Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As die Dorsland na ‘jaloersbuie’ verlang
Grondvas in ’n bittere droogte
Teenaan die grond in ’n bitter droogte

Binnegesprekke oor verlies, woede en wanhoop is byna hoorbaar in die verlate plaashuis op Smousklok, ’n klipgooi van Vanwyksvlei af.

’n Stootwaentjie staan soos ’n nagedagte in die gang. Fakture vol stof lê op die tafel van die boer wat moed opgegee het.

Die huis is leeg. Die Vosse woon nie meer hier nie.

'n Jong seun dra 'n skapie oor die dorre droë vlaktes van die Dorsland. Daar is krake in die grond wat oopmond lê en wag vir die donker wolke om druppels te laat val. Foto: Mlungisi Louw

Berdine Vos bly nou in ’n tweeslaapkamerhuis op die dorp.

Sy het dit sien kom, vertel sy, opgekrul op die rusbank in die woonkamer, met haar sigaret se rook wat bo haar kop dwarrel. Sy verwys na die gebeure daardie noodlottige oggend.

Haar wêreld het ineengekrimp toe Kobus skielik weg is.

Nou moet sy probeer sin maak van alles, hier in haar nuwe woning. “As jy omdraai, loop jy in jouself vas.”

Joe Scholtz by een van sy skape wat hy aan die droogte moes afstaan. Die wolke bo hom hang vol swaar beloftes. Foto: Mlungisi Louw

Waar niksheid die vlaktes vol lê

Vroeër die dag groet ’n hartseer bries in die Noord-Kaapse lug die konvooi van Toyota-bakkies wat soos skepe op die see oor die vlaktes aangekruip kom.

Die bakkies is deel van ’n mediatoer en is vol stadsmense wat wil kom kyk watter stories opgesluit lê hier waar die niksheid die dorre landskap vol lê.

Dis die Dorsland van die sentrale Noord-Kaap. Hier waar die enigste teken van lewe tussen die plase die voëltjies is wat huis soek in versamelneste wat om die kragpale langs die pad aan mekaar geweef is.

Hier moes 12 boerderye in die afgelope 10 jaar hul hekke sluit. Die droogte het die mense hier van alles gestroop.

Hoewel die plaasmense met leë voerbakke en veekrale gelaat is, kon die droogte hulle een ding nie ontneem nie: Hoop.

Al is dit net ’n bietjie, is dit al wat hulle het om aan vas te klou.

Carel en Shanie van der Merwe is vol blydskap oor die boks wat hulle as deel van die boks-vir-'n-boervrou-projek gekry het, al die pad van die inwoners van ’n huis vir gestremdes op Brandfort. Foto: Mlungisi Louw

Van Brandfort na Stofbakkies

Op die plaas Stofbakkies by Carel en Shanie van der Merwe word ons soos verlore kinders met ope arms verwelkom.

’n Feesmaal wag op die kombuistafel.

Ons hang aan Carel se lippe terwyl hy ons vertel van sy boerdery. Hy is vol staaltjies en lag omtrent met elke sin binnemonds. Hy lyk gelukkig.

Skielik raak hy vasgevang in sy eie storie wat ons lei na ’n huis vir gestremdes in Brandfort. Inwoners van die huis het as deel van die boks-vir-’n-boervrou-projek vir hom en Shanie ’n pakkie gestuur.

Met die herinnering aan dié gebaar breek die sluise. Hy snik as hy vertel van die goedheid en omgee van hierdie mense.

Die droogte het die mense van Vanwyksvlei tot teenaan die grond gedruk.

Hulle verwys daarna as ’n “gelykmaking”.

“Die droogte vat ’n mens ondertoe; hy druk jou tot teenaan die grond,” sê Carel deur sy trane.

“En as jy daar onder is, steek ’n mens maar jou trots in jou sak en aanvaar die hande van mense wat jou wil ophelp. Soms is daardie mense 1 000 km ver en het hulle dalk nog minder as wat jy het.

“My helpende hande was van inwoners van die huis vir gestremdes op Brandfort.”

Op die plaas Kromvlei in die Vanwyksvlei-distrik hardloop die skape soos opgewonde kinders agter die bakkie aan. Die bakkie wat aangery kom, is vir hulle die teken dat dit etenstyd is. Dit bring hul enigste voeding van die dag. Foto: Mlungisi Louw

Die drie droogtes op Patrysfontein

Oom Joe Scholtz staan en gesels op die droë aarde waarop sy familie sedert 1919 boer.

Dit lyk asof iemand die hemel hier met ’n kombers toegegooi het, ’n lappieskombers wat uit wolkeblokkies van verskillende skakerings van grys aan mekaar gelas is.

Terwyl hy praat, beduie oom Joe na die voerkraal waar die skape opgewonde blêr.

’n Bakkie kom aangery wat beteken dit is voertyd. Die skape weet dit. Dis hul enigste maaltyd van die dag.

’n Mens wonder hoe ’n merino, wat eintlik beter in die Oos-Kaap aard, in dié dorre dele kan oorleef.

Hy antwoord ’n onuitgesproke vraag: “ ’n Dier is soos ’n mens, aanpasbaar in enige situasie en omgewing. As jy hom lank genoeg aan ’n omgewing of toestand blootstel, sal hy daar al hoe gemakliker sy voete vind.”

Oom Joe kyk na die lug met die grys wolke vol belofte en sê: “My kind, weet jy, as dit gaan reën, reën dit nie geld nie en dit reën ook nie veld nie.

“In die drie droogtes wat ek op die plaas oorleef het, is die enigste ding waaroor ek seker is, dat elke opdraand ’n afdraand het. Ek hoop dat ons afdraand naby is.”

Op die plaas Kromvlei in die Vanwyksvlei-distrik hardloop die skape soos opgewonde kinders agter die bakkie aan. Die bakkie wat aangery kom, is vir hulle die teken dat dit etenstyd is. Dit bring hul enigste voeding van die dag. Foto: Mlungisi Louw

‘Verlore in die wind en donker weer.’

In die skousaal op Griekwastad is die atmosfeer gelaai met ’n gekletter en ’n geklets.

Die boere lag en kinders speel, klim en klouter oor sakke hondekos en bokse vol hulpmiddels wat elke gesin kan huis toe neem.

Die bokse is soos ’n wegneemete, ’n boksie vol oorskiet-hoop van die aand se geselligheid waaraan hulle die volgende dag nog kan peusel.

Almal wag op die optrede van Elvis Blue wat later sou begin. En gesels saam.

“Ja, ons het vanmôre tot 04:00 toe die land se probleme sit en oplos,” vertel ’n man in die kroeg agter in die saal aan sy vriend terwyl hy vir hulle elkeen “brannas en coke” skink.

“Ons het nie eers genoeg vrae gehad vir al ons antwoorde nie,” voeg hy met ’n skewe glimlag by.

“Op al die probleme, behalwe die droogte.”

Carel van der Merwe word deur sy emosies oorweldig toe hy praat oor die impak van die droogte. Foto: Mlungisi Louw

Dit is opvallend dat die boere wat hier so luidkeels lag, die hartseer in hul oë met grappies probeer verbloem. Die emosies lê soos opgedamde poele wat hulle oor hul lande wil uitstort.

Met ’n kitaar in die hand loop Elvis Blue die saal binne en neem sy plek op die verhoog in.

Sy verhoog is vanaand nie ’n struktuur wat hom bo die skare uitlig nie.

Vanaand sing hy bloot vanaf ’n oopgerolde mat wat hom op dieselfde vlak as die skare laat. So kan hy hulle in die oë kyk terwyl hy hul gemoed probeer lig.

Soos sy vingers oor snare tokkel, begin die luisteraars se voete ritmies saam lewe kry.

Die musiek neem hulle saam op reis, die lirieke van die openingslied, “Rede om te glo”, wat met hul harte praat.

“Elke mens het ’n storie

Elke mens het seer

Ek was al heel verlore

in die wind en donker weer

My wildernis was groot

en my beursie leeg

Toe gee jy my ’n rede,

’n rede om te glo . . .”

Aan die tafel oorkant my sit die man wat vroeër gelag het oor sy en sy vriende se vermoë om probleme op te los. Dit is asof die lied oor die wind en die donker weer al sy oplossings kom wegwaai het. Sy probleme lê weer swaar in sy oë. Sy vrou sit haar hand saggies op sy been.

'n Reënmeter hang teen ’n paal, ’n nagedagte aan die reën wat nege jaar laas hier geval het. Foto: Mlungisi Louw

‘Jaloersbuie’ oor die Dorsland

Die Toyota-bakkies verlaat die Dorsland twee dae later.

Die insittendes stomgeslaan deur die werklikheid van die leegheid wat die droogte agtergelaat het. Hoe dit die bewoners van die Dorsland geplunder het van voer, vee en inkomste.

Al wat oorbly, is die skakerings van hoop wat in die donker wolke oor die vlaktes opgesluit lê.

’n Week later laat weet Shanie dat die “jaloersbuie” oor die Dorsland losgebars het.

“Daar is mense wat 10 mm gehad het, maar op plekke soos op die dorp self en by ons huis steeds niks.

“Ons is dankbaar vir elke druppel, maar wag nog vir die alles-orals strome van Bo!”

Berdine se oë weerspieël die pyn, soos die droë veld weerkaats in die toe vensters van die huis op Smousklok wat nou al ’n jaar en ’n half toe staan.

Dis daar waar Kobus nie meer kans gesien het vir die droogte nie.

Sy sidder steeds as sy vertel van die skoot daardie oggend. Sy was te laat om te keer.

Vra jy haar oor die jaloersbuie, is haar antwoord reguit:

“Fokkol, niks reën nie. Ek moet nog coke by my brannas drink. Daar is nog nie water vir whiskey nie.”

Dít is oorlewing in die Dorsland: Gebed en brandewyn.

Meer oor:  Vanwyksvlei  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.