Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Groen lote nou oral te sien

Pres. Cyril Ramaphosa het die aanslag en al die talente om Suid-Afrika sy oorlog teen ongelykheid en onstabiliteit te help wen – mits hy ’n bevoegde staat met ’n bekwame tegnokrasie kan bou en politieke verantwoordbaarheid kan herstel.

Daar was die laaste dekade of twee heelparty innoverende voorstelle om die ekonomie ’n steroïed-inspuiting te gee, werkloosheid te bekamp en armoede te verlig.

Nie een van dié kon op dreef kom nie omdat die burokrasie, en telkens ook die politici, te korrup en onbeholpe was en daar byna nooit teen die skuldiges opgetree is nie.

Sedert Ramaphosa se intreerede as ANC-president op 13 Januarie is meer gedoen om korruptes, staatskapers en leeglêers in die bek te ruk as in Jacob Zuma se hele termyn.

Binne ’n maand het die Gupta-ryk begin verkrummel, ’n hele klomp skelms is aan die skarrel en die grootskaalse sabotasie van Eskom is grootliks gestuit.

Regter Raymond Zondo se komende kommissie van ondersoek na staatskaping gaan beslis nie ’n herhaling van regter Willie Seriti se toesmeerverslag oor die wapenskandaal wees nie.

Ons gaan week ná week die kans hê om getuienis te hoor van hoe korrup die Zuma-administrasie was en wie daarby gebaat het.

Intussen moet ons Suid-Afrikaners onsself dit gun om te glo dat ’n Cyrilse Lente vir ons aangebreek het.

Dié proses gaan soos die destydse WVK-proses ’n impak op die nasionale psige hê.

Politieke verantwoordbaarheid is terug op die tafel – daarvan kan die jongste stappe van die Valke, die nasionale vervolgingsgesag en die parlementêre portefeuljekomitees getuig.

Intussen moet ons Suid-Afrikaners onsself dit gun om ’n slag optimisties te wees, om te glo, tot die teendeel bewys word, dat ’n Cyrilse Lente vir ons aangebreek het.

Daar is nog ’n paar yswinde, maar die eerste groen lote is al duidelik sigbaar.

Ekonome kan ons met sobere statistieke probeer oortuig dat ons toekoms donker is, maar hulle meet selde die potensiële impak van die nasionale gemoedstemming.

My ervaring van die politieke teater die afgelope vier dekades sê vir my die huidige positiewe ingesteldheid en die aansteeklike opgewondenheid in die sakesektor en die breë bevolking kan ’n beduidende invloed hê om die pendulum vinniger en hoër terug te laat swaai.

Dis nie sommer Pollyanna-praatjies nie. Ons het ons toon herhaaldelik teen die Zuma-klip gestamp, en ons gaan dit nie maklik weer doen nie: Ons wéét wat die ANC se tekortkominge is, ons verstaan dat Ramaphosa maar min beweegruimte gegun gaan word, ons het geen illusies oor die skade wat die Zuma-era aangerig het wat nou ongedaan gemaak moet word nie.

Ons, die mense van Suid-Afrika, gaan Ramaphosa en sy span met ’n valkoog dophou.

Ramaphosa het in sy staatsrede ’n regmerkie gemaak in byna elke boksie waaraan ek kon dink:

  • die kabinet en die getal staatsdepartemente gaan verklein word; ) die inkomstediens en staatsondernemings gaan gou reggeruk word;
  • oorlog gaan teen korrupsie en wanadminstrasie gevoer word;
  • daar is daadwerklike planne om werkloosheid onder jong mense op te los;
  • die fokus is op ekonomiese groei en die herstel van nasionale en internasionale vertroue; en
  • daar is selfs ’n belofte dat ons die rassenasionalisme van die Zuma-era kan sien taan en dat nierassigheid weer op die agenda gaan kom.

Ek het twee maars:

Een: Ekonomiese groei alleen ondermyn nie ongelykheid nie en dit is Suid-Afrika se grootste enkele probleem. Daar sal dus gesorg moet word dat die onderste driekwart van die bevolking vinniger ryker word as die boonste kwart.

Twee: Ek het nie ’n woord oor klimaatsverandering gehoor nie. Erge droogtes – en soms vloede – is ons voorland. Dit gaan fyn langtermynbeplanning verg.

Intussen verlustig ek my aan die welkome verskyning van nuwe botsels oral.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.