Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gorilla vat net brekie van twee vroue in sy hok
Blou Willem

Die geskiedenis het nou maar eenmaal die geneigdheid om homself te herhaal. Met Tshwanetoria se minstepale werkers se staking, met die gepaardgaande rommelstrooiery (terloops, julle gaan dit self weer moet optel, wie anders?), dink ek aan die keer wat daar ook so ’n rommelstaking was en ons self ons vuilis na die stortingsterreine aangery het.

Vra ek vir Dik Daan of hy al sý vuilis weggery het. “Ja,” antwoord hy, “ek het haar al Maandagoggend teruggevat Bethulie toe.” En toe onthou ek “Ou Vuilis” is sy liefnaampie vir sy skoonma, tannie Joe.

Nog ’n stukkie weernuus was die ontsnapping van Tshwanetoria se Nasionale Dieretuin se gorilla, die 17-jarige Binga. Ook glo gekoppel aan versuim of afwesigheid van werkers wat al sedert middel Junie aan die protesteer is.

Blykbaar het dié rakker (die gorilla, nie die staker nie) hom mooi gedra en soos ’n gewone, betaalde dagbesoeker doodluiters rondgedrentel en is hy onder meer opgemerk waar hy na die flaminke staan en staar het.

Dis maar net menslik van die dier en dierlik van die mens.

Oom Johnny reken dat met twee dames in sý hok, hy ook maar net ’n brekie nodig gehad het om na iets slanker en meer grasieus te gaan loer. “Dis maar net menslik van die dier en dierlik van die mens,” verduidelik die oom.

En dit laat my toe ver terugdink aan ons land se ander wêreldberoemde dieretuin-inwoner, wyle Max die gorilla, wat daar in die negentigs groot nuus was.

Ou Max het dié aand daar in 1997 vroeg gaan inkruip omdat daar, soos vandag, niks op TV was wat die moeite werd was om te kyk nie, min wetende watter chaos sou volg.

Daar storm toe mos ’n gewapende rower, Isaac Mofokeng, met ’n polisieman van Parktown se platpote kort op sy hakke die Johannesburg-dieretuin binne en die voorste ou neem ’n swak besluit en vat kortpad deur Max se hok.

Max takel toe sowel die skurk as die arme polisieman, maar kom ons wees billik, dit is deesdae nie altyd maklik om vinnig die verskil te sien nie.

’n Skoot klap en Max word gewond en Mo-fokeng kry 40 jaar. Later word Max se koeël in die Milpark-hospitaal verwyder (ek hoop darem onder narkose!) en Max word aangestel as ere-kolonel by die Parktown-polisiestasie.

Ek glo dat die onverskrokke Max ver deur die range in die SAPD kon gevorder het as dit nie vir ’n fatale fout van die dieretuinowerheid was nie. Sonder om hom te raadpleeg het hulle besluit dat ou Max, wat heel gelukkig so op sy eie was, damesgeselskap nodig het. Eers net een dame, Lisa, en later ’n tweede, Makoko, daar uit midde-Afrika.

Arme Max, wat in Frankfurt se dieretuin gebore is en net Duits magtig was, sukkel om die Rwandese dames te verstaan en sterf voortydig in 2004 sonder om huweliksgeluk te smaak of weer ’n bevordering te kry. Daar is darem vandag ’n standbeeld van Max as julle die kindertjies soontoe wil vat.

Meer oor:  Blou Willem  |  Vroue  |  Gorilla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.