Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goudstad is ’n sprokie as jy net mooi kyk
Esté Gross

Waarom agtervolg die maan ons – en gaan hy saam see toe? Dis wat ek as klein meisietjie gewonder het wanneer ons in die nag die lang pad uit die stad gevat het vir ons seevakansie.

Die wêreld waar jy klein is en alles om jou groot en misterieus is, is ’n plek waarin ons elkeen net ’n klein rukkie woon. Dit is ’n plek waar jy gelukkig en onbewus van môre se sorge is.

Die maan was vir my ’n vanselfsprekende maat en ’n goeie luisteraar. Hy sou sorg dat die see môre bedaar sodat ek by laaggety in die klam skaduwee skulpe kan optel. Skulpe waarin die see sy geheime fluister.

Konsepte soos afstand, perspektief, kennis van wiskunde en wetenskap en die vereiste van logika en rasionele denke om jou grootmensskoene vol te staan, sou eers later kom.

Namate jy ouer word, wonder jy al hoe minder oor die maan en waar hy gaan slaap. Die see se geheime word gou vergete, bly uitgespoel en wag op ’n ander jong, onskuldige se ore op die strand.

Ek sit ander aand met ’n glasie rooiwyn in die hand op vriende se balkon en kyk uit oor die Goudstad se liggies en vergeet vir ’n oomblik van my begroting, die misdaad onder in die strate en beurtkrag wat op die inwoners wag.

Die stad word ’n groot verjaardagkoek vol flikkerende kerse wat wag op my om met een groot geloofsasem al die kerse uit te blaas sodat my diepste wense waar word.

Ek ontvlug na ’n towerstad. Die snelweg se straatligte vorm ’n aanloopbaan, buig en skyn met hul kopligte oor die pad vir almal wat in die donker sonder ophou soek na die droom wat altyd net om die volgende draai op hulle lê en wag.

Dit is Koos Doep se Sprokie vir ’n stadskind – waar “die reën van stof en roet verby is, en die rook verdwyn” en daar in “die sterrelose hemel ’n neonboog verskyn”.

Die stad word ’n groot verjaardagkoek vol flikkerende kerse wat wag op my om met een groot geloofsasem al die kerse uit te blaas sodat my diepste wense waar word.

Ek droom van ’n stad waar die korrupsie in die swart nag wyk en vir altyd uit die landskap stroom sodat almal oor méér as ’n bord kos, ’n bad, bed, kombers en ’n dak oor hul kop kan droom.

Dat die stadsbewoners besef dat daar goud in hul are vloei en hul panne hoopvol sal bly skep, skommel en soek in ’n modderpan na korreltjies goud wat in die môrelig sal blink. Dat die skatkis toe nié met “ou kettings” gebind is nie.

Ek ontwaak uit my droom.

Om in ’n wêreld te leef waar kinderlike verwondering soms vervang word met ’n wete, is ook goed.

Ek weet dat die maan nie verdwyn wanneer die wolke toetrek nie.

Die see se geheime is steeds hoorbaar vir dié wat wíl luister.

En die ligte bly flikker vol belofte, vir elkeen wat nie hul drome aan hulself oorlaat en in gister vergete los nie.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser, joernalis en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Drome  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.