Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Goue Gupta-kus nou Gupta-vloek
Gert Coetzee

Dit het jare geneem om sover te vorder, maar vir ANC-geilkatte het die goue Gupta-kus nou in ’n Gupta-vloek verander. Ná Nhlanhla Nene se “vrywillige” bedanking as minister van finansies skuif die kollig na ander hoë ANC-leiers.

Vir hoopvolles dat onkreukbares in die ANC oor is, was dit ’n skoot koue water dat Nhlanhla eers onder druk voor die Zondo-kommissie oor ontmoetings met die Guptas gebieg het. Hy is beskou as een van die min “goeies” wat veg om die terugkaping van die staat. As oor hom ook ’n skadu is, wie in die ANC dan nie?

Met sy bedanking het Nhlanhla tog in belang van openbare aanspreeklikheid ’n nuwe maatstaf neergelê vir Gupta-ministers en andere wat tot eie voordeel met die nou berugte familie geheul het – ten koste van die staat en sy mense.

Nhlanhla se “oordeelsfout”, soos pres. Cyril Ramaphosa dit noem, was dat hy – as adjunkminister van finansies – Gupta-lede ontmoet en daaroor gelieg het. Die dae waarin bande met die Gupta-gesin vir hoë ANC’s ’n statussimbool was, is verby.

Asook hul naarstigtelike verdediging, soms met die raskaart, dat niks skort met hul en hul naastes se sake met die inwoners van die Saxonwold-sjebien nie en ook niemand niks skeel nie. Selfs al het die familie ’n parallelle staat van hul bogenoemde adres bedryf. Met Zuma & Kie wat ter wille van die sikkels silwer hierheen geabdikeer het.

Hopelik lui die Nhlanhla-bedanking – of afdanking? – ’n nuwe ANC-kultuur in waarna die belofte van skoon regering in erns nagestreef word.

Die sprekende laagtepunt was toe daardie Van Rooyen-kêrel kortstondige verskrikte roem verwerf het. Nes ’n springhaas wat in die kollig van ’n skiet-lamp betrap is. Hy was minister van finansies vir ’n volle drie dae lank. Dit was nadat oudpres. Jacob Zuma – onthou hom nog? – die einste Nhlanhla weens hakskeen-inslanery oor die kernkrag-transaksie met Rusland afgedank het.

Ace Magashule, oudpremier, het selfs die media gekap oor viktimisasie weens beriggewing dat sy seuns vir die Guptas werk en op hul rekening in ’n Dubaise hotel kuier. Dit was glo bloot toevallig.

Hopelik lui die Nhlanhla-bedanking – of afdanking? – ’n nuwe ANC-kultuur in waarna die belofte van skoon regering in erns nagestreef word. Die inslaan van die nuwe merksteen moet na regte ’n kettingval van ANC-ministers, soos dominosteentjies in ’n ry, ontketen.

Voor in die koor is Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, wat eergister laat aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê het hy het talle Gupta-partytjies, vyf daarvan in Saxonwold, bygewoon, maar was nie persoonlike vriende met hulle nie.

Watter deel van “botsende belange” verstaan die glansminister nie?

Ondanks sy “skakeling” met hulle en al was hy ’n gas op die omstrede Sun City-troue (lees: Waterkloof-landing) beteken dit ook nie hy was iets aan hulle verskuldig nie. Nè! Watter deel van “botsende belange” verstaan die glansminister nie? Of beteken die nuwe Nhlanhla-maatstaf jy mag maar Gupta-bande hê solank jy nie daaroor lieg nie.

Tesame met Gigaba is Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane, Zweli Mkhize, Lindiwe Zulu, Nkosazana Dlamini-Zuma en Gwede Mantashe ander ANC-ministers wie se Gupta-bande volgens Mmusi Maimane van die DA bevraagteken kan word. Maimane, wat sukkel om sy leierstatus te lig, boor raak met die geskrewe parlementêre vrae aan elk van die 35 ministers in die Ramaphosa-kabinet oor of hulle die Guptas ontmoet het. Swyg hulle, is dit ook ’n verdoemende antwoord. Eintlik jammer Magashule, nou ANC-sekretaris-generaal, is nie ook ’n minister nie.

Met sulke karperde kan nie geploeg word nie. Vir Ramaphosa sou hul wegraping sommer sy beloofde kleiner kabinet natuurlikergewys meebring.

Daardie Van Rooyen-kêrel, sy naam is Des, is waaragtig steeds ’n minister, wys Google. Kan nie wag vir sy en ’n paar ander se braaisessie voor die Zondo-kommissie nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Gupta-Vloek  |  Korrupsie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.