Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeie week vir die ANC se Davos-faksie

In gesprekke met internasionale beleggers en fondsbestuurders is daar gewoonlik dieselfde drie primêre vrae wat telkens opduik:

Theo Vorster. Foto: Argief

Gaan Eskom sy skuldverpligtinge nakom; gaan ons eiendomsreg-debat die waarde van produktiewe bates eerbiedig; en vind monetêre beleidsbesluite onafhanklik binne die raamwerk van ’n rasionele mandaat plaas?

Hierdie kwelvrae plaas druk op ons gedwonge regerende koalisie binne Luthuli-huis wat juis verskil oor hoe hierdie beginselsake hanteer moet word.

Benewens die kloof in integriteit tussen die koalisievennote, gaan hierdie kwessie eintlik oor die rol van die staat en wat die rol van die private sektor behoort te wees.

Terwyl hierdie magspendulum swaai, sukkel Skip Suid-Afrika om koers te kry!

Die Davos-faksie van die ANC (daardie deel van die koalisie wat die werking van kapitaal, opbrengs en risiko’s verstaan) het ’n goeie week beleef teenoor die staatskapingsfaksie se effens stiller week.

Die uitdaging vir Eskom is dat van die skuld van ongeveer R450 miljard, wat deur beleggers gesien word as rentebetalende bates, is daar ongeveer R250 miljard wat Eskom nie kan diens nie.

As Eskom ’n onderneming in die private sektor was, sou die banke lankal van hul skuld vir aandele moes ruil in ’n poging om die maatskappy te probeer red.

Die herstrukturering van skuld gaan nie werk nie, dit maak nie saak aan wie rente betaal moet word nie – Eskom kan die rentelas nie dra nie!

Skuld sal van Eskom se balansstaat verwyder moet word sonder dat Eskom-skuldbrief­beleggers (dink pensioengeld) skade ly.

Die gerugte tans is dat ’n deel van hierdie skuld wel in Eskom- aandele omgeskakel gaan word. Die Staatspensioenfonds, waarskynlik die grootste belegger in Eskom-skuldbriewe, se naam word reeds in die gange gefluister.

Op die vraag oor eiendomsreg meen die Davos-faksie in die ANC dat enige verandering aan die Grondwet oor eiendomsreg geen uitwerking op die waarde van produktiewe bates behoort te hê nie.

Dit was verblydend toe oud-pres. Kgalema Motlanthe die afgelope week daarop gewys het dat as jy nie eiendomsreg beskerm nie, jy die waarde van eiendom gaan verwoes en daarmee saam enige ekonomiese groei. Hy het voortgegaan en beklemtoon dat die vernietiging van eiendomsreg die “gemeenskap soos ons dit ken, gaan verwoes, wat gaan lei tot anargie”.

Beginselgewys is Kganyago een van die touleiers binne die Davos-ANC.

Wat betref monetêre beleid binne ’n rasionele raamwerk is die aanstelling van Lesetja Kganyago vir ’n verdere termyn as president van die Reserwebank vir seker ’n oorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa en die Davos- faksie, veral as ’n mens in ag neem hoe aggressief Kganyago op enige inmenging in die rol van die Reserwebank reageer.

Beginselgewys is Kganyago een van die touleiers binne die Davos-ANC.

Dit was dan ook verblydend om die aanstelling van mense soos Maria Ramos en dr. Reuel Khoza op die tussentydse raad van die Openbare Beleggings­korporasie te sien. Albei is mense met kennis van hoe kapitaalmarkte werk en sal positief besluite bydra – nog ’n oorwinning vir die Davos-faksie!

Skip Suid-Afrika gaan langer neem om te draai.

Maar wat verblydend is, is dat die meeste van die oranje ligte na Davos-groen mik eerder as na staatskaping-rooi!

Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Meer oor:  Anc  |  Davos  |  Theo Vorster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.