Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grond: Landbou het oplossings!

Interessante perspektiewe is verlede week in die parlement oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet aangehoor. Sterk argumente is aangevoer om nié die eiendomsklousule te verander nie, maar om eiendomsreg eerder na almal uit te brei.

Maar daar was ook sterk argumente om die eiendomsklousule te wysig om óf onteiening sonder vergoeding óf nasionalisering moontlik te maak.

Interessant is dat albei argumente geskoei is op soortgelyke uitkomste, soos sosio-ekonomiese geregtigheid, ekonomiese bemagtiging en volhoubaarheid, voedselsekerheid, investering, verblyfsekerheid, ekonomiese impak en nasiebou. Die verskil lê opgesluit in die rangorde van dié beginsels en die teikengroep of sektor wat in die proses bevoordeel moet word.

Die finale besluit is in die hande van die parlement. Dié se rol is wel nooit een van ’n neutrale en rasionele arbiter nie, maar een van politieke mededinging waar meerderheidsbesluite, ongeag die implikasies, die deurslag gee.

Die ondersteuners van albei argumente poog daarom om die meerderheidsbesluit te beïnvloed. En uit verskeie oorde en op verskillende maniere word inisiatiewe van stapel gestuur om steun onder politieke partye en hul
leiers te werf om die eiendomsklousule te behou soos dit tans in die Grondwet opgeteken staan of om dit te wysig.

Die geskiedenis leer ons die staat het misluk om grondhervorming suksesvol in werking te stel.

Dit is daarom van kritieke belang vir diegene met ’n argument vir die behoud van die eiendomsklousule om met ’n alternatiewe, werkbare plan na die tafel te kom. Ons weet almal ’n Grondwet-wysiging, hetsy dit op onteiening sonder vergoeding of volskaalse nasionalisering neerkom, sal nié die proses van grondhervorming enigsins bespoedig nie.

Die geskiedenis leer ons die staat het misluk om grondhervorming suksesvol in werking te stel. Die politieke elite en hul handlangers trek daaruit voordeel en beslis nie die massas nie. Verder loop ons die gevaar dat die “towerstaf” van onteiening sonder vergoeding nié grondhervorming tot voordeel van die armes sal bespoedig nie, maar eerder die bestaande netwerk van patronaatskap sal bevoordeel. Talle plaaslike en internasionale studies en gebeure getuig daarvan.

So wat moet die landbousektor na die tafel bring om suksesvolle grondhervorming mee te bring? Eerstens moet so ’n plan fokus op die ontwikkeling en vestiging van swart boere op hul eie grond. Kommoditeite en landboumaatskappye help reeds om derduisende opkomende boere toegang tot markte te gee, maar ’n plan is nodig om dit in vennootskap met die regering uit te brei. Tot 300 000 opkomende swart boere kan in kommunale gebiede, op munisipale en staatsgrond en op kommersiële plase in staatsbesit bygestaan word met hul boerderye en om eienaarskap te kry.

3 000 swart kommersiële boere kan in vennootskap met die Landbank en kommersiële landbou bygestaan word om hul eie plase te bekom en bemagtig word om op groot skaal te produseer.

Tweedens moet so ’n plan op verblyfsekerheid fokus. Die konsep van plaaswerkerdorpies wat deel vorm van ’n plaaslike landbousone waarin werkers hul eie huise en daarmee saam ’n lappie grond besit, word reeds in die praktyk uitgerol.

Talle aktiwiteite wat gemik is op verdere waarde-ontsluiting van landbouprodukte kan in so ’n sone plaasvind. Plaaswerkerfamilies kan dit in vennootskap met kommersiële landbouers beoefen. 800 000 plaaswerkers kan só hul eie eiendom bekom en entrepreneurskap op klein skaal word só aangemoedig.

Om die bestaande eiendomsklousule en eiendomsreg te verdedig is een ding. Deur dié voordeel ook met behulp van ’n eenvoudige tweepuntplan vir die massas te ontsluit, gee ons uitvoering daaraan in die praktyk. Dís nasiebou in aksie!

 Van der Rheede is uitvoerende adjunkhoof van Agri SA.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.