Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie sakeman, goeie leier?
Pres. Patrice Talon van Benin tydens ’n staatsbesoek aan Frankryk in 2016.Foto: getty

Pres. Cyril Ramaphosa is ’n effense uitsondering as dit kom by Afrika-leiers. Soos die meeste van hulle is hy skatryk, dit weet ons. Hoewel ’n mens vrae kan vra oor hoe hy so vinnig ryk geword het, is dit duidelik dat hy sy sakeondernemings opgebou het voordat hy president geword het en nie daarna nie. Laasgenoemde is die geval by die meeste Afrika-leiers.

Dink maar aan iemand soos Joseph Kabila, die Demokratiese Republiek van die Kongo se uitgetrede leier, wat die afgelope 12 jaar as president goed munt geslaan het uit sy land se oorvloedige natuurlike hulpbronne.

Mense vertrou Ramaphosa met die staatskas. Totdat die geskiedenis anders bewys, glo die meeste mense ook dat hy ’n demokraat is en sy jare lange ervaring in die vakbondwese hom geleer het om opposisiedenke te akkommodeer.

Dít is seldsaam onder politieke leiers wat uit die sakewêreld kom. Die meeste van hulle verstaan nie die demokratiese spel nie of wil dit nie verstaan nie. Soos pres. Donald Trump wat eenvoudig glo dat hy Amerika soos sy eie maatskappy behoort te kan bestuur. Vergeet van demokratiese instellings, hulle is net in die pad.

Nog ’n Afrika-leier wat soos Ramaphosa eers as sakeman uitgeblink het en toe ’n suksesvolle veldtog gevoer het om tot president verkies te word, is pres. Patrice Talon van Benin.

'n President wat reeds sy eie geld gemaak het, sal ook minder korrup wees, word altyd gesê.

Toe hy in 2016 verkies is, het mense gesê hy sal weet hoe om die land te bestuur aangesien hy baie sukses gehad het met sy katoen- en ander ondernemings in dié Franssprekende Wes-Afrikaland. Ongelukkig is daar geen waarborg dat ’n goeie sakeman ook ’n goeie politieke leier sal wees nie.

Mense het gehou van Talon se vernuwende styl en byderwetse uitrustings. ’n President wat reeds sy eie geld gemaak het, sal ook minder korrup wees, word altyd gesê. Gebeure die laaste paar weke in Benin het baie mense egter van siening laat verander.

Benin is ’n klein landjie en beteken dalk nie veel in die groter prentjie van Afrika nie. Tog het dit groot simboliese waarde. Franssprekende Afrikane sal altyd van Benin praat as ’n voorbeeld van demokrasie. Dit is ’n bietjie soos ons in Suider-Afrika wat in die verlede van Botswana gepraat het as ’n land met min politieke probleme.

In die vroeë 1990’s was Benin een van die min Afrika-lande wat ’n demokratiese regeringsverandering beleef het, terwyl die meeste Afrikalande nog in diktatorskappe vasgevang was. Sedertdien het veelpartydemokrasie gedy en Benin het sy reputasie gestand gedoen.

Talon word egter nou daarvan beskuldig dat hy die opposisie met minagting behandel. Die algemene verkiesing op 28 April het vir die eerste keer plaasgevind sonder enige opposisieparty se naam op stembriewe. Dit was omdat hulle almal deur die verkiesingskommissie gediskwalifiseer is weens redes wat volgens hulle geen gronde het nie.

Protes hierteen het tot ernstige konfrontasie gelei. Verskeie mense is dood, huise is afgebrand en aktiviste is óf in die tronk óf landuit. Op stemdag is die internet ook afgesny. Nou wil Talon ook die grondwet laat verander en sommige kenners beweer hy gaan langer as sy mandaat van ses jaar aan bewind probeer bly.

Liesl Louw-Vaudran

Benin het boonop ook die slagoffer geword van terreurgroepe wat twee Franse toeriste uit ’n wildpark in die noorde van die land ontvoer en hul gids doodgemaak het. Met sulke bedreigings op die horison bestaan die gevaar dat die regering vryheid van spraak en van die media kan beperk in die naam van die stryd teen terreur.

Duidelik is dit nie genoeg om sakevernuf aan die dag te lê as jy ’n demokratiese land wil regeer nie. ’n Volledige aanvaarding van die demokratiese spel is van groot belang. In lande sonder instellings soos ’n onafhanklike verkiesingskommissie, soos Benin, kan dinge maklik skeefloop.

En mag korrupteer – soms selfs die beste mense.

Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies.

Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Cyril  |  Sakelui  |  Politici  |  Sakeman  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.