Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie week, maar vrae hang oor nasiebou

Pres. Cyril Ramaphosa het verseker sy beste politieke week agter die rug sedert hy sy voorganger, Jacob Zuma, by die Uniegebou uitgeskop het. Van ‘n indrukwekkende inhuldiging tot die onbetwiste wenner in die ANC-faksielosgemale met die aanstelling van sy kabinet.

Barnard Beukman

Die kabinet is die afgelope dae reeds oorontleed, maar om saam te vat: hy het sy drie hoofdoelwitte van effektiewe regering, ekonomiese groei in ’n beleggingsvriendelike klimaat en vasskop teen korrupsie en staatskaping met sy kabinet versterk. Daar is ’n sterk kombuiskabinet binne die kabinet wat sy doelwitte ondersteun in die sleutelposte.

Daar is egter ook ’n vierde hoofdoelwit wat hy gereeld opper in die gees van sy onderneming dat gaan poog om nie net die ANC se president te wees nie, maar almal s’n. Dit is sy groot beklemtoning van nasiebou en versoening.

Hoe hy dit gaan doen met twee aktiewe aanvallers van die rasselyn in die land - Nathi Mthethwa en Panyaza Lesufi - in sleutelrolle vir versoening, is ’n teenstrydigheid en groot raaisel.

Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, weet self net so goed soos almal dat hy meer uit genade as verdienste daar is. Hy is een van die plakkaatgesigte wat uit die Zuma-kamp nodig is om te wys almal is in die kabinet verteenwoordig. En is ver geplaas van kritieke sleutelrolle.

Maar vir versoening, nasiebou en eenheid is daar geen beter plek as juis die nuwe saamgevoegte portefeulje nie, veral sport. Nelson Mandela verwys. (In kunskringe is daar wel kommer oor die samevoeging.) Daarom sal Mthethwa, wat onlangs die teregstelling van die MK-soldaat Solomon Mahlangu deur die apartheidsregering voor Jan van Riebeeck se deur gelê het, fyn dopgehou word. Veral om te sien of hy nie die plakkaatgesig van ’n teenstrydige dubbelpratery deur die Ramaphosa-era word nie.

En net as mens dink dat die ANC nie nog verder kan verbaas nie, is Des Van Rooyen toe skielik onttroon as die land se “naweekminister” van finansies met die korste termyn ooit. Sy kameraad Panzaya Lesufi spog nou met die titel as Gauteng se een-enkele-dag-finansies-LUR.

Met die nuwe status van “terug op openbare aandrang” kan mens net voorstel hoe arrogant hy nou gaan wees. Maar ook sy onlangse uitlatings oor die sinloosheid van Afrikaans as onderrigtaal op skool is in direkte teenstelling met wat Ramaphosa tot nou daaroor gesê het.

Sy blatante oneerlikheid oor die mislukking met begrote skoolbouteikens deur die ANC word verdoesel met ’n beeldpoetsery van ongekende skaal.

Op ‘n manier vergestalt die omstredenheid rondom Lesufi nog die “Suid-Afrika van twee nasies - een wit, een swart.”

In die swart gemeenskap is hy ’n uiters gewilde ikoon. En word hy gesien as die suksesvolle drywer van beter dienslewering. Daarom het die ANC - alhoewel daar ongetwyfeld woelinge agter die skerms was - beslis grondvlak onstuimigheid aangevoel oor sy aanvanklike skuif uit onderwys.

Alhoewel ’n opportunis, het hy werkywer waarby min van sy kollegas kan byhou en behaal bepaalde resultate waar dit ‘n groot verskil kan maak. Beeld het hom ook krediet gegee vir sy sinvolle ondersteuning by die Driehoekskoolramp.

Maar wat nou? Nog ’n termyn van afbrekende verdeeldheid in skoolonderwys? Of is dit moontlik tyd dat daar wyse ingryping kom vir ’n nuwe begin deur alle rolspelers? Is dit moontlik?

  • Beukman is redakteur van Beeld
Meer oor:  Vrae  |  Nasiebou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.