Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grond: Bekyk idees wat almal sal bevoordeel
Erik Holm

Al die rassistiese argumente om grondbesit te herskik (al dan nie) word vir my al hoe snaakser. Ek kan nie help om in my kop die implikasies van stellings soos “Africa for the Africans” te ekstrapoleer nie. Eerstens is daar al die Arabiere in Noord-Afrika. Tweedens die Khoi-San-oerinwoners van die hele Suider-Afrika en dan die Europese oerbewoners van die Kaap en dele van die binneland.

Nog snaakser is dat die Afrikaners ’n heelwat groter persentasie Khoi-San-bloed het as die swart immigrante uit Sentraal-Afrika. Prof. Floors van Jaarsveld het in die 1980’s ’n studie gedoen oor al die troues met “Maria van de Kaap” en ander Van de Kaaps in die Afrikaner-stamfamilies en ’n persentasie van sowat 6% Khoi-San in die Afrikaners bereken. Die Tukkies het hom geteer-en-veer – so asof dit sy skuld was! Dit beteken die Afrikaners het geneties meer oerinwoner-status as die swart stamme.

’n Ander amusante gedagte is om die hele wêreld se grondbesit weer rassisties reg te stel. In die VSA en Australië sal die grond dan onderskeidelik aan die Indiane en die Aborigines behoort, maar in Suid-Amerika, waar die Spanjaarde nie apartheid beoefen het nie, sal ’n persentasie van jou grond moet weggevat word volgens jou persentasie Spaanse bloed.

’n Ander amusante gedagte is om die hele wêreld se grondbesit weer rassisties reg te stel.

Die Europeërs het die enigste beduidende persentasie Neanderdal-gene (die uitgestorwe oerbesitters), maar op ’n subras-vlak bly hulle nie waar hulle moet nie. Ná die val van die Romeinse Ryk het ’n malle migrasie begin, waar een stam weggetrek en ’n ander weer in sy gebied ingetrek het totdat feitlik niemand beland het waar hy begin het nie. As dit reggestel moet word, kry die Duitsers dalk Roemenië en die Roemeniërs Frankryk.

Op ’n ernstiger noot stem die meeste Suid-Afrikaners seker saam dat die swart bevolking in die onlangse verlede onregverdiglik grondbesit ontsê is. Maar om ’n rassistiese onreg te wil regstel met ’n omgekeerd rassistiese onreg is sekerlik nie die intelligentste oplossing nie. Die verlede het ’n manier om nie te wil verander nie, maar aan die toekoms kan ’n mens wel deeglik verander. En dit kan positief geskied.

Een manier is om die koek tien keer groter te maak.

Een manier is om die koek tien keer groter te maak. Met die regte skep van uitvoermarkte, besproeiingskemas en infrastruktuur kan die staat só meer landbougrond beskikbaar stel eerder as om die bestaande ten duurste te koop of, nog duurder, te onteien.

’n Ander konstruktiewe voorstel is dié van Stephen Meintjes (Our Land, Our Rent, Our Jobs) dat grondeienaars huur op grond (gewaardeer sonder verbeteringe) aan die staat betaal. Bestaansboere en natuurbewaring kan kwytgeskeld word. Dié belasting kan BTW, brandstofheffings en ander groeistremmende belastings vervang en sal meebring dat grond nie nutteloos rondlê nie. Hy en sy medeskrywer het die storie in detail uitgewerk. Moeilik om iets te vind wat enige bevolkings- of inkomstegroep kan ontstel of benadeel. Grondpryse sal aangenaam val en banke sal natuurlik hul leningsbeleid moet verander. Dalk is daar nog idees wat ’n goeie toekoms vir almal verseker?

As ekoloog het ek nog altyd gedink grondbesit is op ’n manier so laf soos om ’n stuk atmosfeer te wil besit. Gebruiksreg, ja, maar besit? Ons leen selfs die vruggebruik van al ons nageslagte!

Meer oor:  Erik Holm  |  Mening  |  Idees  |  Grond  |  Grondonteiening  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.