Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Gom’ van die gemeenskap
Gert Coetzee

Sport is die speelgoedafdeling van die menslike bestaan, het Jimmy Cannon, Amerikaanse joernalis, gesê. Inderdaad. Die perspektief verklaar ook die emosie ná die Bokke se nul-nederlaag teen die All Blacks.

Nes die lewe gaan oor sport oor teikens, struikelblokke, teenstand, spertye, inspanning, strategie, emosie en integriteit. Met rolmodel- en mentorskap deel van laasgenoemde.

Volksblad se kernbesigheid is nuus en ons vaardigheid is joernalistiek. Met die fokus daarop om in te lig, op te voed en te vermaak. Maar as deel van die “gom” van die gemeenskap raak ons ook by “hegtingsprojekte” betrokke. Hetsy dit oor sport, kuns, sake, skole, liefdadigheid of wat ook al gaan. En elk van die agt plaaslike koerante (in Bloemfontein, Kimberley, Welkom, Kuruman, Upington en Kroonstad) in die Volksblad-groep is op hul beurt as mediavennote met eie projekte doenig.

In sport is dit volgende week weer tyd vir die groot “projek” van die jaar met die aanbieding van die Vrystaat Sportsterre van die Jaar. Anders as vorige jare. word dit vanjaar saam met die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Met ’n spesiale fokus ook op skolesportsterre – met eerbewyse vanjaar aan uitblinkers van Jim Fouché, Grey-kollege, Fichardtpark en Oranje, Eunice en St. Andrew. Vorige jare was Sentralers en leerlinge van HTS Louis Botha ook benoemdes.

Met die fokus op sportprestasie, ja, maar ook oor die wyse van deelname en hoe sport jou vir die lewe brei.

Wie beter as Franco Smith, afrigter van die Cheetahs se Curriebeker-wenspan van 2016 (wat met die woord “Omgee” op die trui gespeel het) en Christo Spies, sport- en geestesbreier, om ten aanvoor van skoliere, studente en sportlui hieroor te praat?

Die VK is ’n viering van kuns van gehalte en verskeidenheid oor genres heen.

“En dikwels is die groot kuns die eerste aanduiding van groei en verandering in die gemeenskap waarvan die mense nog nie bewus is nie.” Dié aanhaling uit Berigte te velde (in 1939) geld steeds die Vrystaat Kunstefees wat vanjaar die 17de keer aangebied is.

Die VK is ’n viering van kuns van gehalte en verskeidenheid oor genres heen. Dit behou en verken; voed op en eksperimenteer; stimuleer die sinne én vermaak; en stig aan en bring byeen.

Volksblad se borgskap aan die VK as ’n “sambreel” van die kunste is ons grootste jaarlikse bydrae tot die gemeenskap. Die opbrengs spreek vanself. Vanjaar het tussen 160 000 en 180 000 mense die sowat 340 produksies, besprekings, uitstallings en informele optredes op die VK bygewoon. En die PAP (Publieke Artistieke Projek) op Hoffmanplein het sowat 10 000 mense per dag gelok, meestal toeskouers wat nie gewoonweg aan die kunste blootgestel word nie.

Volpunte aan Ricardo Peach en sy span vir jaarlikse VK-grens-verskuiwings.

Met Volksblad se Ons gee om-fonds is R527 000 ingesamel en verdeel onder 47 liefdadigheidsorganisasies in die Vrystaat en Noord-Kaap in 2016-’17. Ja, die bedrag krimp jaarliks soos die nood styg. Dankie vir u bydrae.

Volgende naweek is die hoogtepunt van die Matrikulant van die Jaar (ook saam met die UV), wat ’n stroom Kovsie-uitblinkers, insluitend ’n Mej. Wêreld, gelewer het.

Daar is ook die Dink-of-sink vir hoër- en laerskole waar jonges met hul flink breine en blitsmonde verstom; die suksesvolle welvaart-en-aftreekongres (saam met Jenwil) en Volksblad se maandelikse kos-en-kunsmark.

Dit verg opoffering en samewerking van baie om naas vandag se nuus op Netwerk24 en môre s’n in die koerant dié soort projekte aan te bied. Dankie aan almal.

Meer oor:  Volksblad  |  Rubrieke  |  Menings  |  Gemeenskap  |  Sport  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.