Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gogga maak nou nie meer vir baba bang

Op die US Woordfees gesels Suid-Afrika se speurverhaalskrywer Deon Meyer dié week met die Yslandse speur- en kinderboekskrywer Yrsa Sigurdardottir.

Is haar voorliefde vir gruwelverhale nie ’n bietjie vreemd nie?

Jana Luther

Nee, sê sy en lag, en meningspeilings bevestig: In Ysland, kouer as koud, met sy lang, donker nagte, glo meer as die helfte van die bevolking – vandag nog – aan elwe, trolle en ander bonatuurlikes.

Selfs kinders bly die grieselrige verhale oor vreesaanjaende wesens nie gespaar nie.

’n Gunsteling is Grýla, wat glo stout kinders vang en sop van hulle kook.

Soms is Grýla ’n trol.

Soms is Grýla ’n wese met hoewe en soms ’n skaap wat loop soos ’n mens.

Partymaal het sy oë agter haar kop, of sterte waaraan haar slagoffers in ballonne hang.

Kinderskrikverhale kom voor in baie lande en in baie kulture.

In die Afrikaanse folklore is die bekendste kinderverskrikker dalk Antjie Somers, ’n geheimsinnige man vermom soos ’n vrou, volgens D.F. Malherbe in ’n “breedgestreepte sisrok” en ’n “rooibont bestroentjie”, ’n soort loshangrok of -baadjie.

In ou Kaapse verhale is daar Doederomandro, ’n “vrees­like, yslike monsterding met ’n skubberige likkewaanstert”. Só beskryf Linda Rode hom in Stories vir die vaak.

Van al die ongediertes, so word vertel, is hy die gevaarlikste omdat hy jou met ’n towerspreuk in sy mag kry.

Ou Blinkoog is ’n skrikgestalte met een oog wat in die donker gloei.

Die enkele oog is gewoonlik in sy voorkop.

Waar die gruwels van die werklikheid dié van die verbeelding oortref, maak gogga nie meer vir baba bang nie.

Blinkoog is ook ’n bynaam vir die duiwel.

Nog ’n bygeloof vertel van die diamantslang wat by water hou, halflyf regop seil en met ’n blêrgeluid mense aanlok om te verslind.

Op sy kop dra hy ’n edelsteen, ’n fabelagtige vuurrooi “karbonkel”.

In 1705 skryf Peter Kolbe, ’n sterrekundige op besoek, dat daar saans teen Tafelberg ’n vreemde lig skyn. Dis die diamantslang se kroon, meen sommige van destyds se koloniste.

In seekoeigate in die Suid-Kaap woon Kaaiman, ’n watergees, halfmens, halfvis, glo.

Vandaar die name Kaaimansgat en Kaaimansrivier.

’n Kappietante is ’n spookgestalte, ’n ouerige vrou met ’n outydse kappie.

Skemeraand by Malmesbury jaag Kapkaatjie kinders huis toe, ’n stok met ’n doek om en met ’n kappie oor die punt.

By Oudtshoorn kruip ’n kwelgees-dwergmannetjie, Kettemekê, glo langs die pad weg.

Nog ’n Afrikaanse bangmaakding is Kokkewiet, altyd gewapen met ’n skerp messie.

By die Waterberg in die gedaante van die gelyknamige voël wat glo die ore sou afsny van kinders wat kaalkop loop in die son.

In die Bosveld, waar hy ook Kappertoon heet, is hy ’n viervoetige diertjie onder die grond wat die tone (af)sny van kinders wat kaalvoet gaan waar hulle nie moet nie.

Maar dit was gister.

Waar die gruwels van die werklikheid dié van die verbeelding oortref, maak gogga nie meer vir baba bang nie.

  • Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans
Meer oor:  Us Woordfees  |  Deon Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.