Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goeienag, Generaal Piet; sien jou weer

Goeienag, Generaal. Ons Cohen, Dylan en Springsteen in een.

Dit is vriend Johann Rossouw se woorde kort ná die dood van Piet Botha, die Afrikaanse blues-rocker.

Charles Smith

Sy song“Goeienag, Generaal” het op dié oomblik orals die blues in huise verdryf waar getreur is oor ’n ou wie se werk baie Afrikaners wat die Grensoorlog en die NP moes oorleef aan die gang gehou het.

Net soos Leonard Cohen, Bob Dylan en Bruce Springsteen ons deur die 90’s gedra het. En vir my The Waterboys, Pink Floyd, Dire Straits en The Smiths.

Afrikaans het sy groot ghoeroe verloor. Die profeet wat deur die land sy kitaar laat huil het en ure lank die songs oor sieners, loners, die langpad, treine, swerwers, en die liefde wat mense ’n streep trek met sy ironie kon uitkap.

“Ja, dit was die oorlog vir die nuwe dag / Vir die kerkraad, swanger meisie wat wag / In die reën, al die kinders wat die dominee seën / Al die jong laaities nou net uit die skool /Welkom, welkom . . .”

Ons het op Naval Hill na sy songs oor spoke geluister; in Die Aasvoëlklub met die trein wat fluit saamgesing en die Bos onthou: “Maar Whitey, jou oë op daardie dag / Was blou net soos die lug / Toe ons weer so kyk / Het ’n AK jou fucked-up geskiet / Goeienag Generaal . . .”

Ek het Sondagaand buite gestaan en na die grys lig gekyk wat oor die stad hang en die Casspirs vol lyke onthou; ’n Buffel wat ’n landmyn getrap het en jong seuns wat duiselig rondsteier met bloed aan die uniforms.

Met Etienne Leroux wat vanjaar 30 jaar gelede dood is, het ek onthou hoe ek en die Nederlandse student Classinus, wat sy tesis oor Leroux gedoen het, een Sondag na sy plaas Ja-Nee buite Koffiefontein en Magersfontein gery het.

Ek het Piet Botha se ’n Suitcase vol winter in die motor gespeel met sy songs soos “Van Tonder”, “In die Transvaal” en “Staan saam burgers” oor die Boereoorlog vol bekfluitjies wat huil. Die wit Wes-Vrystaatse veld en die doringbosse het verbygeflits.

Die wit Wes-Vrystaatse veld en die doringbosse het verbygeflits.

By Leroux se graf op die koppie het ek hom vertel van die siener se storie toe hy hier ’n spookwa met ’n span afrikanerosse verby hoor trek het, kompleet met die uitroepe en die swepe wat klap. Daar was geen wa nie; die ruiters was skimme.

Een Amerikaanse wintersdag in die staat Pennsilvanië het ek en die Afrikaanse sangeres Clarabelle van Niekerk tussen berge en woude vol sneeu gery en by ’n jagter stilgehou met ’n paar coyotes wat aan ’n boom hang. Die bloed het in die wit sneeu gedrup.

Ek het Piet Botha en Jack Hammer se The Pilgrim gespeel, ’n album vol Afrika-klanke. Ons het in die kar gesit met trane in ons oë. Die blues het ons beetgepak in ’n vreemde land.

Ek het weer dié gevoel gekry toe ek bra Piet moes groet.

Jou songs het baie ouens getroos.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.