Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Groen gewete nie altyd vriendelik vir omgewing nie
Bun Booyens

Verlede Donderdag het ek winkel toe gestap, die nodigste kruideniersware gekry, als in my twee materiaal-drasakke gepak, en toe ’n wegneemkoffie gekoop om tuis te gaan drink.

Laatmiddag het ek die tuinsproeier aangesit op ’n deel van ons grasperk wat ek op die eerste dag van die inperkingstyd omgedolwe en bemes het en toe die kikoejoe met minder dorstige buffelsgras vervang het. Alles binne gesonde eko-beginsels.

Die volgende aand lees ek egter dat ek my eintlik skuldig gemaak het aan wat gedragswetenskaplikes “moral licensing” noem. Wanneer mense ’n goeie daad gedoen het, voel hulle dit gee hulle die morele permissie om hulself te beloon – in my geval met ’n Americano in ’n eko-onvriendelike papierbeker, plus 100 liter water vir my lappie buffelsgras. Eina.

Wat wel ’n verskil maak, is of mense die opoffering gedwonge of vrywillig maak.

Navorsers van die Harvard Business School het in ’n twee jaar lange studie bevind dat mense wat hul eie inkopiesakke winkel toe bring, meer “groen” produkte koop – maar hulle koop gewoonlik ook meer lekkergoed, roomys en tjips as “gewone” klante (dit verklaar daardie Aero onder in my inkopiesak).

Dié verskynsel strek wyer as inkopies. In 2011 is 150 woonstelle in Massachusetts, Amerika, in twee groepe verdeel. Die een groep is gevra om water te bespaar (die ander een was ’n kontrolegroep). Die toetsgroep se verbruik het met 6% afgeneem teenoor die kontrolegroep s’n, maar hul kragverbruik het met 5,6% gestyg.

Die goeie daad en die morele beloning het mekaar basies uitgekanselleer.

Wat wel ’n verskil maak, is of mense die opoffering gedwonge of vrywillig maak. In ’n ander eksperiment is mense gevra om hulself in te dink in ’n situasie waarin hulle gemeenskapsdiens verrig het en as beloning tussen ’n stofsuier en ’n duur paar ontwerper-jeans kan kies. Die meeste wou die jeans hê.

Die toetsgroep moes hulself verbeel hulle is tot gemeenskapsdiens gevonnis weens ’n verkeersoortreding. Die meeste van hulle het die stofsuier gekies, waarskynlik omdat hulle gevoel het hulle verdien nie die spoggerige paar jeans nie.

Ek herken ook ’n paar voorbeelde in my eie gedrag. Twee jaar gelede het ek my motor ingeruil vir ’n kleiner model met ligter brandstofverbruik, en sedertdien ry ek sonder veel gewetenswroeging langer afstande.

Op Saterdae neem ek deel aan die Parkrun en voel hoogs tevrede met die 5 km wat ek aflê (al het ’n worshond my eenkeer geklop), maar ek ry sonder ’n skuldgevoel die 7 km soontoe en terug in my motor.

Toegegee, al hierdie drawwers leef nou gesonder en verdien bonuspunte by hul mediese skema. Maar tog, in sy geheel klop die som nog nie heeltemal nie.

Onlangs het prins Harry en Meghan ook onder skoot gekom omdat hulle klimaatkonferensies bywoon en mense aanpor om hul koolstofvoetspoor te verklein, maar dan reis hulle die wêreld vol in ’n private vliegtuig vir hul vakansies.

Dalk skaal hulle nou effens af en sien ons vir Harry, Meghan en klein Archie ná die inperking by ’n Parkrun iewers.

Bron: “BYOB: How Bringing Your Own Shopping Bags Leads to Treating Yourself and the Environment”, Harvard Business School

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Inkopies  |  Omgewingsvriendelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.