Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grondoudit: Nóú kan ons debatteer

Die eerste ordentlike oudit van Suid-Afrika se landbougrond sal hopelik lei tot meer produktiewe en verantwoordelike grondhervorming, skryf Liezel de Lange.

Die 1994-mikpunt vir grondeienaarskap in Suid-Afrika is binne sig – ondanks eerder as danksy ons lamlendige regering.

En ook ondanks, eerder as danksy, ons lamlendige regering weet ons uiteindelik wat die ware toedrag van sake is wat grondbesit betref. Want weer moes iemand anders inspring om die regering se werk te doen – naamlik om behoorlike, betroubare data te kry om besluite en beleid oor grondhervorming te help rig.

Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, het in Augustus gesê die grootste struikelblok vir die grondhervormingsprogram is om vas te stel aan wie grond nou eintlik behoort. Fase twee van die departement se grondoudit is glo klaar, tog is die regering om die een of ander rede uiters traag om dit bekend te stel.

Ook in Limpopo en in die Oos-Kaap besit swart boere al meer as die helfte van landboupotensiaal.

Maar dis seker nou water onder die brug, want danksy die burgerlike samelewing (Agri SA) en die media (Landbouweekblad) is ’n omvattende, deeglike grondoudit teen ’n koste van R1 miljoen gedoen en kan ons uiteindelik (ná 23 jaar) op grond van feite hieroor debatteer.

Suid-Afrika se eerste demokraties verkose regering het met die oorgang in 1994 gesê altesame 30% van landbougrond moet teen 2014 aan swart boere behoort. Oor of ’n raps minder as ’n derde genoeg is, is ’n debat vir ’n ander dag.

Luidens die ekonoom Johann Bornman se grondoudit besit swart mense sowat 26,7% van landbougrond in Suid-Afrika. Dié boere beheer ook al 46% van Suid-Afrika se landboupotensiaal (as byvoorbeeld die drakrag van die grond en toegang tot hulpbronne soos water bygereken word).

In KwaZulu-Natal besit swart boere al 73,5% van landboupotensiaal en 45,4% in oppervlakte van landbougrond. Ook in Limpopo en in die Oos-Kaap besit swart boere al meer as die helfte van landboupotensiaal en wesenlike hoeveelhede grond.

Regering het min te doen met werklike vordering

Die regering het sedert 1994 al meer as R50 miljard aan verskillende grondhervormingsprojekte (waaronder ook restitusie) bestee. Maar die Agri SA-Landbouweekblad-grondoudit wys die werklike vordering wat gemaak is met die transformasie van grondbesit het eintlik min met ons regering uit te waai.

Die nasionale regering het sedert 1994 2,1 miljoen hektaar landbougrond aangekoop vir herverdeling en die munisipaliteite nog rondom 600 000 hektaar, lui Bornman se verslag. Swart mense het in dieselfde tydperk 5,1 miljoen hektaar vir landbougrond én nog 1,7 miljoen hektaar vir ander gebruike gekoop.

En die ergste van alles is dat die heel armste Suid-Afrikaners weer in die steek gelaat word.

Só het baie meer grond in die vrye mark van eienaars verwissel as waar die regering sy vingers in die pastei gehad het. En die ergste van alles is dat die heel armste Suid-Afrikaners weer in die steek gelaat word.

Die meerderheid grond het swart eienaars gekry danksy mense wat kapitaal in die hande kon kry en wat dus hulpbronne tot hul beskikking het. Dis dieselfde tragiese, jammerlike verhaal wat hom afspeel soos by soveel ander regeringsdepartemente. Waar onbevoegdheid en rompslomp dienslewering in die wiele ry ten koste van die heel armste, mees desperate Suid-Afrikaners.

Dink maar aan die volgehoue gemors met basiese onderwys in provinsies soos die Oos-Kaap en Limpopo en die meer as honderd psigiatriese pasiënte in Gauteng wat weens uiters swak, onverantwoordelike en ongevoelige bestuur dood is. Wit én swart Suid-Afrikaners wat geld het, kan plase, goeie onderwys en behoorlike mediese dienste koop.

Onsekerheid strem beleggings in landbou

Dis goeie nuus dat minstens 26,7% van landbougrond al in swart Suid-Afrikaners se hande is. Maar dink net hoeveel verder ons al sou gevorder het as die regering ook behoorlik sy deel bygedra het. Dan was ’n klomp bitterlik arm landgenote nou al bemagtig én ekstreme, belaglike en pleinweg simpel planne en beloftes vir politieke gewin was onnodig.

Liezel de Lange.

Behalwe vir misdaad, is grondhervorming die mees emosionele onderwerp in die Suid-Afrikaanse politieke landskap met al wat ’n politieke party is wat die bal (gewoonlik op erg onverantwoordelike wyse) rondskop om sy eie agenda te pas. Daarmee saam begin die regering dan omstrede en uiters onpraktiese voorstelle maak - soos om die grootte van plase te beperk (probeer op 500 hektaar met skaap boer in die Boesmanland) of dat boere voor die voet die helfte van hul grond aan hul werkers gee.

Die rondvallery met beleid en die belaglike lang prosesse om grond oorgedra te kry skep geweldige onsekerheid onder boere en bring mee dat hulle uiters traag is om in boerdery te belê. Dit hou natuurlik weer verreikende gevolge vir voedselsekerheid in. Landbou vorm ook ’n baie belangrike deel van ons ekonomie deurdat dit meer as 800 000 werkgeleenthede skep én rondom 2,5% tot die BBP bydra.

Agri SA stel Woensdag die volledige verslag by sy kantore in Centurion bekend. Dit sal sekerlik nog dieper insigte bring wat alle Suid-Afrikaners (en veral politici) kan help om produktief en veral verantwoordelik met die grondhervormingsproses om te gaan.

Dankie daarvoor, Agri SA, Bornman en Landbouweekblad.

* De Lange is Rapport se besturende redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.