Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Willie Spies: Grondbesit in SA het só begin
Willie Spies

Elke eerstejaar-regstudent leer dat die reg uiteenval in twee hoofafdelings: privaatreg en publieke reg.

Privaatreg gaan oor die verhouding tussen regsubjekte onderling en hul regte ten opsigte van regsobjekte. Regsubjekte van die privaatreg is persone en regsobjekte is sake soos eiendom, geld, beleggings en grond.

Die publieke reg gaan weer oor die verhouding tussen owerhede en hul onderdane, en ook die onderlinge verhoudinge tussen state, organe van die staat, provinsies en munisipaliteite.

Grond se belang vir die publieke reg is dat dit ’n regsgebied bepaal. Met ander woorde, in die privaatreg is grond ’n saak of kommoditeit. In die publieke reg is grond ’n gesagsgebied of deel van ’n gesagsgebied van ’n munisipaliteit, ’n provinsie, ’n staat of ’n heerser.

In die feodale bedeling van Europa in die Middeleeue, asook elders in die wêreld was die onderskeid tussen die publieke regtelike en privaatregtelike belang van grond nie so duidelik nie, want feodalisme het behels dat die eienaar van die grond ook die gesaghebber oor die gebied is waar die grond geleë is.

Die adellike grondbaron het reg en orde op sy grond toegepas; hy was die koning se verteenwoordiger en belastinggaarder. Die feodale stelsel het in Europa plek gemaak vir demokrasie en individuele grondbesit. Daarmee saam het die klassestelsel in sekere gevalle deur bloedige revolusies, soos in Frank­ryk en in ander gevalle soos Brittanje, evolusionêr vir groter gelykheid van klasse en opwaartse sosiale mobiliteit plek gemaak.

Vir Afrika was dit anders. Grondbesit was en is steeds in tradisionele gebiede kommunaal.

Die welvarende burgerstande wat ontwikkel het, het ook eiendomsreg oor grond verkry en sodoende het die onderskeid tussen die publieke regtelike en privaatregtelike aard van grond ’n vanselfsprekende realiteit geword – maar nie vir die hele mensdom nie – slegs vir diegene vir wie die geskiedenis van Europa se oorgang van feodalisme na gelykheid deel van hul erfenis is.

Vir Afrika was dit anders. Grondbesit was en is steeds in tradisionele gebiede kommunaal. Konings en stamhoofde het stamgrond aan onderdane beskikbaar gestel en weggeneem indien ’n onderdaan in onguns verval.

Dit gebeur steeds. Op ’n manier herinner die tradisie en stelsel van grondbesit in Afrika sterk aan die feodale stelsel van Europa. Juis daarom bestaan die duidelike onderskeid tussen die privaatregtelike en publieke regtelike aard van grond nie in Afrika nie.

Grond is nie net ’n kommoditeit nie, maar ’n magsmiddel. Marxistiese organisasies soos Zanu-PF in Zimbabwe en die ANC en die EFF speel sterk in op dié heersende Afrika-tradisie van grondbesit, met die uitsondering dat die grond nie in die tradisionele leier setel nie, maar in die staat – vandaar die Zoeloe-koning se onlangse verontwaardiging.

Die kolonisasie van Afrika het ’n politieke orde geskep waarin koloniale moondhede die owerhede van Afrika-gemeenskappe was. Grondbesitpatrone in tradisionele gebiede was volgens die Afrika-tradisie, maar in gebiede onder koloniale beheer is met grond gehandel asof dit ’n kommoditeit is (te midde van ’n paradigma wat in Europa gegeld en ontwikkel het – maar ongelukkig vreemd in Afrika is).

Vandag is grondbesit in Suid-Afrika disproporsioneel tot die bevolkingsdemografie. In sy outobiografie het wyle prof. Carel Boshoff, wat jare ’n predikant in Soweto en in Mpumalanga was, voorspel dat grond die groot strydpunt sou bly en Zoeloe-nasionalisme na vore sou tree. Sy pleidooi was dat die onversoenbare gronddebat tot ’n politieke skikking oor selfbeskikking in ruil vir ’n nuwe eiendomsbedeling moet lei. Gegewe die onversoenbare uitgangspunte in die gronddebat, was Boshoff profeties.

Spies is 'n prokureur verbonde aan AfriForum en betrokke by Pretoria FM.

Meer oor:  Afrika  |  Eiendom  |  Sa  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.