Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gordhan en kie se spoke lóóp

Die ANC gee jou deesdae min om oor opgewonde te raak.

Maar dis nie die geval met die party se onverwagse aandrang dat die heraanstelling van Brian Molefe as bestuurshoof van Eskom omgekeer moet word nie.

Dis dieselfde ANC wat Molefe, wat die kragreus onder ’n wolk verlaat het, nie so lank gelede nie toegelaat het om sy sitplek as ’n LP in die Nasionale Vergadering in te neem.

Die ANC se teenstand teen die Eskom-direksie en Lynne Brown, sy eie minister verantwoordelik vir dié staatsinstelling, moet verwelkom word. Die direksie se besluit oor Molefe, en Brown se ondersteuning daarvan, is ’n onding en verander moet word, indien nie deur Brown nie, dan deur ingryping van Luthuli-huis.

Molefe is deur die voormalige openbare beskermer (OB) Thuli Madonsela betrek by vermeende staatskaping op grond van sy bande met die omstrede Gupta-familie. Dit is ’n ernstige aanklag wat daarop neerkom dat Molefe nie toegelaat behoort te word om weer ’n gesagsposisie in die openbare sektor te beklee nie. Die Eskom-direksie en Brown se besluite oor hom maak ’n bespotting van die OB se verslag oor staatskaping.

Met Molefe terug in sy ou pos is kommer oor staatskaping by Eskom geregverdig. Kan die land dit regtig bekostig om dié risiko te loop?

Dis te betwyfel. Staatskaping is ’n kanker wat aan die wese van die demokratiese bestel vreet. Dis die regering se plig om dit met mag en mening te beveg en nie om dit makliker te maak vir vermeende staatskapers nie.

Met Molefe terug in sy ou pos is kommer oor staatskaping by Eskom geregverdig

Brown besef dit dalk nie, maar dit is presies wat haar steun aan die Eskom-direksie se besluit oor Molefe doen. Die staatskapers in en buite die regering kan seker nie glo hoe gelukkig hulle is nie. Juis daarom is dit so belangrik dat die ANC ingryp.

Die ANC se ingryping laat die vraag ontstaan of pres. Jacob Zuma, die party se leier, die besluit steun om Brown voor stok te kry. Zuma was agter die besluit om Molefe parlement toe te stuur. Sekerlik is dit nie in sy belang om Brown se besluit oor die heraanstelling om te keer nie. Molefe se heraanstelling sal Zuma en sy bondgenote goed pas.

Van al ons openbare ondernemings is Eskom seker die waardevolste vir staatskapers. Die kragreus sit op kontrakte en tenders van miljarde, net die soort liplek-lekkerte waarna staatska­pers soek.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het hom verlede week kwaai uitgespreek teen korrupsie. Dit kan vertolk word as ’n dwarsklap na Zuma. ’n Mens kan dus verwag dat Ramaphosa sy stem sal voeg by diegene wat daarop aandring dat Brown haar mag gebruik om die Eskom-direksie se besluit om te keer.

Brown se posisie het verras. Sy is altyd beskou as ’n politikus wat korrupsie nie duld nie. Kyk maar net hoe heftig sy selfs gereageer het op die goue handdruk van R30 miljoen wat Eskom beplan het om aan Molefe uit te betaal.

Dit is moontlik dat sy in dié geval geswig het onder druk van Zuma. Indien we laat dit jou dadelik wonder: hoekom? Zuma is in die laaste tyd sy rol as ANC-leier ontneem. Dit beteken sy invloed gaan vinnig kwyn.

Maar hy gaan nog tot middel 2019 president van die land wees en tot dan sal hy ministers kan aanstel en afdank.

Hoe ook al, Brown se besluit om die Eskom-direksie te steun sal waarskynlik verwelkom word deur die president, aan wie sy haar ministerspos tot minstens 2019 verskuldig sal wees.

  • Wat met Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas gebeur het, is nog vars in die geheue. Henry Jeffreys is ’n onafhanklike ­kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Rubriek  |  Mening  |  Staatskaping  |  Molefe  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.