land se voorraadvlakke meegebring, ’n verstommende R165 miljard en meer. Dit is tien keer meer as die daling van net minder as R16 miljard in 2019. ’n Verdere perspektief op die omvang van die daling in 2020 is dat voorraad in die tien jaar van 2010 tot 2019 met gemiddeld R6,9 miljard per jaar toegeneem het.

Dit is wel uitstekende nuus vir vanjaar se groeivooruitsigte, aangesien daar min twyfel bestaan dat ’n ommekeer van dié aanwyser op hande is. Die omvang van 2020 se daling in voorraadvlakke bepaal dat ’n terugkeer na selfs ’n klein styging ’n wesenlike positiewe invloed op die BBP gaan uitoefen.

Voeg nog die regering se nuwe klem op infrastruktuurprojekte en duidelike tekens van herstel in die konstruksiebedryf by die onvermydelike terugkeer na hoër voorraadvlakke, dan bestaan daar sterk dryfvere vir reële ekonomiese groei van meer as 5% vanjaar.

Dit sal pres. Cyril Ramaphosa verheug, aangesien die aansien van die groeigerigte faksie in die ANC (wat teen korrupsie gekant is) deur groter ekonomiese groei en werkskepping ’n hupstoot sal kry. Die stryd tussen Ramaphosa se binnekring en die Zuma/Magashule-faksie word feller. Indien ekonomiese herstel verdere stukrag kan opbou, sal daar genoeg geld in die staatskas wees om wye steun vir die nuwe groeiplan te werf en die Zupta-bende se stemme te verdoof.

Dit sluit finansiële steun aan groot getalle studente, die verlenging van die toelae aan derduisende werklose mense en die versnelling van verskeie werkskeppingsprojekte in.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Besteding  |  Onderwys  |  Drank  |  Kos  |  Bbp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.