Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Good, bad, ugly’ in die Vrystaat
Gert Coetzee

Vir volwasse kiesers wat wroeg oor vir wie om oor drie maande nié te stem nie eerder as oor vir wie om te stem, verskraal die Vrystaatse ANC se kandidatelys die keuse.

Die lys is sonder verrassings en die hand van die marionetmeester Ace Magashule lê swaar daarop. Die name is diegene wat aanspreeklik is vir die haglike stand van die provinsie.

Nêrens onder die eerste meer as 30 is ’n kandidaat aan wie die Vrystaat as pre-mier of LUR toevertrou kan word nie.

En die misnoeë van Oupa Khoabane, LUR vir samewerking en tradisionele sake omdat sy naam slegs 25ste op die lys is, is veelseggend. Asook dat Vusi Tshabalala, oudburgemeester van Ma-luti-a-Phofung en Magashule-vriend, sesde en Thandi Reachable, omstrede ANC-burgemeester van Koffiefontein, 20ste op die lys is. In die Ace-netwerk van patronaatskap vir gewillige kaders skeel diens aan die gemeenskap bitter min. Wat saak maak, is waar hulle tot hul eie voordeel op die lys is.

En dat Magashule, as sekretaris-generaal van die ANC, eintlik vanuit Luthuli-huis steeds die diktator-premier sal wees van die Vrystaat as ’n vesting van staatskaping, volgens die Zupta-makromodel, en sameswering teen die meer gematigde Cyril Ramaphosa as ANC-leier en staatshoof.

Nie een kandidaat verdien om ’n lid van die wetgewer of parlement of ’n LUR te wees nie.

Nie een kandidaat verdien om ’n lid van die wetgewer of parlement of ’n LUR te wees nie. Van die hopelike bres op nasionale vlak deur kommissies van ondersoek na korrupsie is in die Vry-staat nie sprake nie. Terwyl die nes van tenders en kontrakte vir nuttelose dienste en niegelewerde infrastruktuur van miljoene verlore rande talle kommis-sies van ondersoek baie lank sou kon besig hou.

Daar is ’n melkplaas sonder melk; vis(s)teelprojekte sonder vis; ’n projek vir ’n nuwe wetgewergebou sonder ’n gebou; peperduur departementele web-tuistes sonder enigiets; paaie sonder teer; munisipaliteite sonder dienste; krane sonder water.

Alles is rakmaatskappye wat die room spoorloos moet aflei na die bevoorregte sakke van diegene wat hulself dienswil-lig die uwe strategies reg in die netwerk van welige afvoerkanale plaas.

Soos op nasionale vlak, kan die EFF ook hier groei – ten koste van die ANC.

Maar Vrystaters kan nie kla nie.

Danksy die kandidate op die ANC-lys is hier ook baie waarvan ons volop het – skatryk politici, slaggate, riool, onkruid, onafgehaalde swart sakke, vervalle infrastruktuur, werkloosheid, armoede en vullisterreine wat chronies brand, soos in die noorde van Bloemfontein waar aangrensende inwoners se herhaalde pleidooie aan die MMMM (mega-moeë Mangaung-metro-munisipaliteit) op dowe ore val.

Diegene wat nasionaal by verstek vir Ramaphosa (en die ANC) wil stem om sy stand in die party te verstewig en (dalk) ’n ommekeer in die land te help bewerk, moet onthou dit gaan aan die saligheid van die Vrystaat niks verander nie.

Hier is selfs nie een kader wat hy kan instuur om met wortel en tak skoon te maak nie.

Wel  watseker is, is dat die ANC die Vrystaat weer gaan buit.

Ondanks die aanspraak op “nierassigheid” gaan kiesers hier, soos in die vorige vyf verkiesings sedert 1994, weer sterk demografies stem.

Soos op nasionale vlak, kan die EFF ook hier groei – ten koste van die ANC. Aan die geheelprentjie gaan dit nie ’n verskil maak nie. Die twee partye wat weer die wit steun gaan trek, is die DA (wat sal moet keer dat die EFF hom nie as “amptelike opposisie” lig nie) en die VF Plus (wat sedert 1994 minstens een lid in die wetgewer behou het). Die “Bad and Ugly” is alreeds hier; tannie Pat se “Good” gaan dit nie maak nie.

Ook in die Vrystaat dus is die keuse of jy vir die ANC wil stem. Indien wel, lees bo waarvoor jy stem. Indien nie: Vir watter een van die res moet jy stem?

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Vrystaat  |  Verkiesing  |  Korrupsie  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.