Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grond en die geskiedenis

Die Wet op Naturellegrond van 1913 is die hoeksteen van enige gesprek oor grondonteiening of grondeise in Suid-Afrika. Bill Nasson besin oor wat die doel van die wet was, die gevolge daarvan en wat dit beteken het, en hoe dit deesdae gesien moet word.

’n Werker ploeg met ’n muil op ’n vrugteplaas in die omgewing van die Paarl. Die foto is circa 1900 geneem. Foto: GETTY IMAGES

Die grondvraagstuk staan tans sentraal in die land.

En daarmee saam heelwat omstredenheid om politici, rubriekskrywers, professionele twissoekers, populiste, beswaarlik bekwame lede van die parlement, verslaafdes aan sosiologie-konferensies en histeriese politieke partye met ’n wrok en voorliefde vir uniforms besig te hou.

Wanneer geskiedenis die openbare gespreksruimte in Suid-Afrika betree, was dit nog altyd met ’n spesifieke verontwaardiging omgewe.

Deur die verlede in herinnering te roep of klem daarop te lê, word dit eenvoudig ’n kapstok vir ’n hele reeks botsende houdings, waardes en vereenselwigings.

As strydende partye hulself boonop groot vryhede gun wanneer hulle met die feite omgaan, word geskiedenis bloot die herskepping van die verlede om by die hede in te pas.

Lesers mag byvoorbeeld onthou dat oudpres. Jacob Zuma met die 2013-herdenking van 1913 se Wet op Naturellegrond apartheid die skuld gegee het.

Wie weet, miskien het hy D.F. Malan en Louis Botha verwar.

Gegewe dat dié wet die hoeksteen is van enige gesprek oor grondonteiening of grondeise in Suid-Afrika, is dit beslis die moeite werd om te besin oor presies wat die doel daarvan was, die gevolge daarvan en wat dit beteken het of hoe dit nou gesien moet word.

Soos wat dikwels die geval is met sulke sake, is dit ook goed om te onthou wat die Engelse skrywer John Berger gesê het: “Die geskiedenis weier om sy mond te hou. Die tyd wat was, hou aan om voort te tik binne die tyd wat is.”

Wet van wie is geregtig op wat

Ná die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het die eerste poging om grootskaalse nasionale rasseskeiding teweeg te bring, gefokus op landelike gebiede wat vervreem is om as plase vir wit mense te dien.

Om te bepaal wie geregtig op wat was en waar mense kon bly of nie, het die regering die Wet op Naturellegrond ingestel.

Wat het dit veroorsaak? Dit het die aard van grondgebiede geklassifiseer deur ’n duidelike wetlike onderskeid te maak tussen wit plaasgebiede en reservaatgebiede wat vir swart mense ingestel is. Ná 1913 sou ’n kaart van Suid-Afrika ’n land met twee soort grondgebiede wys.

Bo en behalwe dit, het die wet nog verder gegaan deur eienaarskap te beheer. Dit het verklaar dat geen grond van die een soort gebruik na ’n ander verander kon word nie.

Die gevolg was dat swart mense nie langer grond in gebiede wat as ’n wit grondgebied toegewys is, sou kon koop nie. Net so sou wit mense ook nie grond in swart reservate kon bekom nie.

Die bepaling het oral buiten in die Kaapprovinsie gegeld omdat dié provinsie sy liberale tradisie behou het van ’n gemeenskaplike veelrassige stemreg wat op eiendomsreg berus.

Omdat die wet dit onmoontlik sou maak vir individuele swart mense om hul eie eiendom te besit en so as stemgeregtigdes te kwalifiseer, het die howe die wet as ongeldig in die Kaapprovinsie verklaar.

In die lig van die voortdurende aanslag op basiese regte onder segregasie en apartheid was dit egter net ’n kwessie van tyd voor die valbyl finaal sou val.

Die Kaapse ervaring toon nogtans dat die onmiddellike impak van die wet nie net ’n geval was van skielike rasse-onteiening oral nie.

Ná 1913 is sowat 87% van die land as ’n wit gebied geklassifiseer, met swart reservate wat aanvanklik tot 7% beperk is. In 1936 het dit tot 13% toegeneem nadat bykomende landelike gebiede vir swart vestiging aangekoop is.

Die einde van bywonerskap

Terselfdertyd moet in gedagte gehou word dat dit nie bloot daaroor gegaan het om ’n netjiese swart-wit- kaart van Suid-Afrika te trek nie.

Dit was ook oor ’n situasie wat sedert die vroeë 1900’s ontwikkel het waarin swart mense in die Transvaal toestemming van die howe gekry het om grond daar te koop en dit in hul name te registreer.

Die wet het ook ’n ander belangrike gevolg gehad deurdat dit die grondslag gelê het oor hoe die lewe op die grond gevoer sou word.

’n Aanvaarde en wydverspreide praktyk ingevolge waarvan wit boere ’n deel van hul grond aan swart mense beskikbaar gestel het om op te boer, het onwettig geword. Dié bywoners het jaarliks ’n deel van hul produksie as huur aan die wit grondeienaars oorhandig.

Die wet was dus gemik op die aftakeling van die eeu oue feudale stelsel van bywonerskap, waarvolgens arm kleinboere wêreldwyd – van Spanje tot Indië en die suidelike deel van Amerika – hulself onderhou het. Swart mense op plase kon nou net hul arbeid verkoop.

Baas-en-Klaas-wetgewing

Sol Plaatje, joernalis en sekretaris-generaal van die South African Na­tive National Congress, het in sy Native Life in South Africa (1916) passievol oor sy reise deur die Vrystaat en Transvaal geskryf.

Hier het hy afgekom op hartverskeurende gesigte soos eens welvarende swart kleinboere en hul gesinne rondswerf nadat hulle van hul plase afgesit is, terwyl ander feitlik oornag tot knegskap gedwing is en in armoede verval het.

Hoewel die skrif vir bywonerskap aan die muur was, is die praktyk tot minstens laat in die 1940’s hardkoppig in meer afgeleë dele van die Transvaal en elders voortgesit.

Nie alle wit boere, veral diegene wat minder welaf was, wou hul noue verhouding met kundige swart bywonerboere verbreek nie.

Dit was veral die geval waar hulle vir hul inkomste van ’n winsgewende verhouding met betroubare bywoners afhanklik was. Ook was nie almal noodwendig ten gunste van die streng rassistiese bestel wat die wet neergelê het nie.

Die wetgewing het ’n besliste rangorde van heerskappy en knegskap geskep. Die tyd was verby waarin ’n betreklik onafhanklike swart bywonerboer ’n wit grondeienaar nie as ’n baas nie, maar as ’n soort sakevennoot kon beskou.

In die plek daarvan was ’n nuwe rigiede bestel waarvolgens die wet alle swart mense die knegte gemaak het van wit mense op wie se grond hulle gebly het. Dit het hulle nie net van hul meeste regte gestroop nie, maar hulle onderwerp aan die land se hoogs diskriminerende en outoritêre Baas-en-Klaas-wetgewing.

In dié opsig kan die wet ook beskou word as ’n simptoom van landelike wit vrese ná die Anglo-Boereoorlog en die onsekerheid wat daarop gevolg het. Die konflik van 1899-1902 het verwagtinge onder sekere swart bywoners geskep dat hulle hul stand kon verbeter.

Die wet was ’n drastiese maatreël om te verseker dat enige uitdagings oor wie die sweep in die vervolg sou klap, nie verdra sou word nie.

Die besitreg oor grond wat dit neergelê het, het die mag van wit heerskappy en beheer in die landelike gebiede van die Oranje-Vrystaat en Transvaal herstel.

Nie nét rassistiese sentimente

Om te vra of die Wet op Naturellegrond en die drakoniese toepassing daarvan een van moderne Suid-Afrika se mees fundamentele rassistiese maatreëls was, is soos om te vra of die pous Katoliek is. Die antwoord is voor die hand liggend.

As die vraag egter effens anders gestel word deur te vra of dit nét deur rassistiese sentimente gemotiveer is, is daar dalk ’n ander perspektief om te oorweeg.

Die visie van die wet was ook om kommersiële landbou in ’n moderne en ten volle kapitalistiese rigting te stuur. Die vorige jaar al, in 1912, is die Landbank in die lewe geroep om groot boerderye te finansier wat volgens bestuursbeginsels bedryf word. Ouer werkwyses is as uitgedien beskou.

Skielik was die landbou-omgewing tegelyk harder en eenvoudiger – een van arm, grondlose werkers en grondeienaars wat hulself toenemend verryk het.

By die jaarlikse Jakes Gerwel-huldeblyksviering eerskomende Saterdag in Kaapstad gesels die skrywer met Andries du Toit en Tembeka Ngcukaitobi oor grond en geskiedenis. Gaan na www.jgf.org.za vir die volledige program, of stuur ’n e-pos aan Theo Kemp by theo@jgf.org.za vir meer inligting hieroor.

Prof. Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Grond  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.