Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goud, rand loop hand aan hand

Die sterker rand het ’n groot rol gespeel in die besluit van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) om die onsinnige vasklou aan beperkende monetêre beleid effentjies te verslap.

Roelof Botha
Roelof Botha

’n Mens (met skuld) behoort seker dankbaar te wees vir die verlaging van die amptelike bankkoers (die sogenaamde repokoers), maar teen die agtergrond van die hoë werkloosheidskoers is die 25 basispunte werklik verbeeldingloos.

Gelukkig is daar darem aanduidings dat verdere rentekoersdalings in die loop van die jaar verwag kan word wat broodnodige verligting vir verband­houers sal meebring.

Heelwat sogenaamde “markontleders” is onkant betrap deur die herstel in die waarde van die rand die afgelope ses weke.

Die rand het tussen 10 Junie en 24 Julie met meer as 7% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig, wat die MBK se lede waarskynlik oorreed het om hul tradisionele pessimistiese siening oor die land se geldeenheid te verander.

Gesoute ekonomiese ontleders sou bewus gewees het van twee van die hoofredes vir die sterker rand, naamlik die hoër goudprys en die daling in die opbrengskoers op Suid-Afrika se staat- skuld.

Wanneer die oorsese vraag na Suid-Afrikaanse staatseffekte toeneem, soos nou die geval is, dan neem die invloei van geld uit die buiteland toe, wat die land se betalingsbalans ook ’n hupstoot gee en die rand gewoonlik ook bevoordeel.

Die goudprys se skittervertoning het ook ’n reuse-bydrae gelewer tot ’n stewiger wisselkoers. Daar is tradisioneel ’n positiewe, maar soms gesloerde verwantskap tussen die goudprys (in VSA-dollar) en die rand se waarde, amper asof Suid-Afrikaanse goudmyne nie toegelaat kan word om ’n dubbel dividend uit ’n hoër goudprys te verdien nie.

Tussen 2014 en Julie 2019 het die goudprys met net meer as 12% gestyg en het die reële wisselkoers van die rand teenoor die land se vernaamste geldeenhede met net minder as 12% toegeneem – ’n merkwaardige korrelasie wat blykbaar nie deur die MBK raakgesien is nie.

Die goudprys se skittervertoning het ook ’n reuse-bydrae gelewer tot ’n stewiger wisselkoers.

Saam met ’n ewe indrukwekkende vertoning van die ysterertsprys het dié twee kernbelangrike uitvoerprodukte gesorg vir ’n nuwe hoogtepunt vir die waarde van Suid-Afrika se mineraalverkope in die eerste vyf maande van die jaar.

Afgesien van die indirekte bydrae wat die hoër goudprys tot die verlaging van rentekoerse gelewer het, sal dit ook die land se goudmyne in ’n posisie plaas om loonverhogings te kan bekostig.

Ongelukkig het minstens een militante vakbond reeds met ’n belaglike eis vir loonverhogings van sowat 45% vorendag gekom, terwyl ’n woordvoerder van ’n groot myngroep aangedui het dat ’n aanpassing vir inflasie die vertrekpunt van onderhandelings behoort te wees (die huidige inflasiekoers is minder as 5%).

Hopelik sal dié onderhandelings nie weer in ’n staking van etlike maande ontaard nie.

Intussen kan Suid-Afrikaners dankbaar wees dat Amerika uiteindelik die politieke waagmoed aan die dag gelê het om China vas te vat oor dié militêre diktatuur se vergrype met intellektuele diefstal, wat onlangs beraam is op nagenoeg $600 miljard – byna dubbel die waarde van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk.

Die handelsoorlog tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë het ongetwyfeld die vraag na goud aangewakker, wat goeie nuus vir Suid-Afrika se ekonomie is

Meer oor:  Roelof Botha  |  Goud  |  Rentekoers  |  Geld  |  Rand  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.