Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grond-bonanza, maar vir wie?

Ek is nou net mooi die bliksem in vir mense wat my land belaglik maak in die oë van andere. Ek is ook vies vir mense wat praat oor die toekoms van die land asof ek geen belang by daardie toekoms het nie en asof ek geen kinders het vir wie se toekoms ek ook wil voorsiening maak en sorg nie.

Ek is vies en voel beledig omdat daar mense is wat meen dat hulle die toekoms kan begin sonder my. Dis ’n ding wat jou koffierig laat voel – soos daai goed wat deur die sakkie val as jy nie versigtig is nie.

Johann Maarman

Die belaglikheid van Calvin Corne­lius – kammakoning van die Kaapse kolonie – het my behoorlik ergerlik gehad. Hierdie selfaangestelde Khoi-San-leier het mos inderhaas verlede week vir die regering kennis gegee dat hy die ou Kaapse kolonie geannekseer het en afgestig het van Suid-Afrika. Hy het ook pres. Cyril Ramaphosa en die staatsdiensamptenare kennis gegee om hul tasse te pak en uit Kaapstad pad te gee, anders sal hulle as vreemdelinge beskou word.

Cornelius, wie sy onderdane waarskynlik uit minder as 12 mense en ’n brak bestaan, het toe sommer terstond die Suid-Afrikaanse vlag by die parlement se hekke gestryk.

Hoekom Cornelius soveel lugtyd gegee is, weet nugter alleen, want van sy planne het dadels gekom en die uitsettingsbevel wat hy aan Ramaphosa beteken het was nie die papier werd waarop dit geskryf was nie.

Maar dit bring my by die uiteindelike punt van die rubriek. Almal eis nou voor die voet grond op. Net ’n paar dae gelede het Trevor Manuel, een van Ramaphosa se vier beleggingsgesante, gesê dit is verskriklik moeilik om Suid-Afrika aan buitelandse beleggers te verkoop omdat ons grondhervormingsplan nie lekker in die broek sit nie.

Want wie wil of gaan investeer in ’n land wat so rondval met ’n grondhervormingsplan? Die een dag hoor ’n mens dat die regering alle grond wil nasionaliseer, net om die volgende dag te hoor hulle wil net gedeeltes sonder vergoeding onteien.

Dis duidelikheid dat die ANC met ’n gesplete tong praat, want hoe vat jy net mense se grond en herverdeel dit?

Natuurlik is grondhervorming nie onderhandelbaar nie. Dit moet gebeur en dit hoort op die politieke agenda, maar dis die wyse waarop dit gedoen gaan word wat gaan bepaal of dit suksesvol gaan wees of ’n misoes.

Maar soos ’n inwoner by die openbare sittings op grondhervorming vir Mosiuoa Lekota, leier van Cope, Woensdag in Noordwes gesê het: 'Of jy daarvan hou of nie, ons vat die grond.'

Kom ons aanvaar dat die grondhervormingsplan die grondwetlike toets slaag – wie gaan eerste in die ry staan om die kaart en transport te kry?

Dink jy vir een oomblik dat die gulsige politici nie deel gaan word van die skielike grond-bonanza nie? Net soos met swart ekonomiese bemagtiging gaan hulle tien teen een eers vir hulself ’n plaas toe-eien, en daarna is dit hul vriende en familie wat kry.

Ons ken mos nou al die ou truuk dat die delers ook maar die stelers is en wanneer die grond uiteindelik aan die regmatige eienaars gegee word, is daar nog die burokratiese rompslomp. Dit gaan mense eindeloos frustreer.

Maar kom ons veronderstel daar word ook oor dié hekkie gespring. Dan is daar nuwe uitdagings, soos waar die kapitaal vir besproeiing, vee, trekkers, sade en bemesting vandaan gaan kom.

Waar moet hierdie nuwe grondeienaars dus gaan aanklop? By die Openbare Beleggingskorporasie of die Landban, waarskynlik. En ons weet hoe die rentekoerse ons almal laat op en af spring.

Maar soos ’n inwoner by die openbare sittings op grondhervorming vir Mosiuoa Lekota, leier van Cope, Woensdag in Noordwes gesê het: “Of jy daarvan hou of nie, ons vat die grond.”

Finish en klaar.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Grondkwessie  |  Rubriek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.