Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grondwet is g’n net Zuma s’n

‘Ek vertrou ons sal almal die proses respekteer en geen hindernisse skep om te verhinder dat die kommissie sy werk doen nie.”

Aan die woord is niemand anders nie as Jacob Zuma toe hy in Januarie 2018 aangekondig het dat adjunkhoofregter Raymond Zondo die kommissie van ondersoek na staatskaping sal lei.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Vandeesweek was hy self ’n reusagtige struikelblok wat wou verhinder dat die kommissie sy werk doen met sy redenasie dat Zondo ’n belangekonflik het en hom moet onttrek.

Zondo het tereg bevind dat dit bog is, waarop Zuma hakke gewys en aangedui het dat hy nie voor Zondo sal verskyn nie. Dawie was nie verras nie.

Ten einde die integriteit en aansien van die kommissie te beskerm is dit nodig dat Zondo strafregtelike stappe doen om Zuma voor stok te kry weens sy minagting van die kommissie.

Dieselfde soort minagting was ook te sien toe Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, die identiteit van ’n anonieme getuie verklap het in weerwil van die kommissie se bevel dat dit geheim bly. Ook teen haar moet streng opgetree word. Dit gaan egter ook oor veel meer as ’n minagting van die kommissie.

Zuma en sy populistiese trawante het nog altyd ’n diepgewortelde minagting vir die Grondwet, die ganse regbank en die regsproses in die algemeen gehad.

Dit is hierdie einste minagting wat aan die werk is wanneer Zuma die strafsaak op klagte van korrupsie teen hom afmaak as ’n politieke komplot.

Terwyl daar tot dusver géén bewyse daarvoor is nie, het Zuma nog nooit enige moeite gedoen om sy minagting vir die Grondwet en die regbank weg te steek nie.

Hy het by geleentheid selfs verklaar dat hy ’n hersiening van die oppergesag van die Grondwet wil hê, omdat die regters wat in die konstitusionele hof sit foute kan maak.

Die Grondwet is oplaas “nie God nie”, lui die Evangelie van Jacob.

Die Grondwet behoort aan alle Suid-Afrikaners, en dis nie Zuma se plek om dit op te skeur nie.

Daaragter lê ’n enorme drogredenasie oor die aard en funksie van ons internasionaal gerespekteerde Grondwet.

Zuma reken tereg dat regters van die konstitusionele hof aangestel en nie verkies nie word.

Daarteenoor is die ANC-regering demokraties deur die mense verkies. In sý ontleding reken Zuma dus dit is onregverdig dat onverkose regters die besluite van die ANC se verkose verteenwoordigers ongedaan kan maak.

Hierdie gevaarlike populistiese denke bestaan in sekere dele van die ANC steeds voort en het allermins saam met Zuma die politieke wildernis ingegaan.

En namate ander agente van staatskaping uit die Zupta-era in die beskuldigdebank aantree, sal die populistiese refrein oor die Grondwet en regbank toenemend opklink.

Uiteraard berus dit op ’n wesenlike wanbegrip van die noodsaak van wigte en teenwigte in ’n demokratiese bestel.

Maar soos pres. Cyril Ramaphosa baie goed weet, is daar hard vir ons Grondwet baklei. Die perke op mag daarin is maklik om prys te gee, maar moeilik om te herwin.

Die instellings waaraan die Grondwet beslag gee, is maklik om aan skade te berokken en moeilik om te herbou.

Gewone Suid-Afrikaners, die stille meerderheid wat die waarde van die Grondwet besef, sal die stem luider moet begin verhef wanneer die Grondwet onder beleg kom in populistiese retoriek of wanneer sy instellings skade berokken word.

Die Grondwet hou ook nie daarvan om in ’n lugleegte te staan nie. Dit moet inhoud kry in die toepassing daarvan; dit moet krag put uit die wyse waarop burgers dié dokument as ’n skans teen magsmisbruik vir hulself opeis.

Die Grondwet behoort aan alle Suid-Afrikaners, en dis nie Zuma se plek om dit op te skeur nie.

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.