Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grondwet geëien as menslikheid gesien word
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode. Foto: Nelius Rademan

In 1994 is ons verbeelding aangegryp deur die moontlikhede van ’n nasie wat in vrede kan saamleef. Toe skryf ons ’n Grondwet.

’n Vriend van my – diep uit die struggle-gemeenskap – het pas ’n doktorale tesis geskyf oor die vraag wat ’n Grondwet laat werk. Hy vertel “grondwet” beteken “om saam te staan”.

Ek en my vriend kom uit heeltemal verskillende agtergronde. Ons behoort eintlik nie veel vir mekaar te sê te hê nie. Maar ons het ons begin verbeel dat ons tog die saamstaan-ding moet kan doen. Toe toets ons dit in ’n indringende gesprek. Ons het goed na mekaar geluister en algaande mekaar se menslikheid ontdek, ondanks die vermeende diep verskille.

Ons het ontdek ons deel dieselfde vrese en drome. En toe, dat ons voorkeure en voorliefdes ook in talle gevalle verbasend ooreenstem. En ons ontdek ook dat ons gedeelde drome vir ons kinders en hul vooruitgang het.

En ons ontdek dat ons dit graag vir mekaar moontlik wil maak om saam op die grondjie van ons nasionale Grondwet te staan. Hoekom?

My vriend sê dis omdat ons mekaar se menslikheid sien en beleef. Hy sê grondwette word nét diegene se grond wat oortuig is dat hul menslikheid raakgesien word. So het hy in sy navorsing bevind, en so kon ons teenoor mekaar uit eie ervaring getuig.

En ons ontdek ook dat ons gedeelde drome vir ons kinders en hul vooruitgang het.

Die ongeluk is dat baie uitgesluit voel van die nasionale gronde vir saamstaan. Hulle het nie werk nie. Hulle het nie geleenthede om deel van die hoofstroomekonomie te word nie. Hulle het nie toegang tot goeie onderrig nie. Hulle het nie toegang tot grond of eiendom nie. Hulle het baie min kapasiteit om vir hulself te beding.

Dit alles laat hulle ten diepste voel dat hul menslikheid geminag word. Dit maak hulle seer. Dis soos hulle dit sien.

Hulle vind dit baie moeilik om die saamstaan-ding te beoefen. Vir hulle is dié wat op die saamstaangrondjie tuisvoel, die rykes en die suksesvolles en die geleerdes en die maghebbers.

My vriend sê ons staan op ’n kruispad. Hy het nog nooit gesien dat mense so kwaad is nie. Dit maak hom baie bang. Hulle is lankal nie net meer kwaad vir die wit mense nie. Hulle is ook kwaad vir die regering wat baie mooi woorde het oor hul menslikheid terwyl die vermorsing van geld deur wanbesteding en korrupsie voortduur.

Ons het weer nuwe verbeelding nodig, soos toe mense in 1994 amper mal gedink het dat ons dit saam kan maak. Ons, die gelowiges van Suid-Afrika, moet ons verbeel, groot verbeel, ons kan die land gesond maak.

Ons verbeelding moet vrye teuels kry sodat ons in elke stad en dorp die onwaarskynlikste mense byeen sal kry om na mekaar te luister. Ons moet die seerkry en die woede uithoor.

Sê nou maar net ons ontdek mekaar se menslikheid – sal ons nie dan ook die grond van die Grondwet saam kan betrek en as ’n nasie in vrede kan saamleef nie? Ons het meer as ’n Grondwet nodig. Ons kort die Drywer van versoening en vrede en drome van ’n nuwe wêreld vol liefde en goedheid.

  • Janse van Rensburg is die voorsitter van die moderamen van die NG Kerk.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.