Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grense is nodig, maar mure nie
Leopold Scholtz Foto: Foto24

Die korona-krisis het die samelewing, in Suid-Afrika en oor die wêreld heen, tot stilstand gedwing. Nie alleen word mense se bewegingsvryheid aan bande gelê nie, dit dwing die mensdom ook om oor dieper kwessies na te dink.

Oorkoepelend hou rigiede ideologiese denke dikwels nie teen die harde praktyk stand nie. In die verlede was dit die geval met sowel apartheid as die nasionaal-sosialisme en die kommunisme, waar die ideoloë gereken het die praktyk moet hom by die ideologie aanpas.

Sonder om die verskille te ontken kan ’n mens heelparty uitsprake van Hendrik Verwoerd, Adolf Hitler en Wladimir Lenin aanhaal wat dit staaf.

Verwoerd se droom het misluk omdat hy nie kon sien dat die etniese roereier in Suid-Afrika – in terugblik – reeds in 1948 te deurmekaar was vir apartheid om te slaag nie. Hitler het gemeen ’n fanatieke wilskrag is voldoende om teen die oorweldigende mag van die hele wêreld te wen, terwyl Lenin nie begryp het dat die kommunisme regstreeks teen alle ekonomiese wette indruis nie.

Die einde van die kommunisme is opgevolg met wat bekend gestaan het as die Washington-konsensus. Met ander woorde, die liberale veelpartydemokrasie, gekoppel met die kapitalisme. In die proses is een stel ideologiese benaderings egter met ’n ander vervang.

Op politieke vlak is gemeen as die liberale demokrasie goed is vir die Weste, moet dit dus reg vir die hele wêreld wees.

Op politieke vlak is gemeen as die liberale demokrasie goed is vir die Weste, moet dit dus reg vir die hele wêreld wees. Dus is rampspoedige pogings aangewend om die Westerse vorm van die demokrasie selfs met wapens aan lande soos Irak en Libië op te dwing. Selfs Rusland keer terug na ’n diktatuur met “tsaar” Wladimir Poetin aan die hoof.

Op ekonomiese vlak is eweneens ’n ideologiese benadering – dat die staat hom maksimaal uit die ekonomie en samelewing moet terugtrek en alles aan markkragte oorlaat – gevolg.

In ’n land soos Amerika het dit die reeds bestaande ongelykheid behoorlik laat toeneem. Jy sien nou reeds te midde van ’n krisis hoe miljoene arm Amerikaners nie toegang tot behoorlike gesondheidsorg het nie.

Die laaste jare het populistiese idees, links én regs, veld gewen, van Amerika (Trump) tot Duitsland (die AfD) tot Venezuela (Chávez) tot Suid-Afrika (Malema). Dis idees wat steeds meen dat ideologie belangriker as die praktyk is.

Hopelik dwing die korona-krisis die mensdom om van nuuts af oor die aanpak van probleme na te dink en die najaag van ideologiese spookbeelde te staak. Om maar ’n voorbeeld te noem: Dis waar dat talle lande, ook in die Europese Unie, weer grensbeheer ingestel het om die virus te bekamp. Dis ’n praktiese maatreël wat gehandhaaf kan word solank die krisis voortduur.

Daar bestaan geen dergelike droom onder mense wat prakties en nugter na die wêreld kyk nie.

Maar die regses wat nou so juig dat “die globaliste se droom van ’n wêreld sonder grense” (soos een briefskrywer dit stel) daarmee heen is, gaan lelik op hul neus kyk. Daar bestaan geen dergelike droom onder mense wat prakties en nugter na die wêreld kyk nie.

Wat jy wel sien, is toenemende interafhanklikheid. Die probleem van lug- en waterbesoedeling hou nie by landsgrense op nie; internasionale handel, wat vir werk en welvaart sorg, moet noodwendig oor grense plaasvind.

Die nasiestaat sal nog baie lank met ons wees. Maar die geskiedenis leer dat die beperking van internasionale handel, soos wat ná die ekonomiese krisis van 1929 gebeur het, ’n krisis maklik tot ’n depressie kan laat ontwikkel.

Die demokrasie, soos Winston Churchill dit gestel het, is die slegste stelsel, behalwe vir al die ander. Die vrye mark bly die mees verstandige benadering, maar as die mark skeefgetrek word, móét die staat ingryp.

Grense is nodig. Solank hulle nie tot ondeurdringbare mure lei nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.