Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Grondwet sal nie sommerso verander word
Jan-Jan Joubert

Ons lewe in ’n tyd dat krisisbelowende verwikkelinge dikwels die nuussiklus dryf. En gereeld is dit bedreigings wat die hele bestaande orde in die land kan laat ontspoor, so voel dit.

Tans sluit dié kwessies in die nasionale gesondheidsversekering, Eskom, die land se fiskale posisie en die moontlikheid van ekonomiese beleidsontsporing weens die druk van ’n moontlike staatsdiensstaking. Baie sou ook onteiening sonder vergoeding hieronder lys.

Maar hier is die goeie nuus: Op die oog af is die gevare van die voorgenome wysiging aan art. 25 van die Grondwet afgeslaan. Tensy iets drasties en onverwags verander, is dit nie wiskundig moontlik dat ’n wysiging hieroor aanvaar kan word nie. Dit ten spyte daarvan dat die ANC, EFF, IVP en ’n paar kleiner partye twee jaar gelede in die parlement gestem het dat die Grondwet gewysig moet word.

Wat sedertdien gebeur het, is baie eenvoudig en baie belangrik: Die ANC, EFF en IVP kan glad nie saamstem oor hóé die Grondwet moet verander nie. Dít bied ’n insiggewende blik op die stand van ons politiek. Eerstens was daar die bruisende opwinding by die meeste swart LP’s toe besluit is om die Grondwet te verander. Dit was eg en dit moenie vlak gekyk word nie. Wie beweer swart mense wil nie grond hê nie, praat bog en moet dringend wakker skrik.

Die aanvanklike openbare insetvergaderings het nogmaals gewys hoe die politieke temperatuur in die land verskil. Wat geld vir die suide, geld nie die noordelike binneland nie, met die ooste (KwaZulu-Natal) oudergewoonte heeltemal eiesoortig.

Toe puntjie by paaltjie kom, kon die politieke partye ook nie saamstem nie.

Die DA, IVP, VF Plus, ACDP en Cope was onversetlik dat geen wysiging aanvaarbaar is nie. Die EFF, wie se steun aan die ANC noodsaaklik is om die drempel van twee derdes te haal, het fundamentalisties aangedring op die nasionalisering van alle “produktiewe” grond, soos landbou- en fabrieksgrond, maar nie woonerwe nie.

Die ANC het tot vandag toe nie met ’n voorstel vir die bewoording van ’n wysiging vorendag gekom nie. Daar is praatjies om die hof se rol as arbiter oor grondwaarde weg te neem en aan die minister van landbou te gee. Dit is ’n baie swak en gevaarlike idee. Wat die gebeure ons van die ANC vertel, is dat hulle huiwer oor belangrike besluite (eintlik dikwels ’n afwesige regering is), en dat hulle los en vas omgaan met fundamenteel gevaarlike voorstelle. Die EFF se beleidsrigting is oudergewoonte ongeskakeerd en misplaas.

Die DA se rol tot nou was tot heil van hul ondersteuners. Hul vlugvoetigheid om te sien dat die ANC se weglating van die hof se rol as arbiter oor grondwaarde ’n aanslag op die Grondwet se Handves van Menseregte is – wat die aanvaardingsdrempel in die parlement na 75% sal verhoog – was kundig, tydig en deurdag.

Dit lyk dus of die huidige poging om die Grondwet te verander gaan misluk. Die kwessie is egter te groot om te verdwyn. Tyd is gekoop, en moet nou oopkop en produktief gebruik word om ’n volgende krisis te vermy.

  • Joubert is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Eff  |  Grondwet  |  Politiek  |  Da  |  Anc  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.