Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Grond – Gaan iets verander?

As die Onteieningswetsontwerp wat dié week gepubliseer word vroeg volgende jaar deur die parlement aanvaar word, gaan geen verandering aan die Grondwet nodig wees nie.

Dan gaan dit vir almal duidelik wees dat die emosionele gronddebat van die afgelope jaar wat soveel verdeeldheid en onsekerheid gebring en beleggersvertroue geskaad het oor politieke wedywering eerder as oor grondbesit gegaan het.

Max du Preez

Vir die eerste 23 jaar van ons demokrasie het die regerende ANC nie veel oor grondbesit gevoel nie. Grondhervorming en -restitusie het teen ’n slakkepas geskied en in die Zuma-bewindstyd amper tot stilstand gekom.

Die EFF het dit toe as ’n wekroep ingevoer en die ANC het dit laasjaar oorgeneem omdat hulle geen eie ideologiese rigting het nie en deur die populisme­virus besmet is.

Die ANC het nie die inbors gehad om te weier om aan ’n proses deel te neem wat eintlik net wit burgers wil straf vir die ongeregtighede van die verlede nie.

Daar is breë konsensus dat art. 25 van die Grondwet, wat vir onteiening in openbare belang voorsiening maak, in spesiale omstandighede ook onteiening sonder enige of met min vergoeding moontlik maak.

Die Grondwet vereis dat die staat wetgewing aanvaar wat burgers in staat stel om toegang tot grond te verkry. En die nuwe Onteieningswetsontwerp is daardie wetgewing.

Dit maak, soos die adjunkminister in beheer van die opstel daarvan, Jeremy Cronin, al herhaaldelik gesê het, “eksplisiet wat implisiet” in die Grondwet is.

Dit stippel uit dat vergoeding ook nul kan wees in die volgende omstandighede: in die geval van werkers wat in ruil vir arbeid grond beset het (huurpagboere); grond wat net om spekulatiewe redes besit word; eiendom wat deur die

eienaar verlaat is; en grond waarvan die markwaarde minder is as staat­subsidies of -belegging wat daaraan bestee is.

Wat gaan anders wees as die afgelope 25 jaar?

Net die bepaling oor spekulatiewe grondbesit is omstrede en gaan waarskynlik in die konstitusionele hof getoets word. Die res gaan waarskynlik vir alle politieke partye aanvaarbaar wees.

Die wetsontwerp wil nie die Grondwet se bepaling in art. 25:1 (1) dat “geen regsvoorskrif arbitrêre ontneming mag veroorloof nie” min­ag nie.

Dit sou in elk geval in botsing wees met art. 1 (c) in die grondliggende beginsels wat die “oppergesag en heerskappy van die reg” verskans en net met ’n parlementêre meerderheid van 75% verander kan word.

Maar die ANC, onder druk van die Zuma-faksie, het onteiening sonder vergoeding nou amptelike beleid gemaak en gaan nou in elk geval voorstel dat die Grondwet verander word.

Soos ek dit verstaan, gaan bloot voorgestel word dat ’n sin by art. 25:3 (3) gevoeg word wat lui dat geen vergoeding in tersaaklike omstandighede ook as “regverdig en billik” geag kan word. Weer eens die argument van “maak eksplisiet wat implisiet” is.

Dit moet dus vir almal duidelik wees dat wat ook al gebeur daar geen arbitrêre konfiskering van eiendom gaan wees nie en dat geen kommersiële plase wat nie deur die staat gesteun word nie, onteien gaan word nie.

As dit alles gesê en gedoen is, bly die brandende kwessie steeds hoe huis- en grondloses in die stede en dorpe gehelp gaan word en hoe aspirantboere op plase gevestig gaan word. Onteiening gaan dié taak nie juis aanhelp nie.

Ons is dus terug by die staat se onbeholpenheid en korrupsie wat die proses tot dusver vertraag het. Kommersiële boere en die georganiseerde landbou sal self ’n leidende rol met landbougrond moet speel en doen dit reeds, maar wie gaan die krisis oor grondbesit in die stede oplos?

Wat gaan anders wees as die afgelope 25 jaar?

  • Du Preez is ’n politieke kommentator.
Meer oor:  Grond  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.