Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grondplan: Ramaphosa se opsies beperk
Willie Spies

Terwyl TV-kykers verlede week in afwagting was om te hoor wie die verkiesing in Zimbabwe gewen het, is die uitsendings van die SAUK se nuuskanaal onderbreek vir die nou reeds veelbesproke aankondiging deur Cyril
Ramaphosa, ANC-president.

Die aankondiging dat die ANC kennis geneem het van die sterk sentiment ten gunste van ’n Grondwet-wysiging om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en dat die party dus ’n wysiging steun om die omstandighede waarin grond sonder vergoeding ont­eien kan word duideliker uit te spel, het skokgolwe deur die land gestuur.

Mondli Makhanya, redakteur van City Press, skryf dat Suid-Afrika nog hierdie dag sal berou waarop ons, net soos Zimbabwe 18 jaar gelede, respek vir die oppergesag van die reg verruil het vir populisme.

Selfs Adriaan Basson, News24-redakteur wat drie maande gelede nog kwaad was vir AfriForum oor dié se veldtog om die internasionale wêreld bewus te maak van die regering se planne om grond sonder vergoeding te neem, het pas in ’n rubriek te kenne gegee dat hy nie meer seker is of ons dalk wel op pad is om ’n tweede Zimbabwe te word nie.

Onsekerheid oor waarheen die wetgewende raamwerk gaan ontwikkel, het reeds ’n regsvakuum geskep waarbinne anargie en gewelddadige grondbesettings deur ongeduldige massas aan die orde van die dag is.

As die ANC die Grondwet wil wysig, benodig hy die steun van ses provinsies in die Na­sionale Raad van Provinsies en minstens 267 uit die 400 lede in die Nasionale Vergadering (NV).

As die ANC die Grondwet wil wysig, benodig hy die steun van ses provinsies in die Na­sionale Raad van Provinsies en minstens 267 uit die 400 lede in die Nasionale Vergadering (NV).

Dié party kan maklik ses provinsies se steun kry, want hy regeer agt uit die nege, maar 267 lede van die NV is ’n ander saak. Die ANC het 249 setels in die NV.

Om die Grondwet te verander, het hy dus die samewerking van minstens nog 18 LP’s nodig.

Die 25 EFF-lede is dus een opsie en waarskynlik die eenvoudigste, maar gevaarlikste. Die EFF se uitgesproke beleid en doel is dat alle grond genasionaliseer word en slegs by wyse van 25 jaar-konsessies as huurpagte beskikbaar gestel word. Dit is dus onseker of dié party ’n wysiging van art. 25, wat slegs uitsonderings skep waaronder grond sonder vergoeding onteien gaan word, sal steun.

Die IVP sal net saamstem as die tradisionele gebiede wat deel van die Ingonyama Trust is veilig onder die Zoeloekoning se hand bly.

Dit laat die ANC met twee ander opsies: om met die DA se 89 lede saam te werk (wat onwaarskynlik is weens die DA se onwrikbare verbintenis om art. 25 onveranderd te laat) of om met van die kleiner partye, soos die IVP, NFP, UDM, VF Plus, Cope, ACDP, AIC, PAC, APC en Agang, se totaal van 37 lede (waarvan tien van die IVP kom) saam te werk.

Die IVP sal net saamstem as die tradisionele gebiede wat deel van die Ingonyama Trust is veilig onder die Zoeloekoning se hand bly. Die VF Plus, Cope en die ACDP se teenkanting teen onteiening is weer oorbekend.

Ramaphosa se opsies is dus baie beperk. Hy sal óf die vernietigende besluit moet neem om op die EFF se voorwaardes te wysig aan die Grondwet en alle grond te nasionaliseer óf die potensiële vernedering moet sluk dat sy voorgestelde beperkte wysiging nie die vereiste 267 stemme in die NV oplewer nie.

Terwyl ons onseker is oor wat presies die bewoording van die moontlike Grondwet-wysiging gaan wees, is enigiets steeds moontlik.

Hoe ’n mens ook al daarna kyk, Ramaphosa het ’n afdraaipad gekies waarop die risiko’s vir hom en sy party, maar die belangrikste van alles – die reg en die ekonomie – onmeetbaar groot en gevaarlik is.

Spies is ’n prokureur by die regsfirma Hurter Spies Ing. in Pretoria.

Meer oor:  Grondplan  |  Grondonteiening  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.